Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13

Maart bring geluk en ongeluk in jou gunsteling kykNET-sepies

Nuus
29 Februarie 2024
Daar is beslis nie ‘n tekort aan drama in Binnelanders, Suidooster en Diepe waters dié maand nie...
Diepe waters 1

Lees hier om meer uit te vind oor wat voorlê tydens Maart vir jou gunsteling-karakters. 

Binnelanders

Annetjie is smoorverlief op ’n dokter. Bonnie stoomroller ’n kollega, en die gevolge is nié goed nie. Tracy maak haar hart teenoor Lukas oop. Tertius vind uit van Conrad en At se nuutste veldtog teen hom, en die hele Binneland is in rep en roer wanneer iemand verdwyn.

Tertius ontvang ’n onverwagse besoeker, en Delia neem ’n risiko waarteen sy ’n ruk lank al skop. Tonik se standaarde begin val, en ’n verhouding word onthul. Conrad is oortuig Tertius en Tracy voer iets in die mou. Naomi bieg dat sy nie vir Louis wil verloor nie, en Dawid word ontbied wanneer ’n klopjag by die oorplantingseenheid uitgevoer word.

Suidooster

’n Donker wolk hang oor Siya en Danni se huwelik, want hulle sukkel om op dieselfde bladsy te kom oor hulle hunkering na nog ’n kind. Dit lyk of die skrif aan die muur vir die verhouding is. Al uitkoms wat hulle sien, is egskeiding. Is dit die einde van die pad vir die Thuli’s, of gaan hulle ’n laaste poging aanwend om hul huwelik te red?

Dit blyk dat Mymoena en Sammy meer as net vriende wil wees. Dit veroorsaak onmin in die Samsodien-gesin. Die vet is in die vuur wanneer Nazeem in Sammy se verlede begin krap en hy ’n baie interessante ontdekking maak. Gaan Nazeem se ammunisie die doodskoot vir Sammy en Mymoena se verhouding wees?

Dit lyk of Tim se gekonkel om Bridgette ’n rat voor die oë te draai vrugte begin afwerp, maar dalk het hy die kar voor die perde gespan. Daar is ook spanning in die Daniels-huishouding wanneer Ty vir Lee-Ann van ’n nuwe affair beskuldig.

Ty se geliefdes en vriende is raadop met sy tekort aan selfbeheersing. Wys hy dalk vir die eerste keer sy ware kleure, of is daar ’n ander rede vir sy buffelagtige optrede?

Dit gaan voor die wind met Wade en Angie wanneer hulle onverwags sterre op sosiale media raak. Maar met roem kom daar ook druk en natuurlik vang die hoogste bome die meeste wind.

Dit lyk of ’n vernietigende stryd op die horison vir Ruiterbosch is wanneer Bridgette en haar familie skokkende nuus kry. Die duiwel is behoorlik los wanneer spoke uit die verlede begin loop.

Diepe waters

In Maart word daar troue in Diepe waters gehou, maar daar moet nog baie struikelblokke oorkom word voor die groot dag kan aanbreek. Gaan Lettie en Henry se spesiale dag sonder teëspoed verloop?

Charity wil min met Felicity te doen hê. Dis duidelik dat daar iets uit haar verlede is wat sy vir almal wegsteek. Dis egter nie net Charity se verlede wat by haar kom spook nie – iemand anders maak ’n onthulling wat meer as een persoon se lewe onherroeplik gaan verander.

Wegsteek is nie iets wat Dominee Ben wil doen nie. Hy en Sanet het weer liefde gevind, en hy is gereed om die nuus met die wêreld te deel. Mari tree egter, tot haar pa se ontsteltenis, steeds vyandig op. Sal sy bereid wees om die strydbyl ter wille van haar pa se geluk te begrawe?

Bly ingeskakel op kykNET, kanaal 144 vir die nuutste verwikkelinge in Suidooster, Diepe waters en Binnelanders. Onthou om ook saam te gesels op Facebook, X, Instagram en Tiktok