Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binneland se nuwe gesig – Binnelanders

Nuus
25 Augustus 2021
Roelien Daneel is die nuwe gesig in Binnelanders, as Janneke Stuurman – die geskeide enkelma van Charlotte, een van Vicky se skoolmaatjies.
B11 ep68 3

Wat is Janneke se karaktereienskappe waarvan jy die meeste hou? 
Sy is empaties en intelligent. Sy is ook 'n werkende ma en boonop nog 'n enkelma. Dít verg deursettingsvermoë. Ek bewonder dit. 

Jy is ook ’n ma van klein Alexa wat in 2019 gebore is. Wat is die beste raad wat jy gekry het toe jy weer begin werk het? 
Ek dink elke werkende ma is bekend met die konsep van "mom guilt". Maar ek het erens gelees of gehoor dat die beste ding wat 'n ma veral vir haar dogter kan wys, is dat sy 'n sterk en intelligente vrou is wat belangstellings en aspirasies buite die huislike sfeer het. Dit maak die afskeid, die whatsapp video-oproepe en die laataand woorde leer (want dis al tyd wat daar is) die moeite werd.

Kyk jy met ander oë na jou eie ma noudat jy self ma is? 
BeslisNa beide my ouers. Ek verstaan nou vir die eerste keer werklik die onvoorwaardelike liefde waarvan hulle altyd gepraat het. En die selfloosheid wat dit verg om 'n kind groot te maak. Jou hart loop voorwaar buite jou liggaam rond.

Wat is jou grootste wense vir Alexa? 
Dat sy gelukkig is, wat ookal dit vir haar beteken. Dat sy genot kry uit die klein plesiertjies en dat sy veerkragtig genoeg is om die aanslae  van die lewe af te weer. 

Watter vrou in die geskiedenis sal jy graag wil speel? 
Ek het as kind 'n hele paar skooltake oor Marie Curie gedoen, so dit sal dalk lekker wees! Ek hou ook daarvan dat sy nie bekend was oor wie haar man was of oor watter titel sy geërf het nie. Geskiedenis was my gunsteling skoolvak en ek is mal oor periodedramas, so enigeen sal eintlik lekker wees. 

Jy werk ook agter die skerms. Moet alle akteurs deesdae op meer as een stoel kan sit? 
Ja, ek dink nie ons bedryf is groot of gesond genoeg dat akteurs kan bekostig om nét akteurswerk te doen nie. Amper alle akteurs wat ek ken, het side hustles ook: hulle vervaardig, skryf, doen grimering. Ek dink dis wonderlik as mens betrokke voor en agter die lens is. Dit skep groter begrip vir die uitdagings van die bedryf. 

Jy is deel van ’n groep akteurs wat tweede generasie-spelers is; mense soos Ludwig Binge, Hannah Borthwick en Jenna Dunster. Dink jy dit is tot julle voordeel? 
Ek dink daar is dalk 'n voordeel in die sin dat daar 'n aanname is dat jy die bedryf verstaan, professioneel sal optree en dieselfde werksetiek na die tafel sal bring as jou ouer. Maar dit kom nie sonder uitdagings nie. Mens moet harder werk om jou eie identiteit te vestig. Ek het 'n doelbewuste besluit geneem 'n paar jaar gelede om minder ma-en-dogter stories te doen, want dit raak later al wat mens is. Ek is bitter lief vir my ma, maar ons is baie anders as mense en as akteurs. En dit was (en is soms steeds) 'n stryd om onder haar rokspante uit te kom.

Wat is die grootste ding wat jy die afgelope jaar geleer het? 
Dat mens baie meer energie het as wat mens dink mens het. Ek is iemand wat nogal alleentyd nodig het om behoorlik te herlaai - 'n luukse wat ek nie meer aldag het nie. En tóg kry mens als gedoen wat gedoen moet word. Een voet voor die ander. 

Wat hou jou positief? 
My dogtertjie. Daar is iets magies daaraan om alles vir die eerste keer weer deur haar oë te sien. Die maan, die bure se hond, ons die wind in ons suurlemoenboom se blare - alles is vir haar mooi en/of snaaks. En dus sommer vir my ook. 

Wat is jou wens vir vroue in Suid-Afrika? 
Dat hulle onafhanklik kan wees. Dat hulle veilig kan wees. In hulle eie huise, in die werkplek, op publieke vervoer, op bergpaadjies en laataand op straat.

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.