Logo

Die 14de kykNET Fiëstas vereer twee kultuurreuse in die kunste

Nuus
21 Februarie 2024
Die akteur Tobie Cronjé en die teater-ikoon en dramaturg dr. Ismail Mahomed word vereer.
Tobie Cronjé en dr. Ismail Mahomed

By die 14de kykNET Fiësta-toekennings vanjaar word twee reuse in hul onderskeie velde as legendes vir hulle lewensbydrae tot die kunste in Suid-Afrika gehuldig. Die Fiëstas bekroon die beste werk wat in die vorige jaar by die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Toyota US Woordfees en Vrystaat Kunstefees – aangebied is.

Die ontvangers is die akteur Tobie Cronjé en die teater-ikoon en dramaturg dr. Ismail Mahomed. 

Tobie Cronjé is in 1948 in Germiston gebore. Aan die Universiteit van Pretoria het hy aanvanklik musiek studeer, maar hy het later na drama oorgeslaan.

Tobie, wat vir vyf jaar lid van TRUK se toneelgeselskap was, het sy fliekdebuut in 1973 gemaak in Die sersant en die Tigermoth en het in 1976 ’n huishoudelike naam geword toe hy teenoor Katinka Heyns in die gewilde TV-reeks Willem gespeel het. Sedertdien was hy in ongeveer 160 verhoogproduksies en 45 rolprente te sien. Vir hom is die proses van filmmaak en teaterwerk waar die lekkerte lê – die intimiteit en mededeelsaamheid wat akteurs beleef.

Hy sê hoewel sy energie deesdae effe minder is, word sy liefde vir teater en film net groter, en hy sou graag van sy kennis met jonger entoesiaste deel.

“Om hierdie Fiësta-toekenning te kry is ’n groot eer,” sê Tobie. “Daar was soveel hoogtepunte in my loopbaan, en hulle gebeur gewoonlik wanneer mens uitgedaag word. Soos met I Love My Wife toe ek vinnig moes leer sing, dans én ’n Amerikaanse aksent doen, of in flieks soos Hans steek die Rubicon oorTjommies en Lafras Verwey. In ’n pantomime moes ek een jaar op stelte loop, en as die regisseur sê jy moet stilstaan, is dit amper onmoontlik.”

Vir hom is gehore se reaksie soos terapie. “Ek het heelwat klugte gedoen en wanneer jy nie op die verhoog is nie, kan jy die gehoor deur ’n skrefie aan die kant dophou. Om te sien hoe mense hulle arms in die lug gooi en van hulle stoele afval van lag, is ’n groot vreugde. Alle pyne, kwale, pretensies en bekommernisse verdwyn wanneer mense só lag,” sê hy.

Dr. Ismail Mahomed het al diep spore in die Suid-Afrika kunste getrap. Sy loopbaan het as wiskunde-onderwyser begin, maar hy het weldra sy pad na die teater gevind, en die afgelope 40 jaar is hy bekend as een van die land se beste administrateurs wanneer dit by kuns en kultuur kom. Mahomed is ook ’n gerekende dramaturg, en sy werk is hier en in die buiteland opgevoer.

In sy loopbaan was hy onder meer direkteur van die Creative Arts Workshop in Lenasia (1995-1996), artistieke direkteur van die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, deesdae Makhanda, en hoof- uitvoerende beampte van die Markteater-stigting. Tans is hy die direkteur van die Sentrum vir Skeppende Kunste by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy dien ook op die direksies van, onder meer, die KKNK en Aardklop.

“Die afgelope 40 jaar in die kunste, het ek die wonderlike geleentheid gehad om met kunstenaars te werk oor die breë spektrum van Suid-Afrika se kulturele diversiteit,” sê hy.

“Ek sien elke dag hoe die kunste ’n belangrike rol in nasiebou speel. Ons is as ’n land geseën met soveel stories en kunstenaars wat die ongelooflike mag het om hierdie stories deur kreatiwiteit en uitnemendheid te vertel. Húlle is my inspirasie.”

Hy sê kunstefeeste is sy lewenspassie, en hy beskou sy tyd by die Nasionale Kunstefees as een van die hoogtepunte in sy loopbaan. “By die Sentrum vir Skeppende Kunste staan ek op die oomblik aan die hoof van ses feeste. Om saam met kunstefeeste te werk, sit my in die middel van innovasie, kreatiwiteit, eksperimente en leierskap.”

Dr. Mahomed is al verskeie keer vir sy monumentale bydrae tot die kunste vereer. Hy het al, onder meer, ’n Paul Harris-toekenning (die Rotariërs se hoogste eerbewys), ’n Standard Bank Ovation-toekenning en ’n Chevalier le Ordre Nationale du Mérite van die Franse regering ontvang. Dis vir hom baie spesiaal om nou ook hierdie Fiësta-toekenning te kry. 

“Ek aanvaar dit met nederigheid en voel geëerd om aan te sluit by die lys van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat my inspireer het, my hoop gegee het en my passie vir die kunste help vorm het. Ek aanvaar dit met diepe dankbaarheid vir die kunstenaars, vennote en befondsers wat so ’n belangrike rol in my loopbaan gespeel het.

“Dit gee erkenning aan die werk wat ek vir die bevordering van kunstenaars wat in Afrikaans werk, gedoen het en ook my bydrae tot die raad van die KKNK en Aardklop. Hierdie Fiësta-toekenning op my rak sal my deurentyd herinner dat my professionele loopbaan in die kunste begin het toe ek in Afrikaans toneelstukke geskryf het,” sê hy.

Die 14de kykNET Fiëstas vind op Donderdag 7 Maart 2024 by The Lookout in die V&A Waterfront in Kaapstad plaas. Die geleentheid is slegs vir genooide gaste, maar hou sosiale media, TV-programme soos Fiësta en Bravo! en ander media dop vir meer nuus oor dié glansaand.