Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Albert Maritz: Springlewendig en gesond – Alles Malan

Nuus
11 Januarie 2022
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Episode 7

Daar was emosionele oomblikke toe Derik Malan (Albert Maritz) in episode 6 gesterf het en hy in episode 7 op video sy laaste boodskappe aan sy familie gegee het. Vir die Malans is dit natuurlik ’n reuse slag om hulle patriarg te verloor, maar in werklikheid is Albert op 61-jarige ouderdom nog fiks en gesond.

“Die Woendag ná die episode waarin ek gesterf het, het ek drie ure gaan fietsry,” sê Albert en lag. “Die middag het ek in die see gaan body board, die Donderdag het ek 50 lengtes gaan swem en die Vrydag was ek weer drie ure op die fiets. Op ’n stadium het ek vir myself gesê: Nie sleg vir ’n ou toppie wat die ander aand dood is nie.” Hy is ook deel van Cold Joy, ’n groep in Melkbosstrand wat een keer per week vir ’n halfuur in die koue seewater sonder duikpakke dobber.

Hier is nog ’n paar feite oor die legendariese akteur en regisseur se lewe en loopbaan.

  • Albert en Elsabé Daneel, wat die rol van Brenda Malan speel, het al op skool saam gewerk toe hulle altwee radiodramas vir die SAUK gedoen het. “Elsabé was in matriek toe ek in standerd 6 was en was van die begin besorg oor my. Sy en mense soos Edith Rossouw en Nerina Ferreira het my regtig onder hulle vlerk geneem.” Later was Albert en Elsabé onder meer te sien in die fliek Strikdas en was hulle man en vrou in Suidooster. “Ons het ook onlangs klaar gemaak met ’n sitkom vir SABC2 waar ons saam speel.”
  • Sport is een van Albert se groot liefdes en hy was eens die sportredakteur by Punt Radio. “Daar is min sport wat ek nié kyk nie. Ek hou nie noodwendig van sokker en gholf nie, maar is netbal se grootste fan. Dan natuurlik krieket en rugby en veral fietsry. Ek het toe ek by Punt Radio was ’n kompetisie gewen met my voorspellings en het ’n enorme bottel vonkelwyn gewen wat nou nog in my huis is.”
  • Albert is nie net ’n baie talentvolle akteur nie, hy is ook ’n gesiene regisseur. Hy het in 1997 reeds met skoletoneel begin en later opvoedkundige teater gedoen. In 2004 het hy sy reis met klassieke Afrikaanse tekste begin toe hy regisseur van Faan se trein was. “Die pandemie het natuurlik ’n dinge deurmekaar gekrap en daar is ’n klomp werk wat wag om te gebeur. Ek hoop die muse sal hierdie jaar gunstig teenoor my glimlag.” Hy sê een van die uitdagendste stukke wat hy gedoen het, was Agterstevoor. “Dit was in opdrag van Karen Meiring wat toe nog hoof van die KKNK was. Daar was ’n muur in die middel van die lokaal en ’n groep akteurs het twee stukke opgevoer – een aan die een kant van die muur en ’n ander een aan die ander kant van die muur. So dieselfde spelers sou op een verhoog gespeel het, om die muur gestap het en dan in die ander stuk gaan speel. Pouse het die gehore omgeruil so almal het die twee stukke gesien. Ek kry nou nog mense wat my voorkeer en daaroor praat.”
  • Sy nuwe jaar het reeds afgeskop met oorklankingswerk op een van die Turkse sepies, ’n radiodrama deur Charles Fourie waarin hy speel en TV-films vir kykNET wat later vandeesmaand in Johannesburg verfilm word. “Ek is baie dankbaar ek is so besig,” sê hy. “Solank daar tyd is vir sport kyk!”
  • Albert, wie se pa die akteur Dawie Maritz was, is pa van twee seuns – die akteur en aanbieder Viljé en Martiens, ’n argitek. “Martiens het pas begin werk waarop ek baie trots is en Viljé en Lianry het my die eerste keer oupa gemaak met klein Allie wat na my vernoem is – Albert van Zyl Maritz. Dis heerlik om oupa te wees, werklik louter vreugde. Viljé en Lianry het sulke groot harte en wil ons soveel moontlik deel van Allie se lewe maak.”

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).