Logo

Aardklop 2015: Siener in die suburbs

Nuus
02 Oktober 2015
Die teaterstuk Siener in die suburbs deur P.G. du Plessis word vanjaar by Aardklop in die Sanlam-ouditorium vanaf 6 tot 10 Oktober 2015 opgevoer.
300 x 250 aardklop curves
Die teaterstuk Siener in die suburbs deur P.G. du Plessis word vanjaar by Aardklop in die Sanlam-ouditorium vanaf 6 tot 10 Oktober 2015 opgevoer.

“Ek wil van geweet wees, Ma, ek wil nie vrek soos ’n hond nie, ek wil van geweet wees” - die wanhopige kreet van Tiemie, die pragtige jong vrou van du Plessis se Hertzogprys-bekroonde drama.

Vele snobistiese teatergangers het die stuk in die jare sewentig afgemaak met: “Daar bestaan nie sulke mense nie.”  Maar daar was, daar is, en hulle is dalk jou bure.  En met ’n tikkie ongemak weet jy dat wat toé al die daaglikse lot van vele vroue was, vandag die siekte van ons tyd is.

’n Mens kry die perfekte Jakes van Brendon Daniels.  Hy is gladdebek, straatkat sonder gewete, selfsugtig, wreed.  Die gebrul van sy motorfiets kondig aan: “Hier kom moeilikheid – gróót moeilikheid.” (Mariana Malan - Die Burger)

Siener in die suburbs speel af teen ’n agtergrond van maatskaplike verval, maar die fokus bly op die komplekse onderlinge menseverhoudings. “Dis nie ingewikkeld nie, nie hoogdawerend, betogend nie, dis sonder etikette, so inheems soos die skrywer self, dis komies en ontroerend.” (Chris Barnard)

En soos die geval is met die meeste goeie teater is daar ’n tydloosheid aan hierdie drama.  Dié is mense wat vasgekeer is in ’n goor oerwoud van stinkende straatjies, gangetjies en vullisemmers. Dit is verknoeide en inmekaar gekoekte lewens, hopeloos en vooruitsigloos.

Maar elkeeen in homself: ’n hele mens, met sy eie liefde en haat.  As ons Afrikaanse teater wil hê, eietyds, met geweld, rou, verskriklik, maar met groot liefde en begrip geskryf, en bowenal met kennis van wat kán, móét en daarom mág, laat dit dan só daar uitsien.

Regisseur Heinrich Reisenhofer bring sy intense belangstelling in menslike en sosiale kwessies na hierdie ikoniese kultuurskat.

Vanaf die skrywer:

“Hoe ek voel noudat Siener weer opgevoer gaan word? Bly, dankbaar en geëerd, dankie, want dit wys ek het darem tog iets met die ding reggekry - dat hy na ongeveer 44 jaar en diep-in-die-dertig drukke nog waardig geag word vir heropvoering en herdrukke.

“Hy en ek het oor die jare tientalle produksies van wisselende gehalte saam-saam meegemaak, ook ’n film, en op ’n manier het ons dit oorleef.

“Daar moet dan tog seker êrens in die ding ’n pit sit wat met gehore werk. Dalk kom dit maar uit sy herkoms uit die destydse suidelike voorstede van Johannesburg waar ek loop skoolhou het en vele vorme van die menslikheid, goed en sleg, ervaar het.

“Hy is boonop op lughawens geskryf toe ek alleen sit en huis toe verlang het met die enkele bandjie van Beethoven se Negende wat die lughawegeraas moes besweer deur my primitiewe oorfone uit my nog primitiewer bandopnemertjie.


“Dalk het Siener my geleer om die uiteenlopende hartsere, vreugdes en verlangens van ons kortstondige menswees - en ons verbystering voor ons drifte - lief te kry.  Ek weet nie, maar ek is veral bly oor die Kaap, want met sy begin het die stuk krities maar swaar getrek hierbo in die ou Transvaal (behalwe vir Chris Barnard en die gehore) maar in die Kaap het W.E.G. Louw in Die Burger hom gul ontvang en die sale was vol. Ek is lief vir die Kaapse mense.

“Dankie dat Siener hierdie keer deur julle monde, lywe en menswees kan praat.”

34 300 x 250 aardklop curves