Erns deurkruis Viëtnam in nuwe Elders

Highlights

In die splinternuwe, SAFTA-bekroonde seisoen van Elders pak Erns Grundling ’n uitdagende dog epiese reis van noord na suid deur Viëtnam aan.

Erns deurkruis Viëtnam in nuwe Elders

Is Viëtnam op jou emmerskoplys? Indien nie, mag jy dit dalk vinnig heel bo insluit wanneer die nuwe en agste seisoen van die gewilde reis- en leefstylreeks Elders op Sondag 19 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin uitsaai.

Teken in op DStv  

 

Die vorige seisoen, Elders: Ligtoringroete (2025) is vroeër vanjaar met ’n SAFTA-toekenning in die gesogte kategorie “Best Lifestyle Programme” op Suid-Afrikaanse televisie bekroon. Dit is Elders se tweede SAFTA-toekenning, ná Elders: Japan in 2020.  

In die splinternuwe Elders: Viëtnam verken die stapper en skrywer Erns Grundling hierdie fassinerende land in Suidoos-Asië tydens ’n epiese reis van noord na suid.

“Ek het besluit dit is tyd om ’n nuwe, byna wildvreemde land vir die eerste keer te besoek,” vertel Erns. “Viëtnam fassineer my al van kleins af en ek hoop die nuwe seisoen is ’n uitnodiging aan kykers om self die land se natuurskoon, ryk geskiedenis, vriendelike mense en smullekker kos te ervaar.”

Die aksie skop af in die hoofstad, Hanoi, en beweeg dan met ’n wye draai verder noord na plekke soos Sa Pa (naby Fansipan, die hoogste berg in Indochina) en selfs tot by die grens van China. Ikoniese bestemmings soos Ha Long Bay (met letterlik duisende eilandjies) en Ninh Binh (jy het hierdie betowerende landskap dalk al in ’n King Kong-fliek aanskou) is volgende aan die beurt. Ander hoogtepunte sluit in Phong Nha se magiese grotte, die Amerikaanse weermagbasis Khe Sanh en natuurlik die bekende en energieke stad Ho Chi Minh City (vroeër bekend as Saigon) in die suide van die land.

Erns Grundling and friends in Vietnam

Elders: Viëtnam word vervaardig deur Bonanza Productions en is in September en Oktober verlede jaar verfilm. “Ons was veertig dae weg van die huis en ek het my vrou Catharien en tweelingseuntjies André Jakkals en Henry Wolf vreeslik gemis,” sê Erns. “Maar dit bly ’n enorme voorreg om my passie vir reis en stories vertel met Elders te kan uitleef en te kan werk met ’n fantastiese kameraspan.”

Erns gee wel toe dit was een van die mees uitdagende projekte nog. “Viëtnam het ’n komplekse en gedugte burokrasie en ons moes bontstaan met filmpermitte en toestemming. ’n Toesighouer van die regering was ook deel van die filmspan en ons moes twee plaaslike drywers inspan om ons deur die land te vervoer. So ons was vir die eerste keer ’n span van nege en almal moes mooi kophou, wat gelukkig die geval was. Verder was daar ook verskeie tifone wat die land getref het tydens ons besoek. Ek het later ophou tifone tel. Maar al ons bestemmings het wonderbaarlik uitgewerk, danksy ’n paar flink aanpassings, en ons gaan vir kykers hopelik betower met Viëtnam se vele skatte.”

Nóg ’n groot bate vir die reeks was die toevoeging van Jurgie Schoeman, ’n Suid-Afrikaner wat in Viëtnam woon en werk, tot die span. “Jurgie kom uit ’n toerfamilie. Sy ouers is Jurgens en Karien Schoeman van Live The Journey. Jurgie woon al meer as vyf jaar in Viëtnam, het sy eie toerbesigheid, Navigator Vietnam, en praat basies vlot Viëtnamees. Sy hulp en lekker menswees tydens die lang skietperiode was van onskatbare waarde,” vertel Erns.

Regisseur en mede-veraardiger Frankie Opperman, wat al sedert 2020 by Elders betrokke is, meen dit was ’n groot voorreg om deur Viëtnam te kon reis. “Die mense, kos en kultuur was iets uit ’n ander wêreld uit,” sê hy. “Ons sien geweldig baie uit om hierdie unieke land met kykers te deel en hulle hopelik te inspireer om hulle gemaksone te groet en Viëtnam self te gaan geniet.”

En Erns se (alleen) snor? Daarvoor sal kykers moet wag tot die laaste episode. Wat in ou Saigon gebeur, bly duidelik nie net in ou Saigon nie... 

Elders: Viëtnam word vanaf Sondag 19 Julie 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Teken in op DStv  

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices