Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13

April bring winde van verandering in jou gunsteling kykNET-sepie...

Nuus
03 April 2024
Wat gebeur dié maand in "Binnelanders", "Suidooster" en "Diepe waters"?
Binnelanders 5

April gaan alles behalwe rustig wees vir die karakters in jou gunsteling kykNET-sepies. Lees hier verder oor wat voorlê: 

Binnelanders

Lukas waarsku Delia teen Dawid, en sy kry die skok van haar lewe wanneer die waarheid uitkom. Gaby verras Elise met ’n aanloklike aanbod, en Tertius word genoodsaak om slegte nuus met ’n pasiënt se familie te deel. Naomi kry slegte nuus, en Liam kom voor ’n moeilike besluit te staan wat sy verhoudings ernstig kan beïnvloed.



Tracy word onwetend gewaarsku iemand is op haar spoor, en Rian vra Louis se raad oor ’n gevaarlike e-pos. Louis en Naomi het ’n ernstige gesprek oor die toekoms, en Conrad roep Jacques se hulp in om by Southern Hope uit te help. Jonas is terug, en Tertius kry die skok van sy lewe en moet ’n moeilike besluit neem. Almal is verbaas wanneer ’n verhouding tot 'n einde kom.  

Diepe waters

Kykers kan gereed maak vir ’n emosionele wipwarit in April. Charity en Arno rou nog oor die dood van hulle biologiese pa, Daan, maar dis veral Arno wat sukkel om vrede daarmee te maak. Sy en Karla se verhouding ly daaronder, en dan doen hy iets wat hy moontlik vir die res van sy lewe gaan berou.

Tshepo verlang na sy biologiese familie en kry die geleentheid om hulle beter te leer ken. Hy is in die wolke hieroor, maar kort voor lank ontvang hy skokkende nuus wat hom dwing om ’n groot besluit te maak.

Dit is ook nie die einde van Mari se planne om Sanet se lewe te verwoes nie. Dinge gaan te ver wanneer sy iets doen wat dit bykans onmoontlik vir Sanet gaan maak om haar onskuld te bewys. Die maand hou ook ’n bederf in vir die swemmers én kykers, want ’n bekende persoon kom maak ’n draai.

Suidooster

Ian October mag dalk dood wees, maar sy spook loop in Ruiterbosch. Dis boonop ’n geval van die een se dood, is die ander se brood. Ná Pam October se skokonthulling dat Ian eintlik Zoë se biologiese pa is, gryp Tim die kans van ’n leeftyd aan om Bridgette, eens en vir altyd, tot ’n val te bring. ’n Volskaalse oorlog breek tussen dié twee uit, en Nazeem help vir Tim om sy wraakplan uit te voer. Dit voorspel niks goeds vir Bridgette nie. Haar donkerste uur breek aan wanneer Tim en Nazeem se gekonkel vrugte afwerp, maar gaan Bridgette haar nuwe lot aanvaar?

Sy is nie die enigste Jacobs wat ’n krisis in die gesig staar nie. Ook Lee-Ann se wêreld word omvergewerp wanneer Ty se breingewas terugkeer en hy ’n drastiese besluit neem. Met Siya en Danni se huwelik wat op die rotse is, probeer beide met hul lewens aangaan, maar dit blyk makliker vir Danni as vir Siya te wees. Dit lyk of sy meer as net vertroosting in haar ekskêrel Aiden se arms vind. Dalk was Siya tog nie verniet paranoïes tydens hul huwelik oor haar en Aiden nie? Gary keer ook terug na Ruiterbosch, en dié keer is hy hier om te bly.

Bly ingeskakel op kykNET, kanaal 144 vir die nuutste gebeure in Suidooster, Binnelanders en Diepe waters en onthou om saam te gesels op Facebook, Instagram, X en TikTok. Onthou ook dat jy ook enige plek jou storie kan geniet met DStv Stream.