Logo
OSSS
web uni tv guide

Op Seer Se Spoor

145Dokumentêr13 V

Op Seer Se Spoor 2: Ons gesels met Ernusta

Nuus
19 Mei 2020
Die tweede seisoen van die SAFTA-bekroonde kykNET & kie-program, Op Seer se Spoor, het 28 April afgeskop op kykNET & kie, DStv-kanaal 145. Ons het met die aanbieder en artikel-redakteur van Kuier, Ernusta Maralack gaan gesels oor die nuwe seisoen en impak van hierdie program.
OSSS Artikel

  1. Hoe het julle die sake vir die tweede seisoen gekies?

Soos met die eerste seisoen, het ons stories gekies wat Kuier al oor die jare gedek het; soms stories wat ekself geskryf het toe ek nog baie in die veld gewerk het en wat ons weet lesers altyd sal bybly. Maar dan het ons ook gekyk na ’n mengsel van stories wat nie so baie aandag in die media gekry het sowel as sake wat weer groot media-aandag geniet het. En sodra ek ’n konneksie met ’n storie gemaak het, of dit is omdat dit my as ma, vrou of joernalis aanraak, het ons dit opgevolg.

  1. Watter episode sou jy sê het jou die meeste geraak en hoekom?

Ek kry hierdie vraag baie en dit bly moeilik om te antwoord, want ek het met soveel families gesels wat die seerste seer moontlik dra en ek wil nooit hê dit moet lyk asof ek een saak bo ’n ander stel nie. Maar episode een oor Leighandré “Baby Lee” Jegels, die vermoorde boks- en karatekampioen, het my onbeskryflik hartseer gemaak omdat sy bestem was vir sukses en om ’n inspirasie vir soveel jongvroue te wees. Om haar lewe weens gender-based violence te verloor het, is onregverdig en onaanvaarbaar, want geweld teenoor vroue is aangeleerde gedrag en kán verander.

  1. Hoe voel julle oor julle SAFTA-toekenning? Wat beteken hierdie toekenning vir die span?

Dis nou al ’n paar weke sedert die program die SAFTA-toekenning gewen het en ek kan steeds nie glo Op Seer se Spoor is ’n nou SAFTA-bekroonde program, ná net een seisoen nie! Die toekenning beteken ontsettend baie vir die span omdat dit vir ons onderstreep dat die werk wat ons doen belangrik is en saak maak vir mense. Dis nie genoeg om net ’n misdaad te hervertel nie. Wat leer ons as gemeenskappe en individue daaruit en hoe kan ons dinge verander om toekomstige tragedies te vermy?

  1. Hoe reageer die families as julle hulle vir die eerste keer nader? Is hulle soms ongewillig? Dis nie ’n maklike onderwerp om oor te praat nie.

Ons vra vir mense amper die onmoontlike, maar in my nege jaar dat ek vir Kuier werk, het ek geleer mense is sterker as wat ons dink en hul liefde vir hul medemens is groot. Baie van hulle doen hierdie stories omdat hulle hul geliefde en dit wat hulle vir hulle beteken het, wil vier. Terselfdertyd deur dit te doen wil ons deur die program wys wat jy van mense af wegvat wanneer jy hul geliefdes vermoor. Want om te moor, is ’n keuse; dis nie ’n ongeluk nie. Ons benader mense met deernis en ja, nie almal wil die program doen nie, en wanneer hulle nie wil nie, respekteer ons hul besluit. Jy kan nie iemand in so iets dwing nie.

  1. Kontak mense julle ná die episodes uitgesaai is om die families te help?

Ja, dit gebeur soms dat mense wil help en dis wat hierdie reis van seer draagliker maak. Die feit dat mense omgee. Die grootste ondersteuning wat die kykers die families gee, is gebed. Gebed mag vir sommiges dalk net klink na net ’n woord of “iets wat mense maar sê”, maar ek glo daar lê krag daarin. Die krag om die volgende dag op te staan en aan te gaan; die krag om nog te kan lag, al huil jy in jou hart; die krag om te leef vir jou geliefde wat nie meer hier is nie en om hul herinneringe nooit te laat wegkwyn nie.

 

Op Seer Se Spoor word elke Dinsdag om 20:30 uitgesaai op kykNET & kie, DStv-kanaal 145. Volg die kykNET & kie FB-blad vir voorskoue elke week.