Hoogtepunte: Mei 2026
Drama, Realiteit en Komedie.
Die Oord
Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
5 Mei: Prediker 2.0
Vriende word verdagtes. Martie maak ’n nuwe ontdekking. In Seerust is alibi’s goedkoop en die waarheid duur.
12 Mei: Jammerlappie
’n Klein leidraad veroorsaak groot moeilikheid. Drikus se storie begin gly, en Elsabé se vertroue wankel.
19 Mei: Geheime
Martie en Brandi soek in verskillende rigtings. Seerust het meer as een geheim om weg te steek.
26 Mei: Verslawing
Wat Paul nie kan onthou nie, laat Martie twyfel. Juanita en Drikus beland in die moeilikheid.
Mevrou Fourie & Kie
Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
3 Mei
Anita wil die huisinhoud tussen haar en Barend verdeel. Melissa en Quintin gaan sien ’n sielkundige. Ouma en Barry wil van ’n tandarts ontslae raak.
10 Mei
Anita wil haar stories aanlyn op video deel, terwyl Barend en Melissa hulle eggenote wil herinner hoekom hulle aanvanklik verlief geraak het. Ouma en Barry wil die Fourie-huis red.
17 Mei
Anita en Melissa is op soek na prokureurs, maar besef dat dit ’n duur storie is. Ouma en Barry reël ’n pokertoernooi waar ’n ongenooide gas moeilikheid kan veroorsaak.
24 Mei
Anita is uiteindelik alleen, maar herstelwerk tuis maak haar moedeloos. Die mans raak siek, en Melissa plaas hulle onder kwarantyn.
31 Mei
Melissa sweep haar familie op om met haar klaskonsert te help en probeer ’n front saam met Quintin voorhou. ’n Aantreklike nutsman trek Anita se aandag.
Die Toring
Maandae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
4 Mei
Terwyl MPI voorberei vir ’n groot voorlegging, bots Ezra en Stella oor strategie. Yolanda werf ’n sleutelspeler, terwyl verborge motiewe die Jefferson-ooreenkoms bedreig.
11 Mei
Stella staar verraad in die gesig wat haar grense toets. Ou alliansies wankel wanneer nuwe gesigte die magsbalans by MPI bedreig, en vanaand se besluite hou blywende gevolge in.
18 Mei
Ou wedywerings vlam op en nuwe bondgenootskappe ontwikkel wanneer Ezra die gevolge trotseer, Ryan se eerste dag spanning bring en Stella ’n deurslaggewende leidraad in die Mandy’s Mints-transaksie ontdek.
25 Mei
Terwyl die Jefferson-ooreenkoms wankel, maak Stella ’n skokkende ontdekking. Cazz en Ezra probeer Esti oorreed om vir die transaksie met Mandy’s Mints te stem. Ryan wek vrae, en Theo en Stella bevind hulself in onbekende waters.
In die sop: Gastehuisrevolusie
Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
7 Mei
Hierdie week reis die span na Hartbeespoortdam, waar Lizette die Harties Wellness Centre bedryf. Kan Janie en Misi haar help om ’n nuwe identiteit vir die gastehuis te skep?
14 Mei
Die span gaan na die Old Watchmakers-gastehuis in die hart van Bethulie. Dié gastehuis het karakter, maar benodig Janie en Griki se hulp om gaste met ’n vars voorkoms te lok.
21 Mei
Amanda bedryf die Kuierhuis op haar plaas buite Ventersburg, en sy benodig hulp om dié gastehuis winsgewend te maak. Janie en Griki rol hul moue op om oplossings te vind.
28 Mei
Ma en seun, Francis en Ashley, bestuur The Views-gastehuis in Piketberg. Hulle benodig dringend Janie en Willus se hulp om dié gastehuis na nuwe hoogtes te neem.
FLIEK
My f*k, Marelize!
My f*k, Marelize! maak sy kykNET-debuut op 9 Mei om 20:00 en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Dis aangewys as die gehoor se gunsteling by verlede jaar se Silwerskermfees, en by die glansryke Silwerskermtoekennings vir Film en TV het My f*k, Marelize! nog twee groot pryse losgeslaan. Je-ani Swiegelaar, wat Heidi Horn speel, het gewen in die kategorie vir beste aktrise, en Zandélle Meyer het vir haar vertolking van Marelize Horn die toekenning vir beste vroulike byspeler ingepalm.
Toe die fliek einde Augustus 2025 in rolprentteaters vrygestel is, was dit nommer een by die loket in die openingsnaweek.
“Dié eersteklas Afrikaanse rolprent is nie wat jy verwag nie, en dis verkwiklik. Dit is ’n bekoorlike fliek oor barmhartigheid en die hegte bande in ’n gesin. Dit sal ’n pleister oor jou depressie plak. Gaan kyk – dis buitengewoon!” het Leon van Nierop in Rapport geskryf.
“Swiegelaar hou en stuur dié prent soos Heidi haar gesin. Nooit wankel sy na goedkoop emosie nie, nooit tap sy of speel sy vir effek nie. Heidi is soos ’n boegbeeld in ’n stormsee, Swiegelaar speel haar met stil oortuiging,” het Laetitia Pople op Netwerk24 gesê.
Die fliek vertel die storie agter die storie van die selfoonvideo wat ’n ma van haar dogter geneem het waar sy teen ’n rugbypaal vasry. Die woorde “my f*k, Marelize” het daarna ’n gewilde uitdrukking in die volksmond geword, en skielik het almal geweet wie die Horns van Windhoek is. Dis ’n rolprent oor hierdie gesin se lief en leed, en dis vol humor, familieliefde en medemenslikheid.

NOSTALGIE
Konings
Die legendariese dramareeks Konings, wat die eerste keer in 1992 uitgesaai is, begin op 10 Mei om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
10 Mei
1945.Dolf Groenewald,’n jong seun wat toebroodjies verkoop om homself en sy ma te onderhou, glo sy pa het in die oorlog gaan veg, maar hy is in der waarheid in die tronk.
17 Mei
Jollyboy vind uit van Joey en Stoffel se verhouding en jaag hulle weg. Pieter sukkel om werk te kry. Pieter en Dolf is in sak en as oor Elsie se skielike dood.
24 Mei
Ná Elsie se dood konfronteer Pieter Groenewald vir Jollyboy oor die verlede. Hy blameer Jollyboy daarvoor dat hy in die tronk opgesluit was. Dolf se lewe verander handomkeer.
31 Mei
Dolf maak goeie geld met sy koswaentjie. Jollyboy en Sid smokkel steeds vleis oor die grens, maar die vleisinspekteur is warm op hulle spoor, en hulle eindig agter tralies.
LEEFSTYL
Lekker & goed
Donderdae om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
7 Mei
Dié week se kuier is ’n regte familie-affêre met die aktrise Rolanda Marais en haar dogter, Charlotte, wat ’n draai kom maak.
14 Mei
Gesondheid is goud werd. Dr. Ledivia Strauss gesels saam oor die fyn balans van vrouwees en hoe om ’n gebalanseerde lewe met lekker kos te kombineer.
21 Mei
Die koskenner Mari-Louis Guy kom kuier, en daar word nostalgies geraak oor foelie en Tupperware.
28 Mei
Die talentvolle Mila Guy kom ontspan, en daar word gesels oor die kuns van toneelspel en die genot van eenvoudige, eerlike kos.
Laataand by Rian
Woensdae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
5 Mei
Die legendariese komediant Barry Hilton het vir lank met depressie gesukkel, al het hy ons vir dekades laat lag. Vandag gaan dit beter met Barry, en hy is ook gereeld op die verhoog as motiveringspreker.
12 Mei
Met sy 1,6 miljoen volgelinge op Instagram, is die Namibiër Ruben Lambrecht, wat aan weesdiere ’n tuiste bied, ’n held vir alle diereliefhebbers.
19 Mei
Die sjef Jan Hendrik van der Westhuizen se wortels lê in Mpumalanga, maar in 2013 het het sy restaurant Jan in Nice, Frankryk, oopgemaak en in 2016 het hy ’n Michelin-ster verwerf.
26 Mei
Ina Paarman se sakeryk het begin met kookklasse wat sy by haar huis aangebied het. Vandag is daar amper nie ’n huishouding in die land wat nog nie met haar resepte en produkte te doen gehad het nie.
Bewonder & bewaar met Bonné de Bod
Sondae om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar en het Engelse onderskrifte.
3 Mei
Bonné sluit by dr. Peter Buss aan wat die bekende Kruger-leeutroppe rondom Satara snags met pyltjies skiet om hulle deur termiese sensors te monitor. Hierdie hitte-sensors het dit moontlik gemaak om die eerste X-strale van vrylopende leeus ter wêreld te neem.
10 Mei
Bonné staan ornitoloog Cassie Carstens van BirdLife Suid-Afrika by wat tot by die neste van die sekretarisvoël klim om opsporingstoestelle aan die kuikens vas te maak vir navorsing.
17 Mei
Bonné gaan duik saam met die haaifluisteraar Cristina Zenato en sien hoe wilde haaie in haar skoot kom lê. Dit laat Cristina toe om pynlike vishoeke uit hul bekke te verwyder.
24 Mei
Bonné is verstom oor die slim manier waarop dr. Marietjie Oosthuizen tussen klaasneusmuisspesies onderskei. Sy sien hoe die diertjies oor houtskoolpoeier loop en voetspore los.
31 Mei
Bonné sluit by Naude Dreyer en sy span aan om robbe wat in vislyn en plastiek verstrengel geraak het, te red. Met nette en snytoerusting hardloop hulle reguit in die gevaarlike massa bytende robbe in.
DOKUMENTÊR
N.P. Van Wyk Louw: Ontwaak deur ons
N.P. Van Wyk Louw: Ontwaak deur ons is ’n reis na N.P. van Wyk Louw se jeughuis en ’n huldiging van sy nalatenskap. Sy gedigte klink in nuwe musiek en uitvoerings op wat wys hoe relevant sy werk vandag nog is. Die regisseurs is Gideon Breytenbach en Riku Lätti. Bacchus Nel en Danie Marais is van die stemme wat in dié dokumentêr gehoor word.
- N.P. Van Wyk Louw: Ontwaak deur ons is op 3 Mei om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
SKRYF NOU IN
Die 1%-klub
kykNET het die Suid-Afrikaanse uitsaairegte van die internasionaal hoogaangeskrewe speletjiesprogram The 1% Club bekom en sal die eerste plaaslike weergawe daarvan, Die 1%-klub, in laat 2026 uitsaai.
Dié suksesvolle, oorspronklik Britse reeks is geskep en vervaardig deur Rapid Blue, wat deel van BBC Studios is. Die Afrikaanse weergawe volg die formaat van die oorspronklike reeks, waarvan verwerkings ook ’n treffer in lande soos die VSA, Duitsland, Spanje, Frankryk en Australië was.
Hoe werk dit?
Die 1%-klub is nie jou gemiddelde speletjiesprogram nie. Dit is ’n kompetisie met ’n vinnige tempo waarin 100 deelnemers meeding in uitdagings wat intellek en logiese vermoëns toets. Die speletjie begin maklik – met vrae wat 90% van Suid-Afrikaners behoort te kan beantwoord – maar die moeilikheidsgraad styg vinnig en eindig in uitdagings wat slegs die top-1% van die bevolking waarskynlik sou kon oplos. Die formaat is ontwerp om ratse denke, kreatiwiteit en analitiese vaardighede te beloon, eerder as gememoriseerde feite of ’n breë algemene kennis.
Dié speletjie gaan wys of jy onder die top-75%, top-40%, top-10%, of – as jy deurdruk tot die einde – die elite top-1% van die land tel, volgens die programformaat se toetskriteria.
Elke deelnemer begin met R1 000. Spelers wat verkeerd antwoord, word uitgeskakel, en hul geld beland in die groeiende boerpot. Namate die speletjie vorder, moet die oorblywende spelers besluit of hulle met ’n deel van die prysgeld uit die stryd wil tree, of alles wil waag om te bewys dat hulle deel van die top-1% is. Die 1%-klub is ’n opwindende kompetisie wat ’n kombinasie van strategie en breinkrag onder groot druk verg om sukses te behaal.
Inskrywings is nou oop! Suid-Afrikaners van 18 jaar en ouer word genooi om hier in te skryf. Die reeks sal in Johannesburg verfilm word, en deelnemers moet hul eie vervoer reël.
SEPIES EN TELENOVELAS
Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
LJ keer terug na Dubai. Nicolette begin haar toekomsplanne heroorweeg, en Thalia ontvang ’n werksaanbod as ontvangsdame vir ’n vooraanstaande Binneland-dokter. Ongevalle verwelkom ook ’n nuwe locum, dr. Katryn Conradie, en Ella is uit die veld geslaan wanneer sy ontdek dat dié dokter en Johan Matthys familie is.
’n Gevaarlike pasiënt daag by Ongevalle op, en die dokters moet vinnig en slim optree om ’n noodlottige uitkoms te voorkom. Uys en Nicolette breek weg na Buffelsbaai, maar hul romantiese planne word in die wiele gery wanneer twee onverwagse (en ongenooide) gaste opdaag. Tertius wil sou gou moontlik na Australië verhuis, maar Tracy stel ’n alternatiewe plan voor. Joe is opgewonde oor ’n moontlike loopbaansprong, en Tracy vind geselskap by Conrad.
Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Terwyl René en Marco hul loopbane waag vir ’n verbode liefde, kan Gys se valkoë, wat elke beweging dophou en sy eie agenda dryf, dalk dié tweetjies onder net te veel druk plaas. Dan is daar die geheimsinnige Wian, wie se oënskynlike sjarme begin plek maak vir ’n onrusbarende obsessie. Gaan die inwoners van Boskruin gou genoeg dié geheim kan uitsnuffel?
Benewens hierdie dramas, moet Nina en Juvan die skerwe van hul verhouding probeer optel ná die wrede video-skandaal wat deur iemand na aan die paartjie veroorsaak is.
Kan Leandri dalk gereed wees om haar hart weer oop te maak vir liefde? En indien sy die moed bymekaar kan skraap, sal daar uiteindelik weer plek wees vir Rossouw in haar lewe?
Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Angie raak al hoe meer onseker oor haar verhouding met Wade, terwyl hy toenemend tussen haar en Zoe verskeur voel – tot ’n skokkende uitkoms alles verander. Intussen lyk dit of Mike en Lee-Ann dalk bestem is om meer as net kollegas te wees, maar onopgeloste emosies dreig om hul nuwe romanse te ontspoor. Justin raak al dieper verstrengel in Hugo se web, wat verreikende gevolge vir Justin het. Intussen fassineer die geheimsinnige Ava vir Nazeem, terwyl spanning en wantroue stadig opbou. Teen maandeinde word lewens onherroeplik verander deur onthullings en moeilike keuses.
Skemergrond
Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Hierdie maand in Skemergrond word die spanning rondom Hazel en Christine se gevaarlike kat-en-muis-speletjie al hoe meer intens. Christine het vir Hazel vasgevang in ’n web van manipulasie en afpersing, en Hazel se groeiende desperaatheid dryf haar tot al hoe donkerder besluite. Wanneer Ice agterkom dat Hazel by iets onwettigs betrokke is, plaas dit nog meer druk op haar, en sy begin paniekerig raak dat haar geheime – veral dié rondom Fabian – ontbloot gaan word.
Terwyl Hazel probeer om die afpersing te beëindig, raak dinge vinnig buite beheer. Ruan en die Louws span saam om Christine finaal vas te trek met ’n hoë-risikoplan wat by die blommemark afspeel. Wat bedoel was as Christine se ondergang, neem egter ’n skokkende en dodelike wending ná ’n noodlottige misverstand. Die traumatiese nagevolge hiervan ruk Gemoedsdrif, maar selfs dit bring nie onmiddellik ’n einde aan Hazel se nagmerrie nie – die afpersing hang steeds swaar oor haar kop.
Intussen sorg nuwe en ou gesigte vir verdere onrus. Dirk Maritz se onverwagse terugkeer na Gemoedsdrif laat Tillie en die res van die gemeenskap wonder oor sy ware motiewe. Het hy onafgehandelde sake, of skuil daar iets meer agter sy terugkoms? Daarby maak Adrian Steyn, wat die rol van Zander Conradie vertolk, ook sy verskyning, wat die dinamika in die dorp verder kompliseer.

