Ideemakers: Twee jong wetenskaplikes met groot idees
Twee jong wetenskaplikes gebruik lemoene om interessante vrae oor vitamiene C en skoonmaakmiddels te beantwoord.
In die jongste episode van Ideemakers, wat Vrydae om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsaai, gebruik twee tieners lemoene om uiteenlopende vrae te beantwoord. Dít, alles in die naam van wetenskap, natuurlik.
Het jy al gewonder hoeveel vitamien C lemoene bevat? En neem daardie hoeveel af hoe ouer die lemoene raak? En kan jy lemoenskille gebruik om skoonmaakmiddels uit bio-ensieme te maak? En hoe effektief is dié produkte as hulle teen hul kommersiële, chemiese eweknieë getoets word?
Dié vrae word noukeurig nagevors deur hierdie week se jong wetenskaplikes, André Weideman en Leandri Terblanche.
“Vir my eerste projek by die Tritech-kompetisie het ek eksperimente gedoen oor ione en vitamienes in sportdrankies. Ek het toe gewonder hoeveel vitamiene sal in lemoene wees,” vertel André oor sy derde projek by dié kompetisie. Dan is daar ook die vraag of ouer lemoene dieselfde hoeveelheid vitamien C bevat as ’n vars geplukte een?
Op ’n meer gepaste tyd, met die seisoen wat nou sy winterkombers oor die suidelike halfrond trek, kon dié antwoord nie gekom het nie. Dit is immers nou die tyd wanneer ons ons immuunstelsel die beste teen verkoue en griep moet pantser.
“Hierdie resultate kan baie mense help, want lemoene is dikwels goedkoper as om vitamienpille te koop,” verduidelik André, ’n graad 10-leerling by Thorntree Academy in Mokopane.
“Ek dink wetenskap is baie belangrik. Dit maak dit makliker om lewe te verstaan en om lewe makliker te maak,” vertel hy.
Hoewel André nog nie seker oor sy toekomstige loopbaan is nie, lyk ingenieurswese vir hom belowend. Hy sal ook graag weer hierdie jaar aan die Tritech-kompetisie wil deelneem.
“Met my projek het ek geleer dat dinge wat soms moeilik lyk, eintlik makliker uitdraai as jy net eers begin,” sê hy.
Vir Liandri is dit weer belangrik om uit te pluis of ’n mens skoonmaakmiddels uit bio-ensieme kan maak.
“Ek het ’n dokumentêr gekyk oor ’n maatskappy wat bio-ensiem-skoonmaakmiddels uit pynappelskille vervaardig. Ons omgewing het baie sitrusplase en sekere tye van die jaar word die skille en reste in groot trokke van die sapfabrieke weggery,” verduidelik Liandri, ’n graad 9-leerling by Merensky Landbou Akademie in Tzaneen.
Liandri en haar gesin bly net buite die dorp en het ’n paar hektaar lietsjies, mango’s, makadamianeute asook skape.
Met sitrusafval wat dikwels so volop in haar omgewing is, het sy met die flink plan vorendag gekom om ’n bio-ensiem-skoonmaakmiddel te maak.
“Met hierdie projek het ek geleer dat dit die moeite werd is om die geleenthede wat oor jou pad kom, te probeer . . . al verg dit moeite. Ek het baie mense ontmoet en dit het my die kans gegee om nuwe ervarings te beleef wat ek dalk nie andersins sou nie,” vertel Liandri.
Leandri wou al van kleintyd af veeartsenykunde studeer en is reeds besig om aan haar nuwe projek vir hierdie jaar se Tritech-kompetisie te werk.
“Die spanningsvolle deeltjie – die praatjie – is slegs 10 minute, dan is daar tonne lekker aktiwiteite ná die tyd,” lag sy.
Ideemakers wys Vrydae om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) wys. Dit kan ook op DStv Stream gekyk word.