Die GROOT Ontbyt en OntbytSAKE het besluit: Dis tyd vir saam ontbyt

kykNET 10 November 2026

Van weekoggende tot Saterdagoggende vorm Die GROOT Ontbyt en OntbytSAKE ’n vaste deel van kykNET se ontbyt aanbod. In ’n spesiale kruisbesoek neem die twee gewilde programme kykers saam vir ’n viering van hul unieke persoonlikhede, gedeelde waardes en liefde vir Afrikaans.

Die GROOT Ontbyt en OntbytSAKE het besluit: Dis tyd vir saam ontbyt

“Hoe gaan dit met Dawie Roodt?” Nee, askies… hy is by OntbytSAKE…

“Hoe kan ons inskryf vir die Jong Nuusleser-kompetisie”? Nee, jammer, dis Die GROOT Ontbyt se kompetisie…

As jy al ooit Die GROOT Ontbyt en OntbytSAKE met mekaar verwar het, is jy beslis nie alleen nie.

Albei spanne het al hul kwota snaakse stories beleef. Van gaste wat by die verkeerde ateljee opdaag en kykers wat die verkeerde kompetisie probeer wen, tot komplimente wat by die verkeerde aanbieder beland. ’n Bekende Afrikaanse sangeres het selfs al by Die GROOT Ontbyt opgedaag, terwyl sy eintlik in Randburg verwag is vir ’n OntbytSAKE-gesprek. Die OntbytSAKE-aanbieders kry ook gereeld op ’n Saterdagoggend op Die GROOT Ontbyt se WhatsApp-lyn baie komplimente oor hoe mooi hulle lyk.

Maar dié twee geliefde kykNET-programme ruim nou hierdie verwarring eens en vir altyd op die plesierigste manier denkbaar uit die weg – deur oor en weer by mekaar te kuier en saam TV-ontbyt te geniet, stories te deel en lekker te lag.

Die GROOT Ontbyt, wat vanjaar sy 11de bestaansjaar vier, en OntbytSAKE, wat reeds 26 jaar lank deel van kykers se Saterdagoggende is, vat hande om nie net die verskille tussen die twee programme uit te lig nie, maar ook om die krag van samewerking binne die Afrikaanse mediabedryf te vier.

Vrydag 6 November was dit OntbytSAKE se beurt om op die geel bank van Die GROOT Ontbyt te kuier, en op Saterdag 5 Desember gaan Die GROOT Ontbyt se aanbieders, Jennifer Myburgh, Su-An Müller-Marais en Pierre Breytenbach, by OntbytSAKE inloer.

Volgens die OntbytSAKE-span is PRET boaan die agenda.

Wanneer Die GROOT Ontbyt-span in Desember by OntbytSAKE aanklop, sien hulle uit na die dinamika tussen die aanbieders. Dawie Roodt en Leon Gropp gaan beslis mekaar se siele lekker uittrek. Hulle is ook nuuskierig om die verskille tussen ’n regstreekse uitsending en OntbytSAKE se opnameformaat eerstehands te ervaar.

Wat presies onderskei dié twee programme?

Die GROOT Ontbyt is kykNET se langste regstreekse program en word van Maandag tot Vrydag, elke oggend, tussen 06:00 en 08:00 uitgesaai. Die program bied ’n vars, relevante en omvattende blik op die dag se nuus en aktualiteit, met gesprekke oor onder meer gesondheid, finansiële welstand, vermaak, leefstyl en inspirerende stories, soos impakprojekte wat gemeenskappe ondersteun en hoop bring. En omdat dit regstreeks uitgesaai word, is verrassings en spontane oomblikke deel van die pret.

As daar een wanpersepsie is wat Die GROOT Ontbyt-span wil regstel, buiten die feit dat OntbytSAKE ’n ander program is, is dat dit elke oggend regstreeks is. Selfs Kurt Darren het dit nie geweet nie. Hy het in 2021 uit die ateljee gestap terwyl die uitsending aan die gang was, en eers toe hy die program op die buitenste televisie in die wagkamer sien, het hy besef hy kuier regstreeks op Die GROOT Ontbyt.

OntbytSAKE, daarenteen, maak Saterdagoggende spesiaal met ’n toeganklike kykie na die wêreld van entrepreneurskap, kleinsakeondernemings, landbou, ekonomie en leefstyl. Plaaslike ondernemings, interessante mense, reis, goeie kos en vermaak vorm deel van die wenresep. Oor 26 jaar het OntbytSAKE ’n besonder lojale kykersgemeenskap opgebou wat die span as deel van hul familie beskou.

Albei programme deel egter ’n passie vir Afrikaans en het een belangrike ding gemeen: Hulle begin mense se dae saam met hulle, en oggendtelevisie het so ’n spesiale plek in mense se lewens soos daardie eerste koppie koffie van die dag.

Die boodskap agter dié kruisbesoeke is eenvoudig: Die twee programme het elkeen ’n unieke identiteit, ’n eie formaat en ’n gehoor wat hulle met trots bedien.

Soos Die GROOT Ontbyt dit stel: Ons kompeteer nie, ons komplementeer.

Of jy nou Maandag tot Vrydag van 06:00 tot 08:00 saam met Die GROOT Ontbyt wakker word, of Saterdagoggende saam met OntbytSAKE jou naweek begin, albei programme gaan aanhou sorg dat jy jou dag met relevante inhoud, aktualiteit en humor afskop. En daar is altyd aan albei ontbyttafels plek vir jou.

Skakel Saterdag 5 Desember in op kykNET (DStv-kanaal 144) en geniet die beste van twee wêrelde – ’n dubbelporsie ontbyt.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices