Logo
web uni tv guide

Suidooster

144Soap13

"Suidooster" gaan stormsterk by fees waai

Nuus
22 April 2024
Dit is die derde jaar wat die "Suidooster Stormsterk"-konsert aangebied word. Lees meer oor wie daar optree.
Suidooster by Suidoosterfees

Die kykNET-sepie Suidooster se sterre skitter by vanjaar se Suidoosterfees.

Talle van Suidooster se akteurs tree in verskeie verhoogproduksies by die fees op, terwyl een van die hoogtepunte op die fees se program die sepie se eie konsert, Suidooster Stormsterk, is.

Dit is die derde jaar wat die Suidooster Stormsterk-konsert aangebied word en die hoofgroep akteurs wat optree, is Natasha van der Merwe, Jawaahier Petersen, Irvine van der Merwe, Jill Levenberg, Eden Classens, Simone Biscombe en Dean Smith.

Die musiekregie van die konsert, wat op Saterdag 27 April om 16:00 by Kunstekaap plaasvind, word deur Melissa van der Spuy hanteer. 

Volgens die sepie se publisiteitsbestuurder Wilmer Müller maak die res van die sepie se rolverdeling ook verrassingsverskynings in Suidooster Stormsterk en word daar self ’n storielynkinkel wat nog op televisie moet uitspeel tydens die konsert onthul.

“In die fees se mondigwordingjaar gaan ons die gehoor op hul voete hê met liedjietreffers en beloof ons dat die sepiekarakters soos Mymoena, Kaashifa, Wade, Juicy Justin, Suzy, Bianca en die sluwe Nazeem aksie en vermaak uit die boonste rakke gaan besorg,” sê hy.

Suidooster stap ook al ’n lang pad met die Suidoosterfees en het ons vir die eerste keer in 2020 met die fees hande tydens die Covid 19-pandemie gevat, toe ons saam met die fees ’n inryteater by ons ateljee in Montague Gardens aangebied het.

“Sedertdien het ons al talle projekte saam met die fees aangebied en is Suidooster ook ’n vennoot in die Suidoosterfees se jaarlikse Talentsoektogkompetisie, wat deur Burger King moontlik gemaak word.”

Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees, sê: “Feesgangers kan vanjaar weer eens talle van die talentvolle Suidooster-akteurs in verskeie ander produksies ook sien.”

“Só is Jawaahier in ons 21-konsert saam met kunstenaars soos Early B en Amanda Strydom op die verhoog, terwyl Dean die lagspiere in sy eenmanvertoning Bettie innie Selle gaan kielie,” sê sy. 

Bettie innie selle is deel van ’n reeks van 21 teaterproduksies, wat 21 minute lank is en teen die kaartjieprys van slegs R21 aangebied word,” sê sy.

“’n Ander gewilde Suidooster-akteur wat in ’n verhoogproduksie by die fees te sien is, is Jill Levenberg. Sy tree in Pieter Odendaal se Droomwerk op en sy is al telkemale benoem vir haar vertolking hierin.”

Suidoosterfees vind van 25 April tot 1 Mei by Kunstekaap plaas. Vir die volledige feesprogram, besoek www.suidoosterfees.com. Kaartjies kan bespreek word by Webtickets, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695.