Logo

kykNET bring vars vermaak na jou sitkamer dié winter

Nuus
30 Junie 2022
Hier is waarna jy kan uitsien.
Spoorloos

Spoorloos: Die eiland
Begin Dinsdag 19 Julie om 20:00


Die nuwe seisoen van Spoorloos skop in Julie af en beloof om weer kykers vasgenael te hou met drama, intrige en raaisels. Die reeks bestaan uit agt episodes en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Hier is ’n lusmaker: 



Die Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld maak sy debuutbuiging in ’n dramareeks. Hy speel Stefan Claassen, ’n avontuurlustige argitek, wie se lewe in chaos gedompel word wanneer ’n toevallige ontmoeting met sy lang verlore liefde nie net sy gevoelens vir haar opnuut laat opvlam nie, maar hom in ’n web van bedrog intrek wanneer sy vermis raak.

Christo Davids is terug in die regisseurstoel met Francois Coetzee as mede-regisseur. Ilse van Hemert is weer die hoofskrywer en Ochre Pictures, wat ook vir die vorige Spoorloos-reekse asook M-Net se gewilde Lioness verantwoordelik was, is die vervaardigers.



Plaasjapie
Begin Donderdag 14 Julie om 20:00


Plaasjapie is DStv se nuutste werklikheidsreeks waar die kaf van die koring geskei word wanneer 18 stadsjapies die stadsliggies vir waskerse verruil. Die deelnemers, of nuutgevonde plaasjapies, moet almal vir die eerste keer in hul lewens probeer om kaalhand boerdery aktiwiteite aan te pak - sonder katoeters of moderne tegnologie. En almal het net een doel voor oë: om R1-miljoen te wen. Die aanbieder is Ewan Strydom wat reeds ’n bekende gesig op die kassie as een van kykNET se anker-persoonlikhede as mede-aanbieder van die joernaalprogram, Bravo!.

Kom jy saam plaas toe? Kyk die video hier onder:



Hierdie eg Suid-Afrikaanse werklikheidsreeks is op ‘n kaal stuk grond van vyf hektaar op ’n plaas buite Philadelphia in die Swartland aan die Weskus verfilm. Nina Swart, wat ook al die regie van gevestigde werklikheidsreekse soos Boer Soek ’n Vrou en Survivor hanteer het, sit in Plaasjapie se regisseurstoel.

Bewonder en bewaar met Bonné de Bod
Begin Sondag 17 Julie om 20:00


Die bekroonde TV-aanbieder en -vervaardiger van natuurprogramme, Bonné de Bod, en die regisseur Susan Scott bring met hulle nuwe reeks Moeder Natuur in al haar glorie na ons skerms. Bonné is bekend vir haar vermoë om bewaringswetenskaplikes, wildlewe veeartse en navorsers op hul gemak voor die kameras te plaas. Regdeur die reeks bring sy die warmte en passie na vore wat hierdie voorste wetenskaplikes vir hul navorsingsonderwerpe het.

Kyk die video hier onder:


Deur hulle oë, kom ons ook meer te wete oor die ikoniese wilde diere en ongerepte wildernisse waaraan hulle hul lewens wei. Op haar reise na die afgeleë uithoeke van die wêreld, ervaar Bonné eerstehands hoe van die planeet se mees toegewyde navorsers die geheimenisse van Moeder Natuur ontsluit, en kom sy agter hoe hierdie mense nie net met klein en groot gediertes werk nie, maar terselfdertyd hul drome nastreef met ’n ‘daaglikse’ bestaan in die natuur.



Kyk wie praat
Begin Woensdag 27 Julie om 20:00


Dit is weer tyd vir die klein karnallies om die kollig te steel in die tweede seisoen van Kyk wie praat. In elke Kyk wie praat-episode, wat op die Britse-reeks Small talk gebaseer is, gaan nege kinders vir vier grootmense omtrent op hulle tone hou. De Klerk Oelofse is weer die fasiliteerder in die Kyk wie praat-klaskamer.



Die reeks is ’n vasvraprogram met ’n kinkel. De Klerk rig die vrae onderskeidelik aan die kinders, wat almal tussen die ses en nege jaar oud is, en die volwasse deelnemers moet dan raai wat dié wysneuse se antwoorde is. Ronde per ronde word die ouer en gryser (maar nie noodwendig wyser) deelnemers uitgeskakel tot net een oorbly en met ’n kontantprys van R10,000 wegloop. Boonop is ’n boerpotprys van R100,000 is ir die reekswenner op die spel.

Boer soek ’n vrou – loodsepisode
Sondag 3 Julie om 20:00

Die boere het van hulle laat hoor en nou is dié wat hoopvol is vir liefde se kans om van hulle te laat hoor. Op Sondag 3 Julie word bekend gemaak wie die tien boere is wat van vanjaar na liefde gaan soek. Hierdie is die vyftiende seisoen van Boer soek ’n vrou en deur die jare het dit gesorg vir verskeie huwelike en klein voetjies op die onderskeie plase. Ons weet reeds dat daar soos gewoonlik genoeg drama, intrige, hartseer en vreugde gaan wees, maar gaan daar weer ’n huwelik of drie in die toekoms wees?

’n Splinternuwe soektog begin – kyk hier onder:


Nuwe aanbod en tydgleuwe vir aktuele programme
KN Verslag in Gesprek: Maandag 4 Julie om 20:30
Prontuit: Dinsdag om 21:00
Wie’s nuus?: Donderdag 21 Julie om 21:00


Dit is nog altyd belangrik vir kykNET om kykers ophoogte en ingelig te hou.  Die regstreekse aktuele aanbod skop elke weeksdag reeds om 05:30 af met GROOTplaas, wat op landbou fokus. Hierop volg Die GROOT Ontbyt, met byna ’n uur se nuus, koerantbesprekings, sportnuus en die weer, asook leefstyl. In spitskyktyd saans bring eNuus kykers sewe dae per week op die hoogte van unieke plaaslike asook nasionale en internasionale nuus.

Dan is daar KN Verslag in Gesprek (wat na Maandae skuif) en Prontuit (wat na Dinsdae skuif) asook ’n nuwe program, Wie’s Nuus? met Netwerk24, wat op Donderdag 21 Julie om 21:00 afskop. Dié verskeidenheid nuusprogram van 26 episodes sal fokus op die nuusmaker wat die opskrifte haal. Die aanbieder is Mia Spies. Wie’s Nuus? sal die storie agter die storie vertel, agtergrond skets, asook joernaliste van ander gesaghebbende publikasies en nuusdienste betrek wat naby aan die groot nuusgebeure beweeg.

KN Verslag sal in Junie tot ’n einde kom op kykNET (DStv-kanaal 144). Die aanbieder, Suzaan Steyn, sal steeds die ankeraanbieder wees van die gewilde mediese program Spreekkamer. Hierdie program is vir nog ’n seisoen van 13 episodes hernu, terwyl Winslyn, aangebied deur Divan Botha, wat oor die sakewêreld en entrepreneurskap handel, Dinsdae om 22:00 op die lug is.

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) se vlagskip-program oor die sake van die dag Kô, Lat ons Praat, oftewel KLOP!, sal vanaf 3 Julie Sondagaande om 19:30 uitgesaai word.



Telenovelas maak hulle buiging op kykNET&kie
Twee Turkse telenovelas voeg hulle by die kykNET&kie programskedule. In die ysterhand se greep begin op Maandag 4 Julie om 17:30 en Kind van die noodlot begin op Maandag 4 Julie om 20:00.

Die eerste oorgeklankte telenovela is In die ysterhand se greep [Never Let Go], wat in Turks as Asla Vazgeçmem bekend staan.

Yiğit is ’n suksesvolle sakeman wat nie in liefde glo nie. Nadat hy verantwoordelik was vir die ongeluk wat sy vrou, Iclal, in ’n koma laat beland het, ontken hy haar bestaan om emosioneel te oorleef. Hul klein seuntjie, Mert, glo sy ma is in die hemel. Dan ontmoet Yiğit vir Nur en hul raak verlief. Onbewus van Iclal, stem Nur in om met Yiğit te trou, maar op hul troudag skrik Iclal wakker...

Die tweede oorgeklankte telenovela is Kind van die noodlot.

Kind van die noodlot
se Defne en Kahraman Yorukman is skatryk – maar kinderloos. Hul familie verstoot hulle daaroor en dit dryf Defne daartoe om ’n alternatiewe manier te vind om vir haar man ’n erfgenaam te gee: Sy besluit om ’n surrogaatmoeder te huur om ’n kind vir hulle te baar.

Dié oorgeklankte telenovela staan in Turks bekend as Belahan Jiwa Kahraman [A Part of Me] en sal uit 148 episodes bestaan.



Die Laaste Tyd met Aleit
Saterdag 2 Julie om 18:00


Met sy groot glimlag vat Aleit Swanepoel jou vir oulaas op die mooiste avoture, stel hy kykers voor aan inspirerende mense en oorkom hy sy grootste vrese.



Jan braai vir erfenis
Saterdag 2 Julie om 18:30 Jan Braai maak weer ’n draai met sy eiesoortige humor en passie vir een van Suid-Afrika se grootste stokperdjies: braai.

Elders: Tuinroete
Maandag 4 Julie om 20:00


Erns Grundling en die kameraspan het meer as 270 km van Uniondale tot Mosselbaai gestap en verken op die pad die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete.

Hier is 'n voorsmakie van die staptog: 


“Dit was wonderlik om weer in Suid-Afrika te kon stap,” sê Erns. “Die Pelgrimstog van Hoop, wat ek in die derde seisoen gestap het, het ’n nuwe roete deur die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete. Die roete is baie jonk en is maar vir die eerste keer in Junie 2021 gestap. Dit het egter danksy die natuurskoon en groothartige vennote se grenslose gasvryheid langs die roete vinnig momentum gekry en is reeds ’n baie gewilde pelgrimstog.” 



Oppiestoep
Woensdag 6 Julie om 21:00


Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars is terug om die stoep met hulle gaste wat kykers gaan vermaak met hulle onderskeie stories. Soos gewoonlik is Schalk Joubert vir die musiek en musiekgaste verantwoordelik.

Vat jou goed en trek
Vrydag 8 Julie om 17:30


Die span van Vat jou goed en trek onder leiding van die aanbieder Henck Conrey wys weer wat ’n leksel verf en die goeie gebruik van spasie aan ’n huis kan doen.

Leef jou reis
Saterdag 9 Julie om 19:30


In die elfde seisoen van dié gewilde reisreeks gaan die aanbieder Gerrie Pretorius plaaslike juwele soos Prins Albert, Graaff-Reinet en Dinokeng besoek, maar daar is ook insetsels oor kuiers in Nederland, België en Indië. Op sy besoek aan België het hy onder meer gaan kuier by die sanger Helmut Lotti.



Slank
Sondag 10 Julie om 17:30

Die deelnemers vir die sewende seisoen van Slank is ’n uiteenlopende groep mense wat almal een ding voor oë het: om slanker aan die einde van die reeks uit te stap. Onder hulle is bekendes soos Tommy Dickson, oftewel sjef Vaatjie, die aktrise Stephanie Baartman en die ou-rugbyspeler Toks van der Linde en sy vrou, Carol.

Splinternuut op kykNET NOU!

Trend
Donderdag 7 Julie om 18:00

Die gewilde aanbieder Lisa met die Rooi Hare vind uit wat die nuwe trends is wat jong mense aan die praat het. In die eerste episode kuier sy by die sangeres Franja du Plessis, sy loer in by die Bere van Hoërskool Garsfontein en Tjekit Kwagga wys sy heel eerste video en vertel meer oor wat dit kos om ’n social media influencer te wees.
 

Rugby op kykNET&kie

Superrugby
Maandag 4 Julie om 21:30


Die Superrugby-span is terug vir ‘n nuwe seisoen! Kom kuier saam om op hoogte van die jongste rugbyverwikkelinge te wees.

Bly op hoogte van jou gunsteling reeks deur saam te gesels op FacebookTwitter en Instagram.