Diepe Waters' Jacques en Theresa se droomtroue
’n Nuwe hoofstuk begin vir Jacques en Theresa! Ná al die seer uit die verlede en die struikelblokke op hul pad, het die geliefde paartjie ewige troue aan mekaar belowe in ’n betowerende tuintroue by die Swarts-woning.
Kykers van kykNET (DStv-kanaal 144) se gewilde telenovela Diepe Waters is meegevoer deur 'n romantiese en emosionele hoogtepunt toe twee van die reeks se mees geliefde karakters, Jacques en Theresa, in Donderdag 20 Augustus se episode uiteindelik hul beloftes van ewige liefde aan mekaar afgelê het.
Die pad na die altaar was ’n oploop van drama, misverstande en selfs 'n beweerde "familie-vloek". Maar ná 'n private en amptelike seremonie by Binnelandse Sake die vorige dag, het die paartjie die feestelikhede afgesluit met 'n onvergeetlike tuintroue by die Swarts-woning.
Die aanloop tot die troue het vele uitdagings ingehou. Jacques het oorspronklik beplan om 'n afrigtingprojek in Kenia te kombineer met hul vakansie-/trouplanne na Zanzibar, wat 'n groot verhoudingskrisis veroorsaak het toe Theresa daarvan uitvind. Kort daarna het Theresa se ma, Petru (Roelien Spruyt), en haar eksentriese Tannie Patricia (Ilse van Niekerk) opgedaag. Patricia het beweer dat daar 'n dodelike bloedlyn-vloek op hul familie rus en het geëis dat Theresa in 'n stowwerige Victoriaanse trourok trou om te verhoed dat Jacques dieselfde lot tref as vorige eggenote.
Nadat Katinka en Fouché bewys het dat die "vloek" bloot 'n leuen van Patricia was om geld te eis, het Theresa die saak met R100 000 afgehandel sodat voorbereidings vir die regte droomdag kon begin. Die spanning was egter nie verby nie: tydens 'n onbeplande "ontvoering" vir Jacques se vrygeselpartytjie het hy ná 'n paintball-wedstryd gestruikel en met 'n lelike blouoog geëindig. Danksy Petru se behendige grimeervaardighede kon die bruidegom steeds op sy allerbeste lyk!
Vir hierdie besondere geleentheid het die produksie die kundigheid van die bekende Suid-Afrikaanse mode-ontwerper Diaan Daniels ingespan. Daniels was verantwoordelik vir die eksklusiewe ontwerp van die trougeselskap se uitrustings:
- Theresa (Mandi Baard): Asemrowende bruidsrok
- Jacques (Werner Coetser): Stylvolle troupak
- Sanet (Nadia Valvekens): Elegante uitrusting vir die hoofstrooimeisie
- Leandri (Christel van den Bergh): Pragtige strooimeisierok
- Rossouw (Altus Theart): Stylvolle troupak vir die hoofstrooijonker
- Pam (Tracy-Lee Oliver): Unieke en elegante rok vir die "best person"
Gys (Justin Strydom) het nie net die seremonie gelei nie, maar ook die paartjie as 'n trotse pa geseën. Rossouw (Altus Theart) het as hoofstrooijonker gedien en 'n roerende heildronk op die familie ingestel, terwyl Pam (Tracy-Lee Oliver) — in haar rol as Jacques se "best person" — die gaste met haar sang betower het. Theresa se bruidsgevolg het bestaan uit haar hoofstrooimeisie, Sanet (Nadia Valvekens), en strooimeisie, Leandri (Christel van den Bergh).
Juvan (Christiaan Ackerman) het beheer van die tuinkroeg geneem en 'n unieke middeleeuse aksent gebring deur Tommie en Fouché in middeleeuse drag te klee.
Lettie (Stephanie Baardman) het gesorg dat gaste smul aan haar spyseniering, insluitend haar bekende wortelkoek wat as die amptelike troukoek gedien het.
Ná al die seer uit die verlede, en struikelblokke wat Jacques en Theresa moes oorkom, het die liefde uiteindelik oorwin. Hierdie droomtroue is nie net ’n viering van hul huwelik nie, maar die begin van ’n nuwe, pragtige hoofstuk vir hulle.
*Diepe Waters word Maandae – Donderdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dis ook op DStv Stream beskikbaar.