Boekmerk vier die krag van stories en lees
Afrikaanse boekliefhebbers, leeskringe en nuuskierige kykers kan uitsien na ’n splinternuwe televisiereeks, Boekmerk.
Afrikaanse boekliefhebbers, leeskringe en nuuskierige kykers kan uitsien na ’n splinternuwe televisiereeks, Boekmerk, wat vanaf Woensdag 14 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.
Dié blinknuwe joernaalprogram, aangebied deur die digter en skrywer Danie Marais, neem kykers op ’n reis deur die wêreld van Afrikaanse boeke, skrywers en lesers. Oor 13 episodes besoek die span bekende en opkomende skrywers, woon boekgesprekke by en sluit aan by leeskringe dwarsoor Suid-Afrika. Die reeks ondersoek ook die boeke en skrywers wat op Rapport se lys van die 100 beste Afrikaanse boeke verskyn het.
In die eerste episode kuier Boekmerk by die Atterbury-teater in Pretoria saam met Nataniël en medewerkers aan die indrukwekkende koffietafelboek, Bloei + blom. Die reeks se paneel van boekkenners werp ook lig op die nalatenskap van Dalene Matthee, terwyl kykers saam met die Boekekoukus-leeskring in Durbanville die baanbrekerskrywer M.E.R. vier.
Van gevestigde literêre legendes soos Antjie Krog, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk en Karel Schoeman, tot hedendaagse stemme soos Jaco Jacobs, Gaireyah Fredericks, Jeremy Vearey en Wilna Roux, bied Boekmerk ’n unieke venster op die mense en stories wat die Afrikaanse letterkunde vorm.
Volgens die vervaardigers is Boekmerk veel meer as net ’n program oor boeke. Dit is ’n viering van lees as ’n lewende kultuur wat mense bymekaarbring.
“Ons het vir jare oor hierdie idee gepraat, en dit het als begin by ‘n rubriek van Antjie Krog. Die entoesiasme van veral die boekklubs en leeskringe wat ons dwarsoor Suid-Afrika besoek het, was inspirerend en bemoedigend. Mense lees met ywer, en ons hoop Boekmerk sal ‘n rimpeleffek veroorsaak en meer mense laat saamkom vir gesels, lag en kuier oor die vreugdes van ‘n lekkerleesboek,” sê Wicus Pretorius, medevervaardiger van die reeks.
Marius van de Wall, medevervaardiger en reeksregisseur, sê: “Boekmerk is ’n droomprojek. Die uitdaging was om dit vars aan te bied en nie te laat lyk soos joernaalprogramme wat reeds op lug is nie, maar ook op so 'n manier dat die kykers steeds aanklank daarby vind. Ons wou ’n stylvolle program aanbied wat genoeg om die lyf het om as dokumentêr deur te gaan, maar ook vermaaklik genoeg is vir almal om te kyk.
Verder voeg hy by: “Dis televisie maak vir mense wat die boeke al gelees het, maar nog belangriker ook vir diegene wat dit nog nie gelees het nie. Dit moet dus toeganklik wees vir 'n breë kykerspubliek. Die besoeke aan die verskeie boekklubs en leeskringe was ook vir ons uiters belangrik, want hierdie reeks behoort in die eerste plek aan die lesers/kykers.”
Die aanbieder, Danie Marais, sê: “Die mense agter die boeke is dikwels net so interessant en onderhoudend as hul skryfwerk. Die werk aan Boekmerk het my opnuut onder die indruk gebring van hoeveel tyd, energie en liefde in die skryf en maak van boeke belê word. En dit hoewel boeke selde groot geld vir skrywers of uitgewers maak. In ons materialistiese samelewing is die kosbaarste dalk alles wat nie net in geldwaarde gemeet kan word nie.”
Met ’n mengsel van gesprekke, dokumentêre elemente, literêre debat en leserservarings beloof Boekmerk om ’n unieke tuiste vir boeke op kykNET te wees en lesers tot nuwe leesavonture te inspireer.
Boekmerk begin Woensdag 14 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.