Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144SpelprogramPG

Jy kan die volgende Afrikaanse miljoenêr wees! – Wie word ’n miljoenêr?

Nuus
10 Junie 2022
Lees meer.
Wie word n miljoener

Daar is ’n miljoen redes hoekom jy vir Wie word ’n miljoenêr? moet inskryf, maar net een rede maak saak: Het jy die beste algemene kennis in Suid-Afrika?

Dié Afrikaanse weergawe van die gewilde Britse vasvraprogram, Who wants to be a Millionaire? was immers vanjaar ’n naelbyter op kykNET toe deelnemers se algemene kennis deur Rian van Heerden op die proef gestel is. En nou kan diegene wat hulself ook met ses nulle wil versoen vir die volgende seisoen van Wie word ’n miljoenêr? inskryf.

Rian gaan weer vir deelnemers ’n vriend en vraesteller wees en glo suksesvolle kandidate moet oor ’n paar belangrike eienskappe beskik.

“Diegene wat wil inskryf moet natuurlik ’n wye algemene kennis hê, maar ’n deelnemer moet veral in staat wees om onder druk  kalm te bly,” sê hy.

“Hulle wat in die warm stoel wil sit, sal antwoorde in ’n oomblik van twyfel, vinnig vir hulself moet kan uitredeneer.”

Volgens Rian is die spanning wat deurgaans in episodes opbou, ook deel van die program se wenresep.

Soos die Who wants to be a millionaire?-formaat vereis, moet deelnemers 15 meervoudigekeusevrae beantwoord om na die finale ronde, waar die gesogte miljoen rand gewen kan word, deur te dring. Langs die pad is daar hulplyne – oor na die gehoor, bel ’n pel en 50/50.

Niemand het tot op hede die miljoenrandvraag in die Afrikaanse weergawe van die reeks geantwoord nie, maar ’n handvol deelnemers is groot kontantbedrae ryker. Só was die sakejoernalis, Theunis Strydom, die grootste pryswenner in die eerste seisoen toe hy R500,000 gewen het.

Theunis het ook belangrike advies vir voornemende deelnemers.

“Sien jou deelname as ’n geleentheid om iets nuut te ervaar eerder as om geld te wen. Moenie te seker wees oor jou antwoorde nie, maar vat ’n paar kanse - R10,000 of R40,000 gaan nie noodwendig almal se lewe verander nie, so probeer vir meer gaan,” sê hy.

“As jy in die stoel kom, bly net kalm. Moenie worry oor hoe jy lyk nie en moet glad nie dink oor die prysgeld nie. Lees net die vrae rustig en praat lekker met Rian, want hy is die beste ou om saam met jou onder daardie skerp ligte te sit.”

Mense wat wil inskryf, moet teen 22 Julie ’n aanlyn algemene kennis-toets hier voltooi.

Inskrywings wat tot die volgende ronde deurdring,  sal ’n telefoniese onderhoud met die vervaardigers kry en ’n tweede algemene kennis-toets aflê. Diegene wat wil inskryf moet ouer as 18 wees en tussen 24 September tot 21 Oktober 2022 vir opnames in Kaapstad beskikbaar wees. (Reis en verblyf sal aan deelnemers wat nie van Kaapstad is nie, verskaf word.)

Wie word ’n miljoenêr? word voor ’n gehoor by Atlantic Studios, wat ook onder meer die tuiste van ander kykNET-reekse soos Suidooster en Kwêla is,  opgeneem word en sal van Januarie 2023 op die kassie uitgesaai word.