Drie dinge wat jy moet weet oor Taktiek S2

Drie dinge wat jy moet weet oor Taktiek S2

kykNET 13 October 2026

Taktiek se tweede seisoen begin op 25 Oktober om 20:00 op kykNET.

Drie dinge wat jy moet weet oor Taktiek S2

Schusterton is steeds die veiligste dorpie in die land, maar vir die Taktiek-sekuriteitspan is daar oorgenoeg moeilikheid – en min daarvan het met misdaad te doen.

In die tweede seisoen van dié kykNET-komedie moet Lisa [Leché Schroder (nee Joubert)] die onderneming aan die gang hou terwyl haar pa, Jorrie (Deon Lotz), sy eie sekuriteitsmaatskappy begin en haar direkte mededinger word.

Teken in op DStv  

Intussen verskuif die span se hoofkwartier na ’n ou kerk, en sorg muisneste, familieprobleme en ingewikkelde vriendskappe vir meer drama as enigiets wat in Schusterton se strate gebeur.

Hier is drie dinge om te weet:

1. Daar is nou twee sekuriteitsmaatskappye in ’n dorp wat skaars een nodig het

Jorrie begin sy eie sekuriteitsmaatskappy en word sy dogter, Lisa, se direkte mededinger. Nou moet pa en dogter hul verhouding probeer herstel terwyl hulle in kompetisie met mekaar is. Familie en besigheid was nog nooit ’n maklike kombinasie nie – en Jorrie maak dit beslis nie makliker nie.

2. Die span trek kerk toe

Taktiek se nuwe hoofkwartier is ’n ou kerk. Die span hou nou vergaderings in die kerkbanke, terwyl Lisa vanuit die moederkamer moet probeer om orde te handhaaf. Ook hul kuierplek kry ’n nuwe voorkoms. Nadat die kroeg sluit, begin Bronwyn (Melissa de Vries) ’n food truck om steeds haar kliënte te bedien. Dis ’n nuwe adres, maar met al dieselfde ou streke.

3. Goose ontplooi ’n nuwe taktiek om Lisa se hart te wen

Goose (Bennie Fourie) besluit die pad na Lisa se hart loop deur vriendskap. Sy redenasie? Getroude paartjies sê altyd hulle is mekaar se beste vriende. As hy dus eers haar beste vriend word, behoort die res mos vanself te volg. Intussen raak Attie (Schalk Bezuidenhout) verlief op Venter (James Borthwick) se dogter. Om die dorp veilig te hou, lyk skielik heelwat eenvoudiger as om jou hart te beskerm.

Die regiespan bestaan uit Bennie Fourie, Beer Adriaanse en Mila Guy. In die rolverdeling is Bennie Fourie, Leché Schroder (nee Joubert), Schalk Bezuidenhout, Mandri Sutherland, James Borthwick, Keeno Lee Hector, Deon Lotz en Melissa de Vries.

Kykers kan ook uitsien na talle ander bekende akteurs, wat die eerste keer ’n verskyning in Taktiek maak, soos Beer Adriaanse, Mila Guy, Carel Nel, Zenobia Kloppers, De Klerk Oelofse, Dirk Stoltz, Daneel van der Walt, Melt Sieberhagen en Louw Venter.

Taktiek se tweede seisoen begin op 25 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices