Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Mei verseker genoeg drama op die horison!

Nuus
01 Mei 2020
Lees hier waarna jy kan uitsien volgende in jou gunsteling sepie in Mei!
Binn9 ep208-2

Getroud Met Rugby

Schalk se besluit om Wynand Steyn in die Southern Clash Toernooi te laat speel, veroorsaak groot ongelukkigheid by die Stryders. Die Stryders val uit die Southern Clash toernooi en lê die skuld voor Schalk se deur. Bart sien 'n geleentheid om vir Schalk 'n les te leer, deur aan Fafa 'n onweerstaanbare aanbod te maak.

Julia deel die skoknuus met Blitz, dat sy 'n voorbehoedings-apparaat laat insit het. Haar besluit laat konflik in die Vermeulen huis opvlam. Die spanning dwing vir Julia om dan selfs 'n meer drastiese stap aangaande haar kanse om 'n baba te hê, te neem. Maryke en Blitz probeer ingryp en wil met alle mag vir Julia keer om drastiese stappe te neem, maar tevergeefs. Blitz en Julia neem dan finaal 'n besluit oor hul huwelik. Lienkie probeer vir Blitz ondersteun en die vrede bewaar, ter wille van hulle seun, Johan. 

Nadat Mia by die pompoms bedank het, moet Anastasia ‘n nuwe pompom aanstel. Die besluit veroorsaak groot ongelukkigheid onder die dames. Anastasia en Cheryl stamp erg koppe oor die nuwe pompom aanstelling. 

Wynand se sjarme maak die dames se knieë lam. Die liefdesdriehoek tussen Wynand, Chrissie en Anna verdiep, ten koste van Anna en Chrissie se vriendskap.

Tydens ‘n romantiese, intieme seremonie, teken Liam en Candice hulle saamwoonooreenkoms. Hulle is nou Mnr & Mev Willemse! 

Festus beraam ‘n plan om vir Koekie terug te kry na die Hipnose-sage. Hy slaag daarin, maar Maryke en Fafa steek ‘n stokkie vir die lawwigheid.

Renate besluit om haar lewe terug te neem, deur aan avontuursport te begin deelneem. Sy betrek haar vriendinne by haar avonture! Simon neem intussen ‘n nuwe beste vriend aan. Sy naam is Logan. Simon ontmoet vir Lulu Malherbe in die park waar hy en Logan stap en daar ontwikkel ‘n vriendskap...

Mia help vir Bart om sy sosiale-media beeld te poets. Bart se eks-vrou, Ilse, daag onverwags op en beywer haar om, ter wille van hulle dogters, die Smith-gesinsbande te herstel. Mia is nie gelukkig daarmee dat Ilse nou in Johannesburg is nie, maar probeer haar beste om vir Ilse in Bart se lewe te aanvaar. Mia vermoed egter dat Ilse se motiewe nie so suiwer is, as wat sy voorgee nie.

 

Binnelanders

Nuus oor Minette, wat eintlik Alice is, bring aan Naomi geen troos nie; sy is vasberade om uit te vind wat presies gebeur het toe dié feeks voorheen hier was. Sy voel asof sy haar man, Louis Koster, nie meer kan vertrou nie - en dit is 'n groot probleem vir arme Louis.

Dokter Lackey is nie hier om vriende te maak nie - en sy stel haar eise. Rian Malherbe sal met 'n slim plan moet vorendag kom as hy nie die geleentheid wil verloor om saam met hierdie bekende dokter te werk nie. Ongelukkig vir Rian sal sy plan hulp van 'n ou bondgenoot verg - maar is dit 'n goeie idee vir hulle om teen Binneland Kliniek op te tree?

Quinton Meyer het geen idee hoe dinge so vinnig buite beheer geraak het by Thusanang nie. Een ding is seker: hy glo dat hy niks verkeerd gedoen het nie - maak nie saak wat At Koster dink of hom van beskuldig nie. Maar hoe kan hy alles onder die knie kry? En hoe vinnig sal hy die ramp kan oplos?

Chanel het iets oor Tertius gehoor wat regtig nie goed by haar sit nie, maar sy het geen idee wie sy kan vertrou nie - of is daar iemand wat na haar storie sal luister en dit ter harte neem? Ongelukkig vir Tertius word hy met 'n koue skouer en ongemak ontmoet. Maar wat kan hy doen as hy nie weet wat regtig in Chanel se kop aangaan nie?

 

Suidooster

Bridgette rafel uit en besluit om hulp te kry in die vorm van 'n medium, Glenda, wat haar nader aan Jerome bring. Maar is Bridgette reg om te hoor wat Jerome te sê het? Sy moet ook haar nuwe obsessie van die res van die familie geheim hou, want nie almal gaan te gelukkig wees as hulle hoor Bridgette roep geeste op nie. Dan gebeur die ondenkbare met Bridgette en die familie is ontnugter wanneer die waarheid oor Bridgette se konkelary met Nazeem se toetse uiteindelik aan die lig kom.

Kaashifa se groot guns om Junaid se slang op te pas terwyl hy weg is, pik haar lelik in die agterent wanneer die slang voete kry. Almal is histeries oor die slang soek is, maar Kaashifa is meer bekommerd oor wat dit aan haar verhouding met Junaid gaan doen. Sy luister teen wil en dank na Carmen se raad om die slang bloot te vervang met een wat op 'n drumpel na Sylvia lyk. Gaan Junaid agterkom? En wat gebeur as Kaashifa tot die besef kom dat Junaid altyd 'n pakket van twee gaan wees?

Kate begin haar lewenstorie oor te skryf. Letterlik. Sy hoor van 'n skryfkompetisie en waag haar hand aan 'n kortverhaal, maar wanneer sy wen en die uitgewer meer stories verwag, is sy in 'n hoek. Sy begin kou aan 'n idee vir 'n storie, maar besef gou dat sy inspirasie trek van die Samsodiens en die Jacobse se seer verlede. Gaan sy voort met die storie om uiteindelik haar eie potjie in die ou wêreld te krap, of respekteer sy haar nuwe vriende genoeg om hierdie geleentheid haar verby te laat gaan?

Ty se oë raak al slegter en dit is 'n kopseer vir sy naastes. Maar hy swyg oor sy finansies en gekanselleerde mediese fonds, wat uiteindelik 'n probleem raak wanneer hy die een is wat kopseer begin kry. Wade vind uit dat Ty 'n spesialis wil gaan sien en besef dat daar dalk iets groot fout met sy broer kan wees. 'n Skokdiagnose ruk die broers se lewens tot stilstand.

Sit terug en ontspan – en onthou ook om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram.