kyknet channel logo

kykNET Hoogtepunte: Desember 2023

Nuus12 Desember 2023
Kykers kan uitsien na spesiale Kers-programme, fliekNET en nog meer hierdie maand.
kykNET Kerstyd program

Kerstyd op kykNET

’n Spesiale Kersfliek  asook plaaslike en internasionale musiek vir hierdie seisoen van liefde en vreugde wag op kykers.

  • In Kind gaan ’n ou getroude paartjie se enigste seun en sy gesin weg met vakansie en laat hulle op hulle eie vir Kersfees. Hoe vier jy die feestyd as jy sonder kind of kraai sit? Jy neem die dorp op horings! Die veteraanspelers Rika Sennett en André Stoltz is te sien as Lenie en Marius, en die res van die rolverdeling sluit Hannes Brümmer, Zonika de Vries, Monica Muller en Andreas Jordaan in. Kind word op Saterdag 23 Desember om 20:00 uitgesaai.
  • ’n Rits topkunstenaars kuier vanjaar op Oukersaand in kykers se sitkamers met die hartverwarmende Kersvreugde met kykNET-konsert. Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Early B, Lynelle Kenned, Stiaan Bruwer, Clint Brink en Natasha van der Merwe is almal deel van dié besonderse Kersfeesviering. Hulle word begelei deur ’n orkes onder leiding van Matthys Maree en ’n sanggroep van Laerskool Unika sing ook saam. Kersvreugde met kykNET word op 24 Desember om 20:00 uitgesaai.

  • Christmas in July vier Kersfees met ballet en musiek met internasionale balletdansers soos Adiarys Almeida en Taras Domintro. Dit word op Sondag 10 Desember om 10:30 uitgesaai.
  • Christmas with André is ’n feestelike viering van Kersfees met André Rieu en sy Johann Strauss-orkes wat immergewilde liedjies soos “White Christmas”, “Hallelujah” en “Jingle Bells” uitvoer. Dit word op Sondag 17 Desember om 20:00 uitgesaai.

Spesiale programme vir Desember

  • Mr. Bones 3: Son of Bones is die Saterdagaandfliek op 16 Desember om 20:00. Leon Schuster is natuurlik die legendariese Mr. Bones, en hierdie keer moet hy en Mathambo baklei teen ’n groep wat vir olie in Kuvukiland wil boor.
  • Oeps! Die avontuur duur voort  is ’n kinderfliek oor Noag se ark en die diere wat alles in hulle vermoë moet doen om veiligheid te bereik. Dit word op Saterdag 30 Desember om 20:00 uitgesaai.  
  • Kaapse Khoi Jazz Legends, op Sondag 31 Desember om 10:30, is ’n viering van die bekendste Suid-Afrikaanse jazz van die afgelope paar dekades.
  • Krone by Loftus, wat in Augustus vanjaar by Loftus Versveld gehou is, is ideaal om die jaar af te sluit. Dit word op Sondag 31 Desember om 20:00 uitgesaai. Die kunstenaars wat opgetree het, sluit in Kurt Darren, Juanita du Plessis, Bernice West, Brendan Peyper, Leah, Nicholis Louw, Refentse en Ricus Nel.

Terug op kykNET in Desember

  • Kyk wie praat, met De Klerk Oelofse as aanbieder, is terug vir ‘n splinternuwe seisoen vanaf Woensdag 6 Desember om 20:00. Die bekkige kleingoed gee eindelose kykplesier met vier volwasse deelnemers wat moet raai wat die pikkies se antwoorde op vrae gaan wees.

fliekNET is terug as ’n opwipkanaal

fliekNET is terug vir ’n maand met van die beste Afrikaanse speelfilms, kortfilms en dokumentêre.

fliekNET sal van 15 Desember 2023 tot 14 Januarie 2024 op die lug wees op DStv-kanaal 149 as ’n welkome toevoeging tot DStv se vakansievermaakprogram. Van die speelfilms wat op fliekNET te sien gaan wees, sluit onlangse treffers soos Griekwastad, Toorbos, Kaalgat Karel en Swirl in. Ook op die skedule is gewilde uur lange Storiefilms, soos Ouma Olive, en lokettreffers soos Vir die voëlsVuil wasgoed en Liewe Kersfeesvader.

Silwerskerm-kortfilms maak ook deel van die program uit. Dit sluit splinternuwe kortfilms in wat in Augustus vanjaar by die Silwerskermfees in Kampsbaai gedebuteer het.

Sepies in Desember 

  • Binnelanders is weer vol drama. Eric King is vasbeslote om wraak te neem. Annelize maak ’n besluit oor haar toekoms, en iemand snuffel sonder toestemming in Louis en Naomi se huis rond. Weeksdae om 19:30 op kykNET.
  • In Suidooster lyk dinge donker vir Gary. Nazeem se houvas sit druk op hom om by Bridgette te steel. Dit lyk of Lee-Ann en Tyron se huwelik op die rotse is. ’n Dief bederf Ruiterbosch se feesseisoen, en ’n familievriend kom kuier by die Samsodiens. Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
  • In Desember is daar in Diepe waters ’n suksesvolle basaar by die kerk, maar dinge lyk nie goed vir Anja en Rossouw nie. Johan neem ’n drastiese besluit oor sy toekoms, en die krake begin in Valencia en Merwyn se verhouding wys. Maandae tot Donderdae om 18:30.
  • Arendsvlei sorg vir ’n paar skokwendings: Iets hartverskeurends gebeur met Janice, en Beatrice moet op haar troudag besluit of sy die regte keuse gemaak het. Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)