Reënboogrant keer terug
Reënboogrant keer terug met meer drama, romantiese dilemmas en splinternuwe moeilikheid.
Die Brink-familie en hul vriende maak foute, raak verlief, verloor koers en help mekaar om weer te probeer in die tweede seisoen van Reënboogrant wat vanaf Vrydag, 28 Augustus om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.
“Ek sal die tweede seisoen beskryf as ’n gejaag na sukses, liefde, identiteit en ’n stryd om gehoor te word,” sê André Velts, die regisseur en kreatiewe vervaardiger van die reeks.
Reënboogrant hervat tydens die Desembervakansie, in die tragiese nadraai van Moniqué se ongeluk by die springgat. Terwyl haar vriende probeer sin maak van wat presies gebeur het, gaan die alledaagse voort: Rapporte word uitgedeel, nuwe studies en werksgeleenthede wink en ou verhoudings raak ingewikkeld.
“Ons is opgewonde oor die reeks se terugkeer na kykNET en raai kykers aan om hul sitplekgordels styf vas te maak, want die avonture en uitdagings vir die Brink-familie in hierdie seisoen raak dieper en erger,” sê Soné Combrinck, medevervaardiger by Sonvelt Media, wat vir die reeks verantwoordelik is.
Vir Shani Brink (Minke Marais) word die jaar ’n warboel van romantiese uitdagings. Sy is steeds verlief op die branderplankryer Dave Watkeys (Jean Henry), terwyl Johan Viljoen (Righard van Jaarsveld) nie gereed is om hul verhouding te laat gaan nie. Wanneer Jacques Bronkhorst (Vian Singleton) weer sy verskyning maak, raak Shani se hart én haar vriendskappe nog meer ingewikkeld. Haar ambisie om haarself te bewys plaas haar gereeld in situasies waar sy duur lesse moet leer.
Haar broer, Dolf Brink (Paul Strydom), probeer intussen die emosionele nagevolge van die springgat-tragedie verwerk. Tussen universiteit, werk en sy geliefde Volla probeer hy vorentoe beweeg, maar wanneer Rachelle Labuschagne (Marelee Ferreira) terugkeer na Reënboogrant met geheime uit haar verlede, word sy lewe weer omvergewerp.
Vir Sunette Brink (Mila de Villiers) bring die nuwe jaar atletiek, akademiese geleenthede en meer as een potensiële nuwe liefde. Die talentvolle musiekwonderkind Jaco (Louis Auret) gee haar nuwe perspektief, terwyl die jong onderwyser en atletiekafrigter Leon Tredoux (Liam Bosman) haar hart onverwags vinniger laat klop. Sunette se wêreld groei, en sy word genoop om belangrike besluite oor haar toekoms te neem.
Maar dit is nie net die Brinks wat uitdagings in die gesig staar nie. Johan se obsessiewe strewe na atletieksukses begin gevaarlike gevolge hê. Japie Coetzee (Danté Elliot) en Hardus Bronkhorst (Jacques Gombault) se plan om vinnig geld te maak, bring hulle al dieper in die moeilikheid. Intussen word Marius Naudé (Wilco Meyer), Lizane Jacobs (Deidré Barnard), Bongi Buthelezi (Johnny Potsanyane) en die res van die vriendekring ook gekonfronteer met nuwe verhoudings, moeilike waarhede en persoonlike uitdagings.
Reënboogrant S2 begin Vrydag 28 Augustus om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.