Met al die feestelikhede in Desember, was dit maklik om per ongeluk die nuutste episode van Boer soek ’n vrou mis te loop. Ons sê nie dit is reg nie – maar ons verstaan dat tyd ’n denkbeeldige konsep is na jou derde glas sjampanje. So as jy die boere se eerste ontmoeting met hulle potensiële skoonmense misgeloop het, lees verder vir alles wat jy moet weet.
Dit was seker nie maklik vir ’n Oud-Matie om homself in Potchefstroom te bevind nie, maar op hierdie stadium sal Graham enige iets doen vir sy Ilne. Die reis was beslis die moeite werd toe Graham by Ilne se familie opdaag en onmiddellik tuis gevoel het. Ilne se ouers kon onmiddelik sien dat hy ’n eerlike mens is met ’n sagte hart.
Tydens die reeks het Graham altyd genoem hoe belangrik familie vir hom is so hy was bly om te sien hoe na Ilne aan haar ouers en haar sussie is. Ilne se ouers was ook baie bly om te hoor van Graham se familie waardes. Met Graham se kuiertjie was dit duidelik dat dit nie moeilik gaan wees vir hierdie jong paartjie se wêrelde om saam te smelt nie.
Op Instagram het Die Groot Ontbyt se Jorne laat weet dat hy nie van ons paartjie naam, #Grilne hou nie, maar dit lyk asof ons dit nog lank gaan hoor want hierdie twee het net hartjies in hulle oë.
Om meer uit te vind van #Grilne, kyk Boer soek ’n vrou elke Donderdag om 20:00.