Logo
CW Slim BB BSV S15 Redelivery
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144Realiteit13 L

Blitsvinnig verlief - Boer Soek 'n Vrou

Nuus
31 Januarie 2023
Die boere ontmoet hulle dames vir 'n blitsafspraak.
Boer soek 'n vrou

50 dames, 5 boere, 5 minute.

Die senuwees en opwinding was tasbaar soos wat ons 5 boere van 'n foto en 'n brief nou elkeen vyf dames in lewende lywe voor hulle het. Hier is ons eie blitskyk-weergawe van wat gebeur het en wie die 5 dames is wat elke boer gekies het om beter te leer ken. 

Boer Francois

Dalk die oudste boer in die seisoen, maar Francois se hart is nog jonk. Hy weet presies waarna hy soek en na jare se ervaring deel hy so hier-en-daar advies oor hoe om die vonk te voel met die ander jonger boere ook. Tussen vrae oor kinders wat oorsee woon, watter waardes hulle na die plaas toe sal bring en 'n stoute geskenkie het Francois gekies om die volgende dames beter te leer ken: Lizelle, Lorinda S, Lorinda L, Vanessa, en Chantal.

Boer Hennie

Plat op die aarde en lus vir die lewe is hoe die dames vir Boer Hennie beskryf het en hulle is reg. Na interessante gesprekke oor hoekom die dames ingeskryf het tot wat hulle gunstelling flieks is, het ons graan boer van die Wes-Kaap besluit om die volgende dames beter te leer ken: Natania, Rachelle, Madeleen, Jane, en Eloise. 

Boer Philru

Hy mag dalk bloedrooi in die gesig word wanneer hy lag, maar dit is een van die dinge wat die dames wat vir Boer Philru ingeskryf het die meeste van gehou het. Die senuwees het vinnig bedaar soos wat die dames een vir een met 'n warm drukkie ontmoet was en die gesprek het gevloei tussen geloof, waardes en liefde. Hier is die vyf dames wat die Vrystaat beesboer gekies het om beter te leer ken: Sumari, Carlissa, Lane, Karla, Talita. 

Boer Louis B

Dit was dalk Boer Louis B se pampoene wat die dames opgewonde gehad het vir die blitsafsprake in die week se episode, maar hierdie Ottosdal boer was meer belang gestel in hoe hulle drukkies voel. Met 'n seer hart het Louis 5 dames gekies en vir die ander elkeen met 'n geskenk en aanmoediging gelos. Hier is die vyf dames wat hy beter gaan leer ken: Rachel, Nicola, Kisha, Cherece, Sune. 

Boer Louis M

Een van ons gunstelling boere begin die dag deur te sê: "al vind nie een van die boere hierdie seisoen liefde nie, dat hulle verseker 'n groep vriende gevind het." Nadat hy die ervaring vergelyk het met Kurt Darren se Meisiesfontein, val hy in met die moeiliker vrae in sy blitsafsprake. Hier en daar het die dames sy energie gelykgestaan en hy het op die einde die volgnede vyf gekies om beter te leer ken: Jane, Alichia, Anja, Dihana, Laurette. 

As jy net vyf minute gehad het om vir iemand te wys wie jy is, wat sou jy sê of doen? 

Skakel elke Donderdag om 20:00 in vir al die vermaak en gesels saam deur die hutsmerk #BoerSoeknVrou op Facebook, Instagram en Twitter te gebruik.