Logo
Elders Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Elders

144ReisprogramPG

Nuwe Elders verken Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete

Nuus
13 Junie 2022
Vind meer uit.
Elders

Vir die vyfde seisoen van die SAFTA-bekroonde Elders, het Erns Grundling en die kameraspan meer as 270 km gestap van Uniondale tot Mosselbaai. Elders: Tuinroete, 'n reeks van 13 episodes, skop Maandag 4 Julie om 20:00 af op kykNET (DStv-kanaal 144). 

“Dit was wonderlik om weer in Suid-Afrika te kon stap,” sê Erns wat die reeks aanbied en een van die vervaardigers is. “Die Pelgrimstog van Hoop, wat ek in die derde seisoen gestap het, het ’n nuwe roete deur die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete. Die roete is baie jonk en is maar vir die eerste keer in Junie 2021 gestap. Dit het egter danksy die natuurskoon en wonderlike vennote se grenslose gasvryheid langs die roete vinnig momentum gekry en is reeds ’n baie gewilde pelgrimstog. 

“Hoewel pelgrims die roete van 274 km gewoonlik in 14 dae stap, was ek en die kameraspan vir ’n raps meer as ’n maand op die roete. Ons het soms vir ’n ekstra dag by ’n plaas of dorpie vertoef om met die boere en inwoners te skiet en relevante inhoud te skep. 

Soos in vorige Elders-reekse het verskeie gaste in van die episodes by Erns aangesluit. “Ek wil nooit 'n gas nooi slegs omdat die persoon bekend is en hopelik meer kykers gaan lok nie,” vertel Erns. “Dit is vir my belangrik om ’n verbintenis of bewondering vir ’n gas te hê. Sonder om te veel weg te gee, sluit van die gaste waarna kykers kan uitsien die akteur Frank Opperman, aanbieder Lyntjie Jaars, voormalige hoof van kykNET se Afrikaanse kanale Karen Meiring, en die voormalige openbare beskermer prof. Thuli Madonsela in.”



Wat is anders as met die vorige reekse? 

“In die vorige seisoen, Elders: Namibië, het ek behalwe vir enkele episodes te voet ook wyd gereis met ’n Toyota Prado, wat ek Die Woestynleeu gedoop het,” vertel Erns. “In hierdie reeks is die fokus hoofsaaklik op stap en alles wat ek op die pelgrimstog en by die bestemmings beleef. Daar is wel ’n Toyota Land Cruiser 300, wat hierdie keer Die Silwer Buffel heet, waarin ek van tyd tot tyd ry op dae wat ek nie stap nie, en wat ook die gaste vervoer.”

Stap Erns regtig die volle roete?

“Beslis. Enige iemand is welkom om my staphorlosie se kilometerlesings aan te vra. Daar is baie makliker maniere, maar ek wil die ervaring so outentiek as moontlik aanbied. Enige ‘hupstootjies’ is 'n absolute uitsondering om ’n afspraak na te kom en ons probeer dit dan deel van die inhoud maak,” sê Erns. “En hier wil ek my fantastiese kameraspan uitsonder en op die naam noem. Die regisseur Frankie Opperman, kameramanne Jaen Kleynhans en Jean de Villiers en klankman Matthew Gardner het hierdie pelgrimstog – bult op en bult af – saam met my gestap. Daar was soms baie lang skietdae, waar ons meer as 20 km gestap het én inhoud moes skep, maar hulle was absolute ysters. Om ’n reeks te skiet is reeds moeilik. Om dit so goed soos hulle te doen én 'n paar honderd kilometer te stap is merkwaardig. Ek werk al verskeie reekse saam met so te sê dieselfde span en dit is ’n vreugde en ’n voorreg. Baie dankie ook aan ons produksiebestuurder Gideon le Roux, wat die logistiek tydens die skiet van die reeks hanteer het.”

Wat wil hy met hierdie reeks bereik?

“Dit is vir my die lekkerste en mees bevredigende werk om ’n Elders-seisoen saam met Frankie Opperman en PJ Kotzé van Bonanza Films van begin tot einde deur te sien. Ek sou nooit in 2017 toe ek op pad was om die eerste seisoen op die Camino in Spanje te skiet kon droom dat die reeks so ’n mooi momentum gaan kry nie. As Elders kykers inspireer om self meer gereeld te gaan stap en weggesteekte juwele in ons land – en elders – te gaan verken en geniet, is my werk gedoen. Soos ek dikwels sê: As ek dit kan doen, kan enige iemand!” 

Kyk die video hier onder:


Elders word deur Bonanza Films vervaardig en ondersteun deur Toyota SA, Virseker, TopFruit en ClemenGold Gin.

Elders: Tuinroete begin op Maandag 4 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Elders.