Logo

Skitter-toneelstuk "Melk & Vleis" word kykNET-storiefilm

Nuus
27 Maart 2023
"Melk & Vleis" is gebaseer op die Griekse mitologiese verhaal van Medea, ’n vrou wat die onmenslike sal doen om haar man te straf.
Melk en Vleis Article Image

In 2017 het die toneelstuk Melk & Vleis behoorlik skoonskip gemaak toe Aardklop-kunstefees hulle toekennings ná die fees uitgedeel het. Die produksie het vyf toekennings gewen onder meer vir Paul du Toit as beste akteur aangewys en Illse Roos as beste aktrise. Marina Albertyn Struwig is vereer vir haar grensverskuiwende teks en die produksie is aangewys as die beste aanbieding.

By die Fiësta-toekennings in 2018 het Melk & Vleis ses benoemings gekry met Paul wat as beste akteur aangewys is en Marina se teks wat haar die Fiësta vir beste nuwe teks in die sak gebring het.

Op 1 April 2023 om 20:00 kry kykNET-kykers die kans om die première van die Storiefilm wat op die toneelstuk gegrond is op kanaal 144 te sien. Illse Roos is weer te sien in die rol van Medea en Paul du Toit is haar man, Johannes Meyer. Ook in die rolverdeling is Olive Strachan as Bongi, Zandile Mazibuko as Esona en Neels Clasen as die dokter Jan-Jan. Die regisseur is André Velts.

Medea, ’n onafhanklike sakevrou, bedank haar werk as aktuaris nadat sy op die sjarmante Johannes, ’n melkboer, verlief raak. Sy belê haar geld in die sukkelende plaas en probeer haar bes om in die hegte boeregemeenskap in te pas.

Bongi is die Meyers se huishulp en lojaal teenoor die familie, maar sy is bitter oor hoe min dinge vir haar en haar mense sedert 1994 verander het. Esona is haar dogter, ’n tipiese rebelse tiener wat onder haar ma se wakende oog wil kom.

Medea en Johannes word ouers van ’n seun en op die oog af is dit ’n gelukkige huwelik. Maar stille waters, diepe grond ...

Melk & Vleis is gebaseer op die Griekse mitologiese verhaal van Medea, ’n vrou wat die onmenslike sal doen om haar man te straf.

Ouderdomsbeperking is 16 vir geweld, naaktheid en taal.

Melk & Vleis wys Saterdag 1 April om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144