Ja, die eerste keer wat ons dié beroemde driekampatleet ontmoet, is sy hemp skoonveld terwyl hy met hoë intensiteit in die park oefen.
“Ek is dalk nie ’n professionele atleet nie, maar nes Liam het ek nog altyd ’n groot passie vir oefen en sport,” verduidelik Abel (34).
“Ek kon dus fisiek voorberei vir hierdie karakter wat my so na aan die hart lê.”
Hoe klim jy in die lyf van ’n professionele, topfikse driekampatleet?
Oefen, oefen en nogmaals oefen, laat Abel hoor. “Ek het twee keer ’n dag gim toe gegaan, ’n streng dieet gevolg en self begin ernstig swem,” vertel hy.
“In daardie twee maande voordat ek die eerste dag op die stel moes wees, het ek verskriklik hard geoefen.”
Hoewel dit soms vreemd is om sonder ’n hemp op die kassie te verskyn, het sy rol in die wulpse Showmax-komedie Khaki Fever, hom voorberei om meer gemaklik voor die kameras te raak.
Dis juis omdat hy Liam in al sy vasette so geloofwaardig as moontlik wil uitbeeld, dat hy soos Liam op die kassie moet lyk.
“Dit is die mees intense rol wat ek al ooit gespeel het. Die voorbereiding en uitdagings met Liam het my ’n nuwe vlak van ontdekking van myself en my akteurspel gegee,” verduidelik Abel.
“Die oomblik toe ek lees wat sy uitdagings is, wat sy storie is en wie hy is, het ek onmiddellik ’n gut feeling gehad dat hierdie karakter vir my geskryf is.”
Van meet af kan kykers sien iets is vreemd aan dié energieke, dog vriendelike man wat uit die bloute in Boskruin opdaag. Hy praat vinnig, verloor konsentrasie in gesprekke en oefen so hard dat selfs die swemafrigters Gys (Justin Strydom) en René (Marijke Coetser) bekommerd raak.
“Nes Liam het ek ook ’n positiwiteit en lus vir die lewe. Maar Liam se energie kan soms mense oorweldig. Ek is baie meer bewus van hoe ek teenoor ander mense optree,” sê Abel, wat al in TV-produksies soos Spoorloos, Die fakulteit en 7de Laan te sien was.
Hoe Liam se persoonlike ondekkingsreis gaan ontvou, kan Abel nog nie verklap nie. Maar dit stem tog baie ooreen met sy eie reis om homself beter te verstaan.
Om deel te raak die Diepe Waters-wêreld, was vir Abel ’n groot eer. Die span was behulpsaam en hy kon vinnig sy voete vind.
“Ek en Marijke kom beide van Bethlehem af en het voorheen saam in ’n produksie gespeel. Selfs iemand soos Gys Swarts lyk altyd ernstig op TV, maar dan is Justin (Strydom) so saggeaard en lief vir al die mense om hom,” vertel Abel.
In 2026 wil Abel meer aandag aan sy sangloopbaan gee en sy inhoudmaatskappy, Abel Art Productions, uitbrei.
En vir tyd en wyl is Liam besig om die hele Boskruin plat te hardloop terwyl hy die traumas van sy geheimsinnige verlede probeer verwerk.
Skakel Maandae tot Donderdae 18:30 in vir Diepe Waters op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.


