Lamb Champs se Gauteng-kompetisie wenner se ongelooflike storie

Highlights

Twee hartoorplantings, ’n fratsongeluk en die deursettingsvermoë om Lamb Champs se Gauteng-kompetisie te wen.

Lamb Champs se Gauteng-kompetisie wenner se ongelooflike storie

Die jaarlikse Lamb Champs-kompetisie, en die gelyknamige kykNET-program wat Woensdagaande om 20:00 uitsaai, gaan oor veel meer as net skaapvleis. Dit delf dieper om as’t ware die egte kuns van lamsboerdery regoor Suid-Afrika te verken.

Om dit reg te kry, moet die hartklop van die industrie – die boere asook die organisasies wat die boere ondersteun – se stories vertel word.

Teken in op DStv  

Sodoende leer kykers in die jongste episode vir boer JP Nel en sy skoonfamilie van die plaas Enkelbos buite Vryburg in Noordwes ken. Hier boer JP hoofsaaklik met dorpers saam met sy skoonouers, Tjaart en Christelle Steyn, en vrou, Melinda.

As wenners van die Gauteng-afdeling van die kompetisie in 2025, weet hulle watter harde werk dit verg om as kleiner boerdery te verseker dat die kwaliteit van jou kleinvee en produkte van die hoogste gehalte is.

“Om te wen het vir ons baie beteken, want dit wys vir ’n mens dat jy nie op duisende hektare hoe te boer om ’n goeie boerdery te hê nie. Dit is lekker om te sien hoe al die harde werk wat ’n mens insit, beloon word,” verduidelik JP (32).

En harde werk is dit beslis.

“Elke jaar het sy uitdagings, of dit goed of sleg gaan met jou boerdery. Dis harde werk en jy moet op jou voete dink. En jy moet bereid wees om elke dag te leer,” sê hy.

Een van die vele aspekte van hul storie wat kykers se harte roer, is die terugslae wat veral Melinda en pa Tjaart se lewens destyds kom omdolwe het.

Beide Tjaart en Melinda moes onderskeidelik op 21 en 13 hartoorplantings kry nadat hulle met kardiomiopatie gediagnoseer is. Dit is ’n baie ernstige hartsiekte waar die hartspier sukkel om bloed deur die liggaam te pomp.

“Hulle bly vir my ’n voorbeeld van hoe jy moet lewe. Jy kan nie op ’n hopie gaan sit as daar ’n terugslag in jou lewe kom nie. Jy moet vorentoe gaan, want jy het ’n tweede kans op die lewe gekry,” verduidelik JP.

“Melinda gee skool en het haar eie koekbakbesigheid. Sy het besluit dat hierdie dinge nie haar gaan onder kry nie,” voeg hy by.

Op 10-jarige ouderdom het Melinda, ’n grondslagfaseonderwyser, in ’n fratsongeluk onder die agterband van ’n trekker beland. Sy vertel roerend in die episode hoe sy wonderbaarlik oorleef het, maar dat die gewig haar ribbes by haar rug laat breek het en dat haar een long platgeval het.

Weens haar gesondheid moet JP en Melinda (30) se plan om kinders te kry, effens aangepas word. Hulle sal graag ’n surrogaat-ma wil kry om dié droom vir hulle te verwesenlik.

“Ons is nog op soek vir iemand wat ons kan help as ’n surrogaat. Ons wag nog vir iemand wat voel die Here lê dit op hul hart,” vertel JP nou.

Maar struikelblokke, het die lewe hulle al geleer, is nie ’n doodloopstraat nie. Veral nie as ’n mens aanhou in geloof hard werk nie.

JP is die ondervoorsitter van sy plaaslike boerevereniging, jongboerverteenwoordiger en betrokke as leier van Vryburg se buurtwag. Hy is ook onlangs as een van drie finaliste van Agri NW se jongboer van die jaar aangekondig, waarvan die wenner in September bekend gemaak sal word.

“Die gemeenskap is kardinaal. Jy het jou gemeenskap in die dorp nodig. Als wat hulle vir jou gee moet jy terugploeg binne jou gemeenskap,” vertel JP.

JP se ondersteuningsnetwerk speel ’n belangrike rol as dinge moeilik gaan. Hy kyk veral op na sy skoonpa en vrou se deursettingsvermoë.

“Hulle lewe elke dag hul lewe voluit, so as jy net saam met hulle gaan, dan leef jy ook jou lewe voluit.”

Teken in op DStv  

Lamb Champs: Die kuns van skaapboerdery wys Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices