Logo

Koekies en politiek

Nuus
27 Maart 2015

In die derde episode was die fyngebak-uitdaging om drie dosyn tradisionele handtertjies op te tower: Hertzoggies, Smutsies en Tweegevreetjies.

Smutsies en Tweegevreetjies is variasies op die gewilde Hertzoggie. Die beoordelaars Mari-Louis Guy, Elizabeth Cloete en Tiaan Langenegger het gesels oor hoe dié koekies aan hul naam gekom het.

“My oupa was ’n Hertzoggie-man,” het Mari-Louis vertel. Haar ouma het weer Smutsies verkies. “Die oumense was mos politiek-mal in Suid-Afrika,” het Elizabeth gesê. Die Hertzoggie is bekend vir sy bros kors (tertdoppie), appelkooskonfyt-vulsel en klapper-meringue-bolaag.

In haar essay ‘Catch with the eye’: stories of Muslim food in Cape Town deel Gadeba Baderoon die storie wat deur die koskenner Cass Abrahams vertel word. Dit blyk dat die Kaaps-Maleise gemeenskap die Hertzoggie (toe nog gemaak met appeljellie) uit opgewondenheid ontwikkel het. Genl. J.B.M. Hertzog het aan dié gemeenskap stemreg (vir vroue) en rasse-gelykheid belowe.

Verbreekte beloftes het tot die begin van die Tweegevreetjie gelei. Hulle het met dié koekie, bruin aan die een kant en pienk aan die ander, teruggekap toe Hertzog van hulle vergeet het. “Dis seker die land se enigste protes-koekie,” meen Mari-Louis. Die Tweegevreetjie is nie veel anders as die Hertzoggie nie, maar dit bevat Maleise geure soos kardamom.

Genl. Jan Smuts (hy het Hertzog uit sy amp as eerste minister gelig) se aanhangers wou niks van die Hertzoggie weet nie, en het hul eie koekie ontwikkel. Dié koekie het ’n deeg-lagie bo-op, en daar word baiekeer nie klapper gebruik nie.

Mari-Louis het haar wenke vir Hertzoggies gedeel:

  • Jou deeg moet koud wees, anders sal die koekie krimp. Plaas die pannetjie met die deeg sommer in die yskas, sodat dit kan afkoel.

  • Rol die konfyt in meel – dit voorkom dat die konfyt uitkook. Hoe kouer die konfyt, hoe beter.

  • Vir ’n lekker krakerige meringue, moenie te veel klapper gebruik nie.




Koekedoor is op Facebook, Twitter en Pinterest.