Logo

 Nuwe programme om van te kies en te keur te sien vanaf April op die kassie

Nuus
02 April 2024
Daar is iets vir almal dié April op die kykNET-kanale.
April hoogtepunte

Wie gaan Brendan in Op my eish! kies? Is die nuwe groep stadsjapies opgewasse teen die tawwe uitdagings wat in Plaasjapie op hulle wag? En is dit waar dat feite soms vreemder as fiksie is? Dis maar net ’n paar van vele hoogtepunte op kykNET se kanale in April.

 

Op my eish!

George Orwell het in sy beroemde roman 1984 geskryf: “As jy ’n geheim wil hou, moet jy dit ook vir jouself wegsteek”. In realiteitsreekse, wat soms maande voor die tyd verfilm is, is die bewaring van geheime een van die belangrikste elemente van die spanning en intrige – veral die geheim oor hoe dit alles eindig.

In die derde seisoen van Op my eish! het Brendan Peyper se soektog na liefde kykers behoorlik op hol gehad. Op 4 April om 20:00 word die dertiende episode uitgesaai en moet Brendan kies tussen die drie vroue wat nog hoop om die vrou in die lewe van die gewilde sanger te word. Wie gaan dit wees? En is hierdie werklik die finale episode van die reeks?

Op my eish! is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Plaasjapie

Die tweede seisoen van Plaasjapie, waar sestien betreklike rou stadsjapies meeding om prysgeld van R1 miljoen, is op Donderdag 18 April om 20:00 terug. Ewan Strydom is weer die aanbieder.

Die deelnemers, wat van so ver as Piet Retief en Windhoek kom, bestaan uit agt mans en agt vroue tussen die ouderdomme van 20 en 55, en hulle sal moet wys dat hulle kan boer sonder die gebruik van moderne tegnologie.

Die deelnemers is:

  • Stanley Venter (24), ’n motoronderdeleverkoopsman van Pretoria
  • Riaan Snyder (30), ’n SHEQ-beampte (veiligheid-, gesondheid- en omgewingsbestuur) van Piet Retief
  • André Mouton (44), ’n padskraper-operateur van Pacaltsdorp
  • Etienne de Villiers (36), ’n bruilof- en geleentheidsbeplanner van Pretoria
  • Blue Kester (39), ’n gemeenskapsontwikkelingskoördineerder van Bellville
  • Liovian Anderson (40), ’n entrepreneur van die Paarl
  • Michelle de Waal (42), ’n verteenwoordiger van ’n farmaseutiese maatskappy van Windhoek
  • Milandie Grimbeek (32), ’n haarstilis van Beaufort-Wes
  • Zanie van Rensburg (53), ’n voormalige gim-eienaar en deesdae verkoper van sporttoerusting
  • Anelda Price (24), ’n finalejaarstudent in maatskaplike werk van Parow-vallei
  • Jannie Holsthyzen (20), ’n sekuriteitswag van Pretoria
  • Pieter Gous (28), ’n meganiese ingenieur van Kaapstad
  • Liezle Wiese (56), ’n verkoopsverteenwoordiger in die konstruksiebedryf van Germiston
  • Donovan Massyn (24), ’n senior handelsrekeningbestuurder van Pretoria
  • Danielle Reinecke (24), ’n somatoloog van Rustenburg
  • Monique Hobkirk (42), ’n somatoloog van Nelspruit

Plaasjapie is Donderdae vanaf 18 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Vreemder as fiksie

Almal het ’n storie – party vreemder as ander. Soms so vreemd jy kan nie glo dis waar nie.

Vreemder as fiksie, kykNET se nuwe dokumentêre reeks, vertel die verstommende verhale van doodgewone mense wie se lewens heeltemal omvergegooi is deur bisarre gebeurtenisse of donker geheime wat op die lappe gekom het. Dié reeks, wat op 1 April 2024 begin, gee die betrokkenes en familielede die kans om hulle ongelooflike wedervaringe te deel.

“Ons fokus op die stories wat jy nou en dan langs ’n braaivleisvuur hoor en wonder of die vertellers die kat aan die stert beet het,” sê die vervaardiger, Izelle Venter. “Die reeks delf dieper in dapper mense se lewens wat gekonfronteer is met gebeure en karakters wat jy dink net in storieboeke voorkom. Hul naastes en ook kenners werp lig op hul ervarings: van rare siektes en bonatuurlike gebeure tot wrede familiegeheime. Dis raar maar waar. Inderdaad vreemder as fiksie.”

Daar is 13 episodes en elke episode fokus op ’n ander familie. Die reeks belowe om jou asem weg te slaan met ware lewensverhale wat g’n skrywer sou kon uitdink nie.

Vreemder as fiksie begin op Maandag 1 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en beskikbaar wees.

Vrystaatbewoners

Die Vrystaat is bekend vir sy beeldskone bergroetes, uitgestrekte vlaktes en pragtige blomme. Vrystaatbewoners, ’n nuwe kykNET-leefstylprogram, laat die kollig op die unieke mense val wat dié provinsie hul tuiste noem.

Op soek na die siel van die provinsie, onthul Vrystaatbewoners onbekende fasette en onvertelde stories. Elke persoon deel ’n tapisserie van ervarings rondom liefde, verlies, vasbyt en triomf.

Ian Martin, die regisseur van die reeks, sê dat elke episode ’n huldeblyk aan die veerkragtigheid en vindingrykheid van Vrystaters is.

“Elke hoek het ’n storie gehad wat gewag het om vertel te word. Van die bedrywige strate van stedelike sentrums en klein dorpies tot rustige stukke plaasgrond. Vrystaatbewoners is meer as net ’n dokumentêre reeks – dit is ’n reis van ontdekking, deernis en viering van die menslike gees,” sê Ian.

Vrystaatbewoners begin op 4 April om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Stralend

Die gewilde TV-persoonlikheid en aktrise Angelique Gerber is die aanbieder van die nuwe leefstylprogram Stralend. Dié reeks het twaalf vroue die geleentheid gegee om ’n nuwe en beter weergawe van hulself te word en in sommige gevalle selfs hulle voorkoms radikaal te verander.

Stralend is nie ’n program wat fokus op gewigsverlies nie. Dit dra die boodskap oor dat jou geluk nie van ’n spesifieke gewig afhang nie. Stralend beklemtoon daardie innerlike skoonheid wat jou uniek maak. Ons bied wel wenke vir grimering en styl, maar die uiteindelike doel is selfaanvaarding, selfliefde en respek vir jou eie uniekheid,” sê ’n entoesiastiese Angelique. 

Francois de Klerk, beter bekend as Fafa, is ’n bekende grimeerkunstenaar en stilis, en sy talente is ingespan om die deelnemers ’n nuwe voorkoms te gee.

JC Snooke, mederegisseur van die reeks, sê dis nou die tyd vir vroue om lief te wees vir wie hulle werklik is. “Stralend is daar om vroue die selfvertroue te gee om hul ware self te wees. Ons fokus op die kop, hart en siel omdat dit die plekke is waar die transformasie plaasvind.”

Stralend begin op 1 April om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Plan B

Plan B, die opwindende dramareeks wat afspeel in die wêreld van misdaad, miljardêrs, swendelaars en kunsdiewe, se vyfde en finale episode word op 23 April uitgesaai.

2 April

Ragel se soeke na wraak laat haar in die wêreld van kunsdiefstal beland.

9 April

Kate en Joe se hulp word ingeroep vir ’n waaghalsige slenter wat op Joshua gemik is, en ’n oorlog in die kleine bring opwinding vir die welgesteldes.

16 April

Ragel se vrese is nie ongegrond nie, en ’n reeks bloedige boodskappe dwing die span in ’n gevaarlike situasie in.

23 April

Dis alles of niks vir die span met Ragel wat al liewer vir die reuk van buskruit raak.

Plan B is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

In die sop 

Harte word geroer en restaurante kry weer hulp by die kenners Bertus Basson en Misi Overturf in ’n nuwe seisoen van In die sop. Van die hoogtepunte waarna kykers kan uitsien, is wanneer die span twee eetplekke in Velddrif se bekende Bokkomlaan onder hande neem en dan die pad Pearly Beach toe vat, waar Ferdi en Kosie van die plaaslike hengelklub dringend hulp nodig het.

In die sop is Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Bewonder en bewaar met Bonné de Bod

In April reis Bonné van Amerika tot in die Vrystaat.

7 April

Bonné stap saam met die Yellowstone Wolf Project se hoofbioloog, Kira Cassidy, deur die park in die hoop om die ikoniese Yellowstone-wolwe te sien.

14 April

Bonné sluit aan by dr. Francois Deacon, ’n dinamiese wetenskaplike aan die Universiteit van die Vrystaat, vir ’n wêreld-eerste: kameelperde wat gevang en met klanktoestelle toegerus word.

21 April

Bonné kies koers na die pragtige Kalahari om prof. Andrea Fuller te ontmoet wat navorsing doen oor hoe meerkatte groot temperatuurskommelinge, van ysige nagte tot skroeiende dagtemperature, hanteer.

28 April

Bonné reis na ’n afgeleë navorsingstasie en praat met prof. Theo Wassenaar om meer oor die geheimenisse van ’n lewende fossiel te leer – die Welwitschia, wat net in Namibië voorkom.

Bewonder en bewaar met Bonné de Bod is op Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Nuwe seisoene van gewilde kykNET-reekse terug in April

La’t wiel vier binnekort ’n groot mylpaal wanneer die 30ste seisoen van hierdie gewilde motorprogram uitgesaai word. Dit is boonop La’t wiel se 21ste verjaarsdag. Oudergewoonte gaan die reeks se deurwinterde aanbieders, Hannes Visser en Waldo van der Waal, ’n groot verskeidenheid opwindende wiele toetsbestuur en motorverwante stories vertel wat motorgeesdriftiges baie sal geniet.

La’t wiel begin op Dinsdag 2 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Fiësta, wat al meer as 20 jaar op lug is, reis nie net weer die land vol agter feeste, skoue en ander byeenkomste aan nie, die reeks spog ook met twee nuwe aanbieders. Lundi Khoisan en Wicus Pretorius is steeds voor die kameras, maar Elsa Esterhuizen en Rumacques Gelderbloem sluit nou as aanbieders by hulle aan. Die nuwe reeks skop glansryk af met die kykNET Fiësta-toekennings wat onlangs in Kaapstad oorhandig is. Daar word ook besoek afgelê aan die Ramadaan & Lifestyle Expo, die KKNK, die Afrikaans Oppi Platteland-musiekfees in Malmesbury en die Stilbaai-boekefees.

Fiësta is vanaf 7 April in ’n nuwe tydgleuf op Sondae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Jan Braai vir erfenis gaan op die Ontspan-toer kuslangs in die Kaap vir die nuwe seisoen. Hulle spring weg in Seepunt en Kampsbaai, maak ’n draai in Houtbaai, Noordhoek en Kommetjie en reis dan al die pad tot in Kleinmond, Onrus en Hermanus.

Jan Braai vir erfenis begin op Saterdag 6 April om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Safari-roetes is terug vir ’n tweede seisoen en gaan weer wys waar jou 4x4 jou oral kan neem. In die nuwe seisoen ry die span onder meer die ou ossewa-roetes van die Wes- en Suid-Kaap, met die gids Nico Hesterman wat hulle lei, en sleep hulle karavane na van die land se mooiste kampeerplekke.

Safari-roetes begin op Maandag 8 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hannes aan huis se tiende seisoen is hier en Hannes van Wyk kuier hierdie keer by, onder andere, die pianis Charl du Plessis, die filantroop Carolyn Steyn, die musiekpromotor Lydia Winchester, die sangeres Karin Hougaard en Phoebe Gerwel, stigterslid van die Jakes Gerwel-stigting en beskermvrou van die Suidoosterfees.

Hannes aan huis begin op 2 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Saam met die avontuurlustige egpaar Hennie en Nicole Bosman, neem Wanderlus se derde seisoen kykers op ’n opwindende reis deur die hart van Suid-Afrika se skoonheid, natuur en kultuur.

Wanderlus begin op 6 April om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Lottoland: Help ’n dorp gaan in die tweede seisoen nogmaals ’n groot hupstoot aan dorpe dwarsoor die land gee. Met Leah wat weer die program aanbied, gaan die span wys hoe gewone mense moue oprol om ’n verskil in gemeenskappe te maak.

Lottoland: Help ’n dorp begin op 10 April om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Spasie se derde seisoen gaan weer wys hoe klein ruimtes in wonderwonings verander kan word en hoekom al meer mense afskaal en kleiner begin lewe. Daar word in elkeen van die dertien episodes gefokus op iemand wat só leef. Daar sal oorgenoeg inspirasie wees, want die program wys hoe hierdie projekte van begin tot einde deurgevoer word.

Spasie begin op 5 April om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Prontuit begin 10 April. Vanjaar merk dertig jaar van demokrasie en vir sommiges voel dit of 2024 hul 1994 is. Hoe bestuur ons gesprekke oor die toekoms van ons land om die braaivleisvuur en die politiek wat só ’n groot rol speel daarin? In hierdie aflewering van Prontuit gesels ons met kenners en Jan Alleman oor hoe ons kop en moed hou in hierdie maraton wat elke Suid-Afrikaner moet aflê tot 29 Mei. 

17 April

Die toebroodjie-generasie, mense wat saam met hulle ouers en kinders woon, het in Suid-Afrika van 39% in 2022 tot 43% gestyg in 2023. Pronuit kyk na multi-generasie-huishoudings en aftrede. 

1 Mei

Volgens ‘n verslag deur die EWT en WESSA, gaan ons land se kleiner provinsiale reservate in duie stort weens te min finansies en kennis. Ons gesels met kenners oor moontlike oplossings.

 

kykNET-sepies

Binnelanders

Lukas waarsku Delia teen Dawid, en sy kry die skok van haar lewe wanneer die waarheid uitkom. Gaby verras Elise met ’n aanloklike aanbod, en Tertius word genoodsaak om slegte nuus met ’n pasiënt se familie te deel. Naomi kry slegte nuus, en Liam kom voor ’n moeilike besluit te staan wat sy verhoudings ernstig kan beïnvloed.

Tracy word onwetend gewaarsku iemand is op haar spoor, en Rian vra Louis se raad oor ’n gevaarlike e-pos. Louis en Naomi het ’n ernstige gesprek oor die toekoms, en Conrad roep Jacques se hulp in om by Southern Hope uit te help. Jonas is terug, en Tertius kry die skok van sy lewe en moet ’n moeilike besluit neem. Almal is verbaas wanneer ’n verhouding tot 'n einde kom. 

Diepe waters

Kykers kan gereed maak vir ’n emosionele wipwarit in April. Charity en Arno rou nog oor die dood van hulle biologiese pa, Daan, maar dis veral Arno wat sukkel om vrede daarmee te maak. Sy en Karla se verhouding ly daaronder, en dan doen hy iets wat hy moontlik vir die res van sy lewe gaan berou.

Tshepo verlang na sy biologiese familie en kry die geleentheid om hulle beter te leer ken. Hy is in die wolke hieroor, maar kort voor lank ontvang hy skokkende nuus wat hom dwing om ’n groot besluit te maak.

Dit is ook nie die einde van Mari se planne om Sanet se lewe te verwoes nie. Dinge gaan te ver wanneer sy iets doen wat dit bykans onmoontlik vir Sanet gaan maak om haar onskuld te bewys. Die maand hou ook ’n bederf in vir die swemmers én kykers, want ’n bekende persoon kom maak ’n draai.

Suidooster

Ian October mag dalk dood wees, maar sy spook loop in Ruiterbosch. Dis boonop ’n geval van die een se dood, is die ander se brood. Ná Pam October se skokonthulling dat Ian eintlik Zoë se biologiese pa is, gryp Tim die kans van ’n leeftyd aan om Bridgette, eens en vir altyd, tot ’n val te bring. ’n Volskaalse oorlog breek tussen dié twee uit, en Nazeem help vir Tim om sy wraakplan uit te voer. Dit voorspel niks goeds vir Bridgette nie. Haar donkerste uur breek aan wanneer Tim en Nazeem se gekonkel vrugte afwerp, maar gaan Bridgette haar nuwe lot aanvaar?

Sy is nie die enigste Jacobs wat ’n krisis in die gesig staar nie. Ook Lee-Ann se wêreld word omvergewerp wanneer Ty se breingewas terugkeer en hy ’n drastiese besluit neem. Met Siya en Danni se huwelik wat op die rotse is, probeer beide met hul lewens aangaan, maar dit blyk makliker vir Danni as vir Siya te wees. Dit lyk of sy meer as net vertroosting in haar ekskêrel Aiden se arms vind. Dalk was Siya tog nie verniet paranoïes tydens hul huwelik oor haar en Aiden nie? Gary keer ook terug na Ruiterbosch, en dié keer is hy hier om te bly.

 

Saterdagaand-vermaak

Maak sommer nou ’n nota in jou dagboek vir twee baie spesiale, maar uiteenlopende Saterdagaand-hoogtepunte op kykNET (DStv-kanaal 144) in April.

Op 20 April om 20:00 maak die bekroonde fliek Hans steek die Rubicon oor sy debuut op kykNET. Dié rolprent, wat gegrond is op Rudie van Rensburg se topverkoperboek, het by verlede jaar se Silwerskermfees die toekenning vir beste speelfilm gewen, Corné van Rooyen is as beste regisseur aangewys, en Pierre van Pletzen, wat die rol van Hans speel, het die toekenning vir beste akteur gewen. Ook in die rolverdeling is Tobie Cronjé as Vasie, June van Merch as Baby ,en Sandra Prinsloo as Liesbet. Nicola Hanekom is die gevreesde matrone, en Juan-Pierre Moller is Esmeraldus, haar onbeholpe assistent.

Saterdagaand 27 April om 20:00 word die Carte Blanche-dokumentêr 30 Years of Democracy uitgesaai. (Dit word ook op Sondag 28 April op M-Net uitgesaai.) Dié uur lange program sal kyk na hoe die land die afgelope 30 jaar verander het en temas soos migrasie en mense se komvandaan-hartsplekke ondersoek. Onderhoude is gevoer met mense van oor ’n breë spektrum – van ’n sjef in Sandton tot ’n stamhoof, ’n straatkunstenaar tot ’n bejaarde orkesleier en van ’n prokureur tot ’n taxi-baas.

 

kykNET&kie

Sê jou sê

Wanneer jy aan die begin van ’n program gewaarsku word dat die menings die deelnemers se eie is, kan jy maar weet hier kom iets wat jou onkant gaan vang. Dit is hoe kykNET&kie se gewilde Sê jou sê se derde seisoen met die Kaapse omroeper Aden Thomas as aanbieder afskop.

Aden belowe: “Hierdie seisoen is julle in vir ’n ding,” want getroue kykers weet op hierdie program word daar nie doekies omgedraai nie.

En hy ken sy gehoor goed.

Sê jou sê is waar ons alledaagse probleme bespreek. Die deelname van die gehoor is uiters belangrik. Dis amper soos gesprekke wat op die trein of in ’n taxi sou plaasvind. Álmal wil betrokke raak, selfs al ruk dit soms ’n bietjie handuit met emosies wat hoog loop,” sê hy.

Die Sê jou sê-veldaanbieder en joernalis Chrislynn Sias gaan ook weer soos vantevore die pad vat om met Jan Alleman te gesels en hul menings oor sekere kwessies te kry. Spiertier Nathan Castle maak ook weer sy verskyning as die balju in swart.

Sê jou sê is ook vanjaar by die Suidoosterfees, waar Aden en Chrislynn op Saterdag 27 April om 10:00 ’n gesprek gaan lei met vorige gaste van die reeks om te hoor hoe dit vandag met hulle gaan. Hulle gaan ook staaltjies deel oor wat soms agter die skerms gebeur.

Sê jou sê begin op Sondag 14 April om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees. 

Arendsvlei

Dié maand is Kupido omtrent besig in die Vlei, want daar is net liefdevolle paartjies waar jy kyk. En dan staan Janice glad nie terug vir Desmond en sy nuwe planne nie.

Sasha het steeds net oë vir Devon, maar hoe harder sy probeer om sy aandag te kry, hoe meer kom sy agter dat hy sy oë op iemand anders het. Terwyl Lionel met Lee-Roy gesels, laat glip hy per ongeluk dat Devon van hom hou. Dit verander Lee-Roy se hele perspektief oor Devon. Sal Lee-Roy dié keer ware liefde vind? 

Die romanse tussen Bompie en Rachel is nog lank nie verby nie. Sonder Desmond se wete, knyp dié twee steeds die kat in die donker. Maar Audrey het ander planne. Sy waarsku vir Rachel teen Bompie se woede-uitbarstings en die twyfel begin by Rachel inskop.  

Desmond is weer aan die stuur van sake, en hierdie keer is dit Arendsvlei se winkelsentrum. Hy en Audrey het hulle mes in vir Janice, en dit het ’n impak op al die eienaars. Maar Janice laat nie op haar wag nie. Toe Desmond met sy streke begin, kry sy almal bymekaar om teen hom op te staan. Dié keer moet Janice versigtig wees, want Audrey is aan sy sy en reg om te baklei.

 

kykNET NOU!

Op Maandag 1 April trek jou gunsteling-musiekkanaal – kykNET NOU! op DStv-kanaal 146 – ’n splinternuwe baadjie aan. So, sit terug, geniet die vakansiedag, skakel in en laat weet ons wat jy van die nuwe voorkoms dink.

kykNET NOU! het ook ’n nuwe musiekblok wat van 1 April op die lug is: Klankbaan gaan al julle gunstelingflieks en -TV-reekse se musiekvideo’s speel. Alles van “Ballade vir ’n Enkeling” tot “Binnelanders” is op die spyskaart. Kom kyk en luister saam.

Tydgleuwe:

Maandag: 20:00 – 20:30

Woensdag: 15:00 – 15:30

Donderdag: 22:00 – 22:30

Vrydag: 12:00 – 12:30

Saterdag: 17:00 – 17:30

 

Bly hierdie April ingeskakel op kykNET, kykNET&kie en kykNET NOU! vir wêreldklas Afrikaanse vermaak!