Logo

Koekedoor 2 gaan tone laat krul van lekkerkry

Nuus
13 Maart 2016
’n Splinternuwe seisoen van Koekedoor word van Donderdag 14 April 2016 vir dertien weke op Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.
Koekedoor ll Nuus

Die tyd om te bak is nóú. Wel, amper, want die opvolgseisoen van Koekedoor, kykNET se werklikheids-bakkompetisie wat ’n wafferse meelstorm ontketen het, word vanaf 14 April 2016 uitgesaai met tien nuwe bakkers wat mekaar takel. ’n Bloemfonteinse beurtkragkoek, ’n biertenttert en kolwyntjies met vlerke is enkele van die kunstige bakwerke wat vir die kampioenbeker of uitklophou kan sorg.

Die nuwe seisoen van 13 episodes daag amateurbakkers uit om selfs groter, hoër, mooier, meer gewaagd en verder buite hul gemaksone te bak as met die eerste reeks – soms met uitstekende en soms met rampspoedige resultate.

Die eerste seisoen van dié gewilde bakprogram het in Junie 2015 tot ’n einde gekom, toe Mareli Visser as die wenner aangewys is.

Die tweede seisoen skop af met ’n episode van 90 minute op Donderdag 14 April om 20:00 op kykNET. (Die verdere uur lange episodes in die daaropvolgende weke sal om 20:30 begin.) Die derduisende bak-entoesiaste wat op die tweede Donderdag in April voor die kassie inskuif, gaan tien interessante nuwe deelnemers saam met vyf verrassende gaste ontmoet. Dié gaste – geliefd en bekend soos worsrolletjies, souttert en ystervarkies – bestaan uit ’n ikoniese nuusleser, ’n sangeres wat lewe om vir liefde te strewe, ’n wêreldskoonheid, ’n gewilde kletsrymer en ’n glansryke voorkoms-ghoeroe.

“Die nuwe seisoen se temas, vol verrassings van die begin tot die naelbyt-finale, is verbeeldingryke en uitstekende gesinsvermaak met nostalgiese familiegunstelinge as die goue draad,” sê Marguerite Albrecht, die opdraggewende vervaardiger van dié kykNET-reeks. “Inspirasie word gevind op die modeplank, by ’n pretpark, toonlere en musieklesse, ’n kombuistee, onder die Kersboom, in die botterbak en in die ou gemeente-resepteboekies. Daar’s gebak vir die manne én ballerinafyn skeppings.”

Sy voeg by dat die drama wat om die stoof afspeel, en die deelnemers se hantering van gebak-dilemmas die reeks uiters boeiend maak. Die bakkers voel gou soos ou bekendes – senutergend vir kykers wat hulle inleef in hul gunstelinge se bakseges én -flaters.

Oor die deelnemers

Die tien nuwe koekedore kom van Saldanha, Sasolburg en Simonstad, van Bloemfontein en Bloubergstrand, van Pretoria en Port Elizabeth, George en Delmas. Agter die bakvoorskote is ’n argitek, ’n baljuklerk wat droom van tuinmaak, ’n dieetkundige wat troukoeke bak en fiets trap, ’n diereliefhebber en kantienbestuurder, ’n boervrou-macaron-entrepreneur, ’n afgetrede verpleegster, ’n sielkunde-gegradueerde met ’n spysenieringsonderneming, ’n ma van Pretoria wat ’n ruk in die bakland Frankryk gebly het, ’n tuisnywerheid-stigterslid en kwiltmaker wat kinders met leerprobleme help, en ’n jong koffiewinkeleienaar wat begin bak het vir haar troufonds.

Die meesterbakkers Mari-Louis Guy, Elizabeth Cloete en Tiaan Langenegger van Kokkedoor-faam is weer die beoordelaars.

Oor die beoordelaars

34 koekedoor ll mari louis


Mari-Louis Guy is ’n kookboekskrywer, koekontwerper en stilis. Sy en haar broer, Callie Maritz, is ’n skrywerspan uit wie se pen boeke soos Onthaal op groot skaal en Cakebread, Pudding & Pie gevloei het. Sy en Callie is ook eienaars van die koekboetiek, Cakebread. Wanneer hulle nie dekadente koeke optower nie, laat hulle groot handelsname se produkte mooi lyk vir advertensieveldtogte (selfs lae-GI-kapokaartappels word ’n visuele treffer). Hul skeppings het al in ’n rits tydskrifte en in honderde TV-advertensies verskyn.

“Kykers gaan verstom staan oor hoe die bakkers deur die reeks bakfiks raak en dan óf onder die kompetisiedruk gedy óf vou,” sê sy. Dis veral Mari-Louis se skouspelagtige ontwerpe, soos die Bloemfonteinse beurtkragkoek, wat vir hoogtepunte in die fyngebak-uitdagings sorg.

Mari-Louis het as kind met die gasvryheidsbedryf kennis gemaak, en ’n besluit om later huishoudkunde te neem was die begin van ’n internasionale loopbaan.

34 koekedoor ll elizabeth


Elizabeth Cloete, die grande dame van Koekedoor en beoordelaarsveteraan van die Vroue Landbouvereniging (VLVK) reken die nuwe seisoen gaan baie gewild wees. “Ons is ’n baknasie wat ewe opgewonde raak oor melkterte en die basaar se tradisionele gebaktafel, as oor nuwe bakmodes. Koekedoor 2 laat die bakkersbloed opnuut deur ons are bruis.”

Haar jare lange ervaring in die kombuis beteken sy het die kuns van bak bemeester, en haar geleerde oog mis niks nie. Sy het haar B.Sc.-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en is ’n voormalige biologie-onderwyser. Sy is deesdae ’n boervrou in die Kraaifontein-omgewing.

34 koekdoor ll tiaan


Tiaan Langenegger, ’n gekwalifiseerde patisseriesjef en wenner van Kokkedoor (die susterreeks van Koekedoor), beskou die tweede seisoen as ’n mylpaal vir Suid-Afrikaanse gebak met nuwe bakhelde en bakwerk op ’n nuwe vlak.

Hy en sy spanmaat, Mynhardt Joubert, was in 2013 die wenners van die heel eerste seisoen van Kokkedoor.

Tiaan het sy passie vir kosmaak op ’n jong ouderdom ontdek.

Hy het op 16 agter die kospotte begin werskaf en later sy fyngebak-sjefdiploma cum laude aan City & Guilds, ’n internasionale akkrediteerder vir sjefs, verwerf. In 2012, op 26, het dié meesterkok van Stellenbosch die titel van Unilever Foodsolutions Sjef van die Jaar losgeslaan en was hy Sunday Times se Jong Sjef van die Jaar.

Formaat en uitdagings

Koekedoor 2 hou by die goue formule wat kykers in die eerste seisoen leer ken het. ’n Fyn balans word dus weer gehandhaaf tussen die bakgunstelinge waarmee ons grootgeword het, en wêreldgebak. Aangesien dit ’n bakkompetisie is, word daar verwag dat die deelnemers die tegniese vermoëns het om uitdagende gebak aan te pak; dit wil sê, moeiliker baksels as wat enigiemand sommer vinnig in ’n tuiskombuis kan optower.

Die reeks is weer op die historiese Twee Jonge Gezellen-landgoed buite Tulbagh verfilm, in die Koekedoor-stoor, wat ongetwyfeld die bestoegeruste bakkombuis in die land is, met toerusting en bestanddele waarvan tuisbakkers net kan droom.

Die Tuisgebak-uitdagings gee die bakkers die kans om elke episode af te skop met ’n familieresep. Hierdie uitdaging plaas hulle nie onder soveel druk nie en gee kykers die geleentheid om weer kennis te maak met ons eie bakkultuur – iets wat Tannie Elizabeth besonder na aan die hart lê.

Vir elke Fyngebak-uitdaging het Mari-Louis ’n unieke gebak ontwerp wat die bakkers se tegniese vermoëns onder taai tyddruk op die proef stel. Die bakker, wat die resep nog nooit onder oë gehad het nie en ook nie weet hoe die eindproduk moet lyk nie, moet fyn beplan en vinnig besluite neem.

Vir die Pronkgebak-uitdagings moet deelnemers groot kan droom en spoggerig kan doen. Volgens Tiaan Langenegger toets hierdie uitdagings die koekedore se vermoë om hul kreatiewe denke en bakvaardighede saam in te span, buite die koekpan te dink en met spoggerig bakwerk ’n eie stempel af te druk.

Pryse

Koekedoor is die land se grootste amateur-bakkompetisie. Die wenner gaan huis toe met R200 000 kontant, ’n nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor en ’n begeerlike kookboekkontrak met Human & Rousseau. Rolkem Akademie en Capsicum Culinary Studio borg ook ’n suikerkuns-kursus van R50 000 vir die wenner.

Die naaswenner kry R50 000 kontant van Safari Dried Fruit, en Kenwood-toerusting ter waarde van R20 000, asook ’n suikerkursus ter waarde van R35 000. Pryse wat in ander episodes losgebak word, is Kenwood-toerusting, ’n gasstoof geskenk deur Olive Pride, houtware van My Butchers Block, Lekkeslaap-geskenkbewyse, ’n eetstel van Mervyn Gers Ceramics en ’n kunswerk van Alex Hamilton. Pick n Pay is die hoofborg.

Produksie

Marguerite Albrecht is die opdraggewende vervaardiger vir kykNET. Koekedoor word vir kykNET vervaardig deur Homebrew Films. Die reeksregisseur is Sanet Olivier. Chris Lotz is die regisseur vir fotografie, Harold Webster die produksie-ontwerper en Errieda du Toit die inhoudsvervaardiger: kos.

Die Koekedoor-bakboek, in samewerking met kykNET en Human & Rousseau, sal direk na afloop van die reeks op die rakke verskyn, met ’n versameling resepte uit hierdie uitdagings.

Gesels saam

Kom volg kykNET se soeke na die land se veelsydigste bakker op Facebook, Twitter en Instagram (@kyknettv).

Bly op die hoogte en kom gesels saam oor die deelnemers, episode-hoogtepunte, resepte en tegnieke.

Kry die jongste nuus hier.