Logo
Suidooster Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13 V

Jill Levenberg: Aanhou, uithou… sukses!

Nuus
05 September 2016
Suidooster se Jill Levenberg gesels in die jongste uitgawe van kykNET se Digityd oor swaarkry en die reis tot hier.
Jill Levenberg Suidooster Digi
Deur Haidee Muller

Sy kén swaarkry, om nét van lensies te leef en die donkerte van depressie. Maar, Jill Levenberg (38) weet ook: jy stof jouself af, dan staan jy weer op.

En hier sit sy vandag, op ’n koue wintersoggend by Suidooster TV, haar werkplek – die ene Mymoena Samsodien. Pure goedhartigheid, hierdie standvastige en geliefde Moslemvrou van die apteker, AB. Jill het sommer holderstebolder in dié karakter ingeklim, en jy laaik haar dadelik.

Suidooster: Rolverdeling

Alles wat jy moet weet oor Suidooster!

Sy glo nie in halfpad-sake nie, verseker die meisie van Kensington in die Kaap vinnig.

As sy die koorjuffer Lucy Moten in David Kramer se bekroonde teaterstuk Orpheus in Africa gespeel het, het sy daai Amerikaanse aksent gegooi. Mense het gedink sy is van “Obamaland”. Natuurlik is sy ook behoorlik beloon daarvoor, met ’n Fleur de Cap-toekenning as beste ondersteunende aktrise in ’n musiekblyspel of musiekteater.

“Iemand sê toe vir my ma almal in die rolverdeling is Suid-Afrikaans, behalwe die meisie wat Lucy speel. My ma was verbaas, haar kind speel dan Lucy en sy is ’n Kapenaar.”

Sy lag uit haar maag uit. Dis aansteeklik, en weliswaar moeilik om te glo dat dié oudste dogter van Carol en Joey Levenberg eens op ’n tyd onuithoudbaar ongelukkig was.

“Ek het ’n ruk lank in isolasie geleef, ek was ontnugter deur die toneelbedryf. Ek het net saans bestuur, bedags glad nie die huis verlaat nie en vir mense weggekruip wat kom klop het. En ek kan jou wys hoe om lensies op verskillende maniere gaar te maak.”

Vandag is sy weer die ou lekkerlag-Jill. Haar ouers het haar immers geleer, jy gooi NOOIT handdoek in nie. NOOIT.

“Moenie dat die feit dat jy nie geld het nie jou terughou nie. Jy moet bly glo, harder werk en bid.”

Die jonger Jill was ’n regte drama queen. “Altyd met ’n bag met tissues daarin rondgeloop. Op twee toe sing ek ‘Happy Birthday’ vir myself.’’

Sing, kan sy. Pa Joey, ’n bouer, was donkiejare gelede lid van ’n groep, The Dynamics, dié dat die musiek so woes deur haar are bruis. Haar ouers is werkesels, vertel sy.

“My pa het altyd ’n ekstra joppie gehad, my ma ook, sy is jare lank ’n tea lady by ’n skeepsmaatskappy. Geld was daar nie, maar hulle was by elke skoolvergadering, elke konsert. Vandag is hulle steeds steunpilare vir my en sus Caryn (34).”

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.