Logo
web uni tv guide

Leef Jou Reis

144ReisprogramPG

Gerrie kuier by Helmut Lotti in nuwe Leef jou reis

Nuus
07 Junie 2022
Vind meer uit.
Leef jou reis

Daar is ’n Nederlandse spreekwoord wat sê: “Wie ver reis, kan heelwat vertel.” En dis presies wat Afrikaans se eie reisghoeroe, Gerrie Pretorius, in die nuwe seisoen van Leef jou reis gaan doen – om ongelooflike stories van sy reise na heinde en ver met kykers te deel.

Die elfde seisoen van Leef jou reis begin Saterdag, 9 Julie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en toergids Gerrie verken nuwe unieke reisbestemmings wat hom na aan die hart lê.

“Reis is ’n wonderlike manier om mense se lewens te verander, want dit skep herinneringe wat jou altyd bybly,” sê Gerrie

Soos voorheen roep Suid-Afrikaanse en internasionale bestemmings vir Gerrie en hy vertel vir kykers hoe om te maak as hulle sy spoor daarheen wil volg. Plaaslik maak hy onder meer in Prins Albert, Graaff-Reinet en Dinokeng buite Pretoria ’n draai, terwyl sy oorsese kuiers bestemmings in Nederland, België en Indië insluit.

Volgens Gerrie is daar soveel spesiale oomblikke in die nuwe seisoen, maar vir hom staan ’n besoek aan die Belgiese tenoor en liedjieskrywer, Helmut Lotti uit.  

“Helmut maak sy huis se deure in Wallonië, in die suide van België, vir ons oop en hy vertel vir ons hoe die afgelope paar jaar hom behandel het,” sê Gerrie.

“Soos altyd is my doel met die reeks om mense te inspireer om te reis, maar terselfdertyd wil ek hê mense moet nuuskierig genoeg wees om te verken.”

Om die afgelope twee jaar stempels in sy paspoort te kon kry, het Gerrie al 42 volwaardige Covid-19 toetse, wat boonop blitstoetse uitsluit, ondergaan. Al dié toetse was negatief behalwe vir een uitslag (tydens sy besoek aan België), wat onbeslis was – dit het beteken hy moes weer getoets word net om toe ’n negatiewe uitslag te lewer.

Skakel Saterdae, 19:30 vanaf 9 Julie in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir die nuwe seisoen van Leef jou reis en gesels op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk #LeefJouReis te gebruik.