Logo
Projek Dina S3 Slim BB
web uni tv guide

Projek Dina

144Drama16 VL

Projek Dina terug vir ’n naelbyt-aksie derde seisoen!

Nuus
02 Mei 2023
Die bekende taakspan van Kaapstad is Mei-maand terug om weer agter die kap van vele onopgeloste sake te kom.
Projek Dina 3

Projek Dina begin 9 Mei 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en dis nie net die sake wat drama bring nie, maar ook die konstante veranderinge in die taakspan se persoonlike lewens wat almal op hol jaag.

Die derde seisoen sal 10 episodes hê en elke episode bevat een of twee verskillende sake van vermiste persone. Ronel (Chanelle de Jager), Lux (Chumani Pan) en Charlie (Kay Smith) is weer terug in die kantoor, terwyl Deon (Tim Theron) gevra is om met ’n buitelandse saak te help. So, vir die derde seisoen stel Deon vir Zander (Laudo Liebenberg) aan om oor te neem as die hoof van die taakspan.

Laudo Liebenberg is nie al nuwe gesig nie – kykers kan ook uitsien na bekende gesigte soos Deon Coetsee wat bekend is vir sy rolle in Egoli en Binnelanders. Arno Kreef, Cintaine Schutte, Frank Rautenbach en Corine du Toit is ook van die bekende gesigte waarna kykers kan uitsien.

Die taakspan werk in ’n drukkoker-omgewing – elke vermiste persoon-rapport kom terwyl die tyd sekond vir sekond uitloop. Vir elke uur wat die persoon vermis bly, verminder dit die waarskynlikheid om hulle te vind.

En natuurlik eis die tydsensitiewe en emosioneel belastende aard van die sake ’n tol op die beamptes. Die wedloop teen tyd is sielkundig uitputtend. Die emosionele eise eis ook ’n tol op persoonlike verhoudings. En wanneer jy vier verskillende persoonlikhede het wat in ’n hoë-stres omgewing werk, is interpersoonlike drama onvermydelik. Maar ten spyte van die af en toe opblaas, kom dié span altyd bymekaar wanneer dit tel.

Kykers sal onthou in seisoen twee het Ronel eindelik vir Dina opgespoor en dié twee is herenig. Maar in seisoen drie verloop dinge nie so maanskyn en rose soos Ronel gedink het dit sou nie. Dina het baie trauma om deur te werk en hoe harder Ronel probeer om haar te help, hoe meer beweeg sy weg van Ronel. Sal Ronel vir Dina kan oortuig om die waarheid te praat? Sal albei sussies hulle eie probleme in die gesig kan staar?

Aan die einde van seisoen twee het Charlie en Lux mekaar gevind en ’n romantiese soen gedeel. In seisoen drie is dié paartjie steeds in ’n verhouding, maar nie sonder probleme en uitvalle hier en daar nie. Charlie is gesond ná haar skietwond, maar sy is nog nie emosioneel op die plek waar sy wil wees nie. En die feit dat Lux uit sy pad uit gaan om vir Charlie te beskerm, veroorsaak wrywing in hulle verhouding. Charlie soek meer spasie en Lux aan die anderkant, voel skuldig dat Charlie geskiet was en wil alles in sy vermoë doen om op te maak daarvoor. Maar is dit te laat?

Die span is hartseer dat Deon hulle verlaat en het ook baie vrae oor wie die vreemde karakter is wat Deon aangestel het. Zander dink in kurwes en vier dimensies. Hy is anders as die gewone mens, maar hy is die beste speurder waarmee Deon al ooit gewerk het. Kykers sal moet wag en sien of die span oor die weg kom met Zander en of hy werklik so goed is soos Deon hom beskryf…

Roberta Jansch, vervaardiger van Projek Dina, sê die derde reeks is vol aksie, drama en spanning.

“Ronel het eindelik haar liefste suster Dina gevind, maar het sy gevind waarvoor sy al die jare gesoek het? Ons  vind uiteindelik die magnaat en ontdek baie lae van die sindikaat. Ons taakspan werk onvermoeid om die sindikaat tot ’n val te bring, maar langs die pad word elkeen swaar slae toegedien wat dreig om die hele saak te verbrokkel. Kykers is in vir ’n emosionele rollercoaster, want die hoë risiko en selfs hoër belonings druk ons span tot die absolute limiet,” vertel Roberta.  

 

#ProjekDina begin op 9 Mei 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die seisoen het Engelse onderskrifte en sal ook op Catch Up wees.