Logo
Suidooster
web uni tv guide

Suidooster

144Sepie13

Mylpaal vir Suidooster met duisendste episode

Nuus
21 April 2020
kykNET se gewilde daaglikse drama, Suidooster, vier sy duisendste episode op 21 April! Dié sepie se eerste episode is op 16 November 2015 uitgesaai en dit was die eerste Afrikaanse sepie wat in die Kaap vervaardig word.
Suidooster Presser

Die duisendste episode is reeds in Februarie opgeneem by Atlantic Studios, die ateljeekompleks in Milnerton, Kaapstad, waar Suidooster vervaardig word.

Aanvanklik was daar net drie episodes per week, maar in 2017 is ’n bykomende episode bygevoeg en weens die reeks se toenemende gewildheid het dit toe ’n vyfde episode in 2018 bygekry.

Daar is talle veteraanakteurs van dag een in Suidooster te sien, wat onder andere Denise Newman (Bridgette Jacobs), Marcel van Heerden (Chris du Plooy) en Cedwyn Joel (AB Samsodien) insluit. Volgens Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder van Suidooster, was dit egter ook van dag een vir kykNET en die vervaardigers belangrik om jong akteurs ’n kans te gee.

“Ons het die afgelope paar jaar ongelooflike nuwe talent ontdek en hulle ook die kans gegee om huishoudelike name te raak,” sê hy.

Boonop het talle bekende persone al as hulself in Suidooster verskyn soos Deon Meyer, Darren Simpson, Alistair Izobel en Lize Beekman.

Vir Suidooster se vervaardigers is dit belangrik ook om terug te gee en by gemeenskappe betrokke te raak.

“Om die mylpaal van die duisendste episode te vier, gaan ons hande vat met die Rooikruis-kinderhospitaal en sal Suidooster in die voorsienbare toekoms betrokke raak by die fondsinsamelingsprojekte van dié instansie,” sê Wilmer.

Bradley Joshua, een van Suidooster se uitvoerende vervaardigers, se visie vir die toekoms is dat Suidooster moet aanhou om goeie stories te vertel.

“Suidooster se stories word geloofwaardig uitgebeeld sodat dit vir altyd in mense se harte en herinneringe sal voortleef,” sê hy.

“Dit is vir ons belangrik om aan te hou om ’n groter gehoor te bereik met goeie vermaak, inhoud van gehalte en diverse karakters, waarmee alle Suid-Afrikaners kan vergelyk.”

Lees net wat van die akteurs te sê het oor dié mylpaal!

Annelisa Weiland (Kate Vosloo)

  • Omdat ’n sepie elke aand op die kassie uitgesaai word, word dit vir baie mense deel van hulle daaglikse roetine. Die sepies skep karakters waarmee die kykers kan identifiseer en gee vir hulle ’n wêreld waarna hulle kan ontsnap. Dis amper of die kyker homself met van die karakters kan vereenselwig en hulle word dus deel van hul lief en leed. As jy eers vasgevang word in die die wêreld wat ’n sepie soos Suidooster skep, is dit dit verslawend en word dit deel van jou lewe.

Cedwyn Joel (AB Samsodien)

  • Dit is vir my ’n voorreg om van dag een in Suidooster te wees, want wat wat Suidooster uniek maak, is dat dit stories vertel wat nog nie te vore in sepies vertel word nie. Dit sluit byvoorbeeld die doen en lates van die Samsodien-gesin en hul gewoontes en tradisies as Moslems.

Dean Smith (Wade Daniels)

  • Suidooster vorm baie deel van mense se herinneringe, want dit is vir baie deel van hul daaglikse roetines. ’n Sepie is ook iets wat belangrike band in baie families is, want dit is iets wat almal saamkyk en oor kan gesels. As akteur besef mens dus dat jy ’n groot impak het op ander mense se lewens. 

Maurice Paige

  • Suidooster, soos meeste sepies, vervul ’n baie belangrike rol in die sameweling. Nie net bied dit vermaak nie, maar dit probeer ook om op te voed of die kollig op ’n belangrike kwessie te plaas. Ons karakters smee ook bande met kykers, wat vir talle van hulle ’n vriend of vriendin raak wat hulle dalk nie het nie.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai.