Logo

Groot oes SAFTA-benoemings vir kykNET

Nuus
14 Februarie 2020
Die benoemings vir vanjaar se SAFTA’s (South African Film & Television Awards) is vroeër vandag bekend gemaak en kykNET skitter in bykans al die kategorieë met ‘n reusetotaal van 68 benoemings.
kykNET&KIE_Print_Arendsvlei_GROUP (1)

In die afdeling vir uitblinkers in die TV-wêreld het die volgende programme op die kykNET-kanale benoemings gekry:

In die afdeling vir telenovela’s is Arendsvlei benoem vir beste regie, draaiboek, klankbaan, kostuums, kunsregie en Crystal Donna Roberts is as beste aktrise en Roberto Kyle Meyer is as beste akteur benoem. Die reeks is ook as beste telenovela benoem.  

kykNET en kykNET&kie se gewilde sepies het ‘n hele paar benoemings ingepalm. Binnelanders is benoem vir beste regie, beste klank, Ben Kruger is as beste manlike byspeler benoem en die reeks is as beste sepie benoem. Getroud met rugby is vir beste draaiboek en beste klank benoem. Suidooster se Denise Newman is as beste aktrise benoem en Ivan Abrahams as beste manlike byspeler. Arendsvlei , Binnelanders, Getroud met Rugby en Suidooster is in die kategorie beste TV sepie of telenovela benoem. 

Twee van kykNET se TV-flieks, Droomman en Stillenag, is benoem vir beste TV-fliek, en Waldimar Pelser is benoem as beste TV-aanbieder vir KN Verslag in Gesprek.

kykNET se dramareekse het net so goed gevaar. Jaco Bouwer is as beste regisseur vir Dwaalster benoem en die reeks is ook benoem vir beste klank. Spreeus het benoemings gekry vir redigering, klank, klankbaan en kinematografie en die reeks is as beste TV-drama benoem. Alles Malan is benoem vir klank, klankbaan, hare en grimering. Deon Lotz is benoem as beste manlike byspeler vir sy rol as Albertus “Smiley” Kriel in Die Byl 2.

Kokkedoor is benoem as beste kompetisie-realiteitsprogram, Die Ware Naarheid as beste verskeidenheidsprogram en Emo: 30 Jaar in Musiek is as beste vermaakprogram benoem. Elders: Japan het ‘n benoeming as beste leefstylprogram gekry. Die kykNET&kie-program Op Seer se Spoor is ook benoem in die kategorie, beste feitelike en opvoedkundige program.

Rolprente waarby kykNET betrokke was, het behoorlik die benoemings ingepalm waaronder Die Begrafnis (beste kortfilm) en Droomman asook Stille nag (beste rolprente vir TV vervaardig). Die speelfilms Poppie Nongena, Fiela se kind, Die verhaal van Racheltjie de Beer, ‘n Ander mens en Die seemeeu het tussen hulle nie minder as dertig benoemings gekry nie. Die verhaal van Racheltjie de Beer, Fiela se kind en Poppie Nongena is die drie benoemdes in die kategorie beste speelfilm. Sandra Prinsloo (Die seemeeu), Zenobia Kloppers (Fiela se kind) en Clementine Zitha (Poppie Nongena) is as beste aktrise benoem en Stian Bam (Die Verhaal van Racheltjie de Beer) en Albert Pretorius (Die seemeeu) is as beste akteur benoem. Cintaine Schutte (Die seemeeu), Anna-Mart van der Merwe (Poppie Nongena) en Wayne van Rooyen (Fiela se kind) is vir hulle ondersteunende spel benoem. Brett Michael Innes (Fiela se kind) en Christiaan Olwagen (Poppie Nongena) is as beste regisseurs benoem.

Die publiek kan stem vir hul gunsteling aanbieder, sowel as die gewildste sepie of telenovela. SMS die stemkode na *120*45884# en volg die instruksies op die skerm. Die SMS-lyne sluit op 28 Maart 2020.

Beste TV-aanbieder
Waldimar Pelser (kykNET Verslag in Gesprek): 5
Gewildste sepie/telenovela
Arendsvlei: 1
Binnelanders: 2
Getroud met Rugby: 3
Suidooster: 12

Weens die effek van die Koronavirus sal dié glansgeleentheid nie soos beplan voortgaan vanaf 27 – 28 Maart 2020 nie tot verdere kennisgewing.