Logo

Kyk die kort- en dokumentêre films van Silwerskermfees 2023 nou op kykNET

Nuus
15 September 2023
kykNET se Saterdagaandprogramrooster is voortaan volgepak met heerlike nuwe Afrikaanse films.
SSF

Vanaf Saterdag 16 September word die weeklikse kykNET-storiefilm om 20:00 gevolg deur die dokumentêre en kortfilms wat vanjaar rolprentliefhebbers by die 11de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai betower het. 

Dié 14 kortfilms en ses dokumentêre, waarmee verskeie talentvolle nuwe draaiboekskrywers en regisseurs hul eerste filmbuigings gemaak het, sal ook na dié Saterdagaand-uitsendings op DStv Catch Up beskikbaar wees. 

Dié blinknuwe kortfilms en dokumentêre is op die volgende datums op net na die storiefilm op kykNET (DStv-kanaal 144) te siene:

Saterdag 16 September

Born Behind Bars

Met dié aangrypende dokumentêr neem die bekende radio- en televisiepersoonlikheid Romy Titus en haar filmspan ons agter slot en grendel na die ma-en-kind-afdeling van die Johannesburgse Korrektiewe Dienste. Ons maak daar kennis met Morwesi Theledi, ’n tronkma wat tydens haar tweede

swangerskaptrimester tot tien jaar tronkstraf gevonnis is en op ’n vernederende manier geboorte aan haar babaseuntjie moes skenk.  



Dans dat die biesies bewe

In dié familie-vriendelike komedie laat Mieke die dansvloer brand – op háár manier. Alhoewel Mieke nie die bou of opleiding van ’n klassieke danser het nie, droom sy daarvan om een te wees. Dan kom haar groot kans: Haar musiekheld en die coolste ou in Daspoort, Wimpie Steyn, hou oudisies! Mieke word vertolk deur die veteraanaktrise Lizz Meiring se talentvolle broerskind, die dramastudent Cara Meiring.  



Werpsel

Wees gewaarsku: Dié riller smokkel met jou kop! Gustav Gerdener is vir ’n Silwerskermtoekenning benoem vir sy spel as Leonard, ’n ongemaklike 40-jarige wat sy bes doen om na sy bejaarde ma, Lena, om te sien. Alles is egter nie pluis in hierdie vreemde huishouding nie. Ly Lena aan demensie of voer sy iets onheilspellends in die mou?



Saterdag 23 September

Besmet

Pieter Steyn se hartverskeurende ondersoek na die wrede vergiftiging van leeus het die Silwerskermfeesbeeldjie vir beste dokumentêr en die toekenning vir beste redigering verower. Neem wel kennis: Dié dokumenter mag sensitiewe kykers ontstel.    



Karen

In hierdie skreeusnaakse komedie gaan ’n tipiese Karen viral na ’n vloermoer in ’n koffiewinkel. Haar vertolking van dié Karen het aan Laura-Lee Mostert ’n benoeming vir beste aktrise in ’n kortfilm besorg, en Franci Swanepoel is briljant as ’n bombastiese ma wat inspring om haar dogter se naam in ere te herstel. Karen was die laaste voltooide film waarin Franci voor haar dood gespeel het. 



Een saam

Die kortfilmdrama Een saam, wat doelbewus met ou VHS-toerusting verfilm is om ’n gevoel van nostalgie te skep, draai om temas soos geslagsidentiteit, die gevare van konserwatiewe ouerskap en hoe liefde en deernis ou wonde kan genees.



Saterdag 30 September

Call of the Wild

Die baanbrekerdokumentêr Call of the Wild neem mense sonder sig én siendes op ’n unieke klanksafari.

Ons gaan saam met Anika, ’n visueel gestremde kind met ’n besonderse gawe om voëlgeluide te onderskei, op ’n bos-ervaring waarin klank die toergids is en mens die natuur beleef soos nimmer tevore.  Call of the Wild is bekroon met die Silwerskermtoekenning vir beste klankontwerp.   



Volle bors

Volle bors draai om ’n digter in haar 20’s wat worstel met die idee van ’n dubbele mastektomie wanneer sy uitvind haar risiko vir borskanker is uiters hoog. Die film is op die draaiboekskrywer en regisseur van Volle bors, Gabriella Blumberg, se eie lewensverhaal gegrond, en Marguerite van Eeden is as beste aktrise vir haar sielvolle spel benoem.



Thrift tot die dood

Dié tong-in-die-kies-komedie blaas nuwe asem in ’n ou gruwel-subgenre: die slasher-film. Wanneer ’n eiewyse hipster met die skêr wil inklim om vintage kledingstukke te vernuwe, veg die klere terug. Thrift tot die dood maak van poppekastegnieke gebruik om ’n gebleikte denimbroek en ’n ou groen rok skrikwekkend lewe te gee. Die film het ’n spesiale vermelding vir kreatiewe poppespel by die fees gekry, en Anré Bouguenon het ’n benoeming vir beste aktrise in ’n kortfilm ontvang.   



Saterdag 7 Oktober

Teater na die mense

Die dokumentêr Teater na die mense vertel die verhaal van  The Cape Flats Players – ’n vasberade groep akteurs wat teater gebruik het om die apartheidstelsel uit te daag en gehore geïnspireer het om teen onderdrukking op te staan. Dié amateurtoneelgeselskap is in die 1970’s  gestig en het gereeld Adam Small se dramas en revues opgevoer.



Helmhart

Die Silwerskermfees se eerste spookstorie en Gotiese romanse is die handewerk van die geliefde aktrise Zenobia Kloppers (Fiela se kind) en haar besigheidsvennoot, Monique Seigels. Hul draaiboek is op ’n storie wat Zenobia se ma oorvertel het, gegrond en is vir ’n Silwerskermtoekenning benoem. Dit gaan oor ’n jong verpleegster wat in die 1960’s by ’n grieselrige hospitaal werk. 



Saterdag 14 Oktober

’n Gids vir Louzanne

Die Bloemfonteinse paralimpiese blinde atleet Louzanne Coetzee maak tydens wedrenne staat op ’n ongewone hardloopmaat – ’n gids wat haar hardloopritme, fiksheid en spoed verstaan. Oor haar merkwaardige loopbaan heen, het Louzanne talle triomfe en teleurstellings saam met dié gidse beleef, en dié besonderse dokumentêr vertel hul storie.



’n Doop om stilte

Die wenner van die Silwerskermtoekenning vir beste kortfilm, ’n Doop om stilte, vertel die ontstellende verhaal van ’n graad-8-leerder wie se lewensuitkyk tydens die ontgroening by sy nuwe seunshoërskool omgedolwe word. Kanya Viljoen en Emilie Badenhorst het ook die toekenning vir beste regie ingepalm. Tiaan Luyt, die briljante jong hoofrolspeler wat self nog op die skoolbanke is, is as beste akteur benoem.



Saterdag 21 Oktober

Langafstand

Die inspirerende dokumentêr Langafstand, waarvoor Frankie Opperman en Reginald Hufkie die Silwerskermtoekenning vir beste regie gewen het, laat die kollig op Deon-Lee Hendricks val. Dié gerekende langafstandatleet, wat in Cloetesville in Stellenbosch woon, kon maklik in ’n spiraal van bende-aktiwiteite verstrengel geraak het, maar vandag staan hy as “die hoop van Cloetesville” bekend.



Die Swart Draak ontwaak

Die akteur Lee Roodt, ook ’n voormalige karate- en skopboks-Springbok, speel die hoofrol in die eerste gevegskunsfilm in Afrikaaps, waarvoor hy ook die draaiboek geskryf en al die gevaarlike waaghalstoertjiies gechoreografeer het. Die Swart Draak ontwaak het talle Silwerskermbenoemings ontvang, asook ’n spesiale vermelding vir choreografie by die fees se tegniese toekennings, waar dit die toekenning vir beste klankontwerp opgeraap het.



Koors

Die komedie Koors spreek met skerp humor ’n ernstige kwessie sydelings aan – die vreemde feit dat menstruasie steeds ’n taboe in ons samelewing is. Die Instagram-sensasie “Vroudrie”, oftewel Mandri Sutherland, vertolk die rol van die ambisieuse Simone wat nét voor ’n belangrike raadsaalvoorlegging aan hardekoejawelmans ’n verrassinkie in die dameskleedkamer kry.



Saterdag 28 Oktober

Die Blokke

Die grinterige Kaapse Vlakte-storie Die Blokke het drie belangrike kortfilmtoekennings by die 11de Silwerskermfees ingeryg: Beste akteur (Gershwin Mias), Beste draaiboek (Roxanne Blaise en Mujaahid Valley) en Beste kinematografie (Alfonzo Franke). Dié aksiedrama, met die polsende musiek van die rapper Cream Machine as klankbaan, is deur ware gebeure geïnspireer. Dit beeld ’n kringloop van geweld uit in ’n wêreld waar werk skaars is, die lewe goedkoop en die lewenskoste hoog.



As

As is die roerende verhaal van ’n kwesbare ma wat op ’n vreemde manier vasklou aan die laaste bietjie oorskot van haar oorlede dogtertjie. Dié rol het aan Roeline Daneel die Silwerskermtoekenning vir beste aktrise in ’n kortfilm besorg. Nisa Hockey se draaiboek is ook vir ’n toekenning benoem.



Straatrotte

Die ondeunde trio hawelose kinders van Straatrotte – ene Ebi, Zac en Nat – het omtrent die harte gesteel by vanjaar se Silwerskermfees. Straatrotte is aangewys as die fees se gehoorgunsteling nadat feesgangers se stemme getel is. Kashief Haqe, Justin Cloete en Maria Ruth Thomas wat die “straatrotte” speel, het ’n spesiale vermelding vir hul ensemble-spel gekry. Die film se grafika het ook met ’n spesiale vermelding erkenning gekry.



Saterdag 4 November

Hier/daar

Die akteur Edwin van der Walt, wat by die eerste Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie die beeldjie vir beste akteur in ’n televisiedramareeks (Donkerbos) ingepalm het, maak sy regisseursdebuut met Hier|daar. Dit is ’n vars, moderne storie oor liefde en rou waarin hedendaagse tegnologie die hoofkarakter voor moeilike keuses plaas.



Skakel elke Saterdag in vir al die vermaak!