Klippe kou: Meer as net ou karre, stofpaaie en adrenalien

Highlights 18 June 2026

Klippe Kou werp lig op gewone Suid-Afrikaners.

Klippe kou: Meer as net ou karre, stofpaaie en adrenalien

Op die oog af lyk Klippe kou, wat op 15 Julie om 20:00 op kykNET begin, soos ’n reeks oor ou motors, stofpaaie en ’n wilde avontuur op pad na en uiteindelik by Vanwyksvlei. Maar onder die geroeste bakwerk, gebreekte ratkaste en stofwolke skuil iets veel groters: stories van gewone Suid-Afrikaners wat al meer as een keer in hul lewe moes klippe kou.

Teken in op DStv  

 “Die paaie rondom Vanwyksvlei kou bande – dis rof! Maar dis ook ’n metafoor vir moeilike tye en uitdagings wat almal van ons ervaar. Almal kou klippe een of ander tyd in hul lewe, maar ons moet maar net almal moed hou (en mekaar help!)”, sê Wicus Pretorius, een van die uitvoerende vervaardigers.

Klippe kou is ’n dokkie-realiteitsreeks wat vier spanne volg terwyl hulle oor twee maande hul eie unieke veteraanmotors opbou en regmaak vir die legendariese Bull Run by Vanwyksvlei, wat die organiseerders as “matriekvakansie vir grootmense en AfrikaBurn vir petrolkoppe” beskryf. By dié jaarlikse saamtrek durf deelnemers met voertuie van 1985 en ouer die uitdagende paaie van die dorre Noord-Kaap aan.

Wat begin as ’n kreatiewe uitdaging, ontwikkel gou in ’n toets van deursettingsvermoë en vriendskap. Met die vasbyt en deurbyt saam deel die spanlede openhartig stories oor al die ander klippe wat hulle al in hul eie lewens moes kou.

Die idee vir die reeks het ontstaan nadat die uitvoerende vervaardigers Wicus Pretorius, Marius van de Wall en Cilliers Human die Bull Run van nader leer ken het.

“Die immergewilde Fiësta op kykNET het die Bull Run gedek in 2023, en dit het die span se asems weggeslaan,” vertel Wicus. “Die landskap, die avontuur en aksie – en les bes: die gees onder die deelnemers. En ek, wat bietjie van ’n petrolkop is, kon nie ophou kyk na die veteraanmotors nie. Kort daarna het ons begin droom oor hoe ons die Bull Run en die voorbereiding daarvoor in ’n realiteitsreeks kan omskep.”

Daardie droom het uiteindelik ’n werklikheid geword toe die konsep by die Silwerskermfees se Silwermark aan kykNET voorgelê is en die groen lig gekry het.

Met die verfilming het die motors egter nie die grootste indruk gemaak nie – dit was die mense.

Die vier spanne is gekies uit ’n kombinasie van bestaande Bull Run-inskrywings en deelnemers wat die vervaardigers geglo het goeie televisie sou maak.

Vir Marius lê die hart van die reeks in die eerlike, menslike stories wat saam met die motorbouproses ontvou.

“Die vier spanne het so met die werk aan die enjins en gesprekke oor die klippe wat hulle hier en met ander tye in hul lewens gekou het, hul weerlose kant gewys,” sê hy.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe die karre waaraan hulle werk en fix, metafore raak vir alles wat hulle al in hul eie lewens moes verduur en fix.”

Wanneer die spanne uiteindelik hul bestemming bereik, skuif die fokus na die einddoel – en die groot vraag wat oor almal hang: Gaan die motors dit maak?

Ná maande se voorbereiding en ’n uitdagende reis deur die Karoo wag die uiteindelike Bull Run-toets by Vanwyksvlei op hulle. Daar word die motors en hul bestuurders tot die uiterste beproef met ’n 160 km-tydren en baan-items op die stofpan buite die dorp voordat ’n wenner gekroon word.

Maar die reeks wys dit gaan oor meer as net die eindbestemming.

“Ja, daar is gesonde kompetisie en wedywering, maar die belangriker deel van alles is hoe die deelnemers mekaar onderskraag en ondersteun,” sê Marius.

Cilliers Human sê Sharne, een van die deelnemers, het die gees van die Bull Run vir hom mooi opgesom: “Die lewe is eintlik so lekker, maar dis ook so kort, so don’t get hung up on stuff that’s not important. Geniet dit, sê net ja, doen dit anyway. Stof and all.

Klippe kou word vervaardig deur Makiti Produksies, die span agter programme soos Fiësta en Ruben in Namibië.

Klippe kou begin op 15 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Teken in op DStv  

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices