Logo
Suidooster
web uni tv guide

Suidooster

144Sepie13

Drama, liefde én trane in November

Nuus
04 November 2019
Lees verder om uit te vind van ál die groot oomblikke wat op jou televisieskerms gaan plaasvind!
4

Vele nuwe gesigte en dalk ’n geheim of twee… maak seker jy is elke weeksaand in November ingeskakel vir die nuutste sepie-nuus.

1572855121 34 14

Getroud met Rugby

Weeksaande om 18:00

Die Stryder-vroue is vuur en vlam oor ’n nuwe projek...Wie neem almal deel aan die optog die 25ste November ten bate van die ‘Internasionale Dag vir die Eliminasie van Geweld teen Vrouens en Kinders’? Corlea Botha tree ook in November op in Pottie’s. Reitz neem die reuse besluit om weer sy tokse aan te trek wanneer hy besluit om weer vir die Stryders te speel. Liam is in ’n motorongeluk betrokke en word in die hospitaal opgeneem. Intussen vind Reitz en Candice die waarheid uit oor die gekonkel tussen Liam en Bart. Saam met Anna maak hulle ’n plan om Liam te help. Bibi vind iets skokkend uit oor Buys – hy is getroud. Bibi word dan ook deur sy vrou geterroriseer.Daar is ’n onderonsie in die salon en Bibi is betrokke. Ryno loop ’n vriendin uit sy verlede raak. Thinus vind uit Ryno het iets met haar aangehad op universiteit toe hulle begin uitgaan het – is die wittebrood dan nou al reeds verby?  Festus en Koekie reël hulle eie vroue-funksie en nooi ’n klomp mense van die ‘squat’ na Fafa se huis toe, maar die volgende dag is al die meubels gesteel.

1572855195 34 11

Suidooster

Weeksaande om 18:30

Quinton se oom maak sy verskyning in Ruiterbosch, maar vir Quinton is dit allesbehalwe ’n gelukkige reünie. Michelle probeer haar bes om vrede tussen die twee te bewerkstellig, maar hulle leer gou waarom Quinton nie gaande oor sy oom is nie. Daar is ook ’n groot geheim wat Richard van almal af wegsteek en Michelle en Stefan gaan ter wille van Quinton se geluk ondersoek moet instel. Hulle is egter nie voorbereid op hoe vuil Richard kan speel om sy donker geheim weg te steek nie… 

Siya en Danni se geheime verhouding is ook aan die ontrafel wanneer Tim besef wat aangaan en dit nie vir homself kan hou nie. Rhafiek sien met sy eie oë wat tussen Danni en Siya aan die gang is en Bianca is verpletter wanneer sy van hul verhouding uitvind.  Siya en Rhafiek se hegte vriendskap word vir die eerste keer werklik getoets en Bianca is weer naby die afgrond – wat doen sy wanneer haar paaie weer kruis met Lloyd, die man wat haar destyds aan dwelms bekendgestel het? 

Ty sukkel om by te hou by Lee-Ann en hulle nuwe dans-instrukteur, veral wanneer hy vermoed die instrukteur maak ogies vir Lee-Ann. Daar wag egter ’n groot verrassing op Ty, want daar is iemand wat hom ook dophou.  

’n Nuwe gesig word verwelkom in Ruiterbosch, maar vlug sy van iets of is sy net hier om vir haar dogter en skoonseun te kom kuier? 

1572855240 34 7

Binnelanders

Weeksaande om 19:30

Na die moles by die Koster-woning is Okkie behoorlik in die spreekwoordelike hondehuis – en hy besluit om die pad te vat om sy kop te gaan skoonmaak. Louis vra vir Quinton om Okkie te vergesel op sy reis, net om ’n ogie te kan hou ook, maar min weet Louis watter groot avontuur lê daar voor vir die tweemanskap. Om te gaan kamp en die gewoel in jou hart te ontleed in vrede is nie altyd vir almal beskore nie, en kort voor lank is daar ook ’n ander ongedierte wat wag om sy pond vleis te eis – en dit is nie net die roofdier in die omtrek nie. 

1572859594 34 1

Louis en Naomi se sprokies-troue lê voor, en daar is nog heelwat finale reëlings wat sal verseker dat hulle die knoop deurhaak. Gaan hierdie dag sonder enige voorvalle plaasvind? Of is daar meer as een slang in die gras wat dit maar ’n opdraande stryd na die paradys gaan maak?

Die Kosters het ook probleme van hul eie, want At wil skei van Annelize, maar eers moet hy seker maak dat Conrad nie die skeiding tussen die tydige en die ewige ervaar nie. Wat kan At Koster doen om te verseker dat sy toekoms net so rooskleurig gaan wees soos sy halfbroer se vooruitsigte? Of gaan hy dalk weer moet staatmaak op geheime (en berugte gesigte) van die verlede om die wa deur die drif te trek? En gaan hierdie drif dalk ’n wig in ’n alreeds wankelrige verhouding dryf?

Chanel en Danny se vriendskap word erg getoets in hierdie maand: daar is ’n vreemde ding wat gebeur wanneer ’n mens eers een van jou beste vriende in ’n nuwe lig sien. Maar hierdie verskynsel kan ook verdof in die gedagtes van die aanskouer wanneer elkeen eers sy eie hart sal moet ondersoek om die volmag van hul gevoelens te kan waardeer…

Tertius keer terug van die Kaap met al die inligting onder die son om te verseker dat sy nuwe lewe saam met sy beminde een van minder tolbosse en hindernisse is reg langs die see, maar voel sy beminde nog dieselfde? Hulle sê dat afstand en stilte gewoonlik die beste medisyne is om die waarheid van jou hart te ontdek, maar beteken dit dat die pad vir Tertius en Annelize nou meer seepglad gaan wees? Of is daar nuwe (en groter) dongas in die hart se pad? Tertius laat nie gewoonlik gras onder sy voete groei wanneer hy smoorverlief is nie, maar ’n mens moet maar twee keer dink voor jy deurmekaar raak met iemand soos Annelize – want die hart wil hê wat die hart wil hê, tensy brandende ambisie oorhand kry…

Hugo Vos se salige bestaan in Pretoria word getoets wanneer ’n spook uit sy verlede helder oordag in die gange van Binneland Kliniek kom rond loop – en sy is opsoek na haar man: Naas Wessels. Julia is nie net verstom om vir Hugo in die gange van die spog-privaatkliniek raak te loop nie, maar versteen behoorlik wanneer sy ook gekonfronteer word met die geskiedenis wat haar gevorm het tot die vrou wat sy vandag is…  Om jou verlede van alle kante te besigtig is nie altyd so lekker soos wat die wens klink nie, en hierdie keer gaan sy soos ’n tierwyfie moet veg om seker te maak dat sy nie deur haar eie verlede verskeur word nie – veral nie wanneer sy werk aan ’n nuwe begin nie.

1572859325 34 6

Iemand anders wat hoop vir ’n nuwe begin in die hartjie van Pretoria is die sluwe Tracy Smit, die vrou wat vir Danny so lank om haar pinkie gedraai het en vroeër vanjaar die paramedikus oorreed het om deel te word van ’n ambulans kaping-sindikaat. Ja, Tracy is weer op vrye voet, en kom soek nie net witvoetjie nie, maar ook blykbaar vergifnis vir die sondes wat sy gepleeg het. Maar gaan Danny en Steve haar ooit kan vergewe vir alles wat sy al aan hulle gedoen het? Of is daar ’n ander ridder op ’n wit perd wat haar dalk skuiling kan bied teen die ongenaakbaarheid van die werklikheid? Tracy het nie net vergifnis om te vra nie, maar ook ’n guns – of drie – en die waarheid oor wie en wat sy werklik is gaan ’n hele paar hartsnare roer…

Okkie en Ilse moet die nare waarheid van hul werklikheid ook trotseer, maar doen dit darem nie alleen nie: Liezl draai nie doekies om wanneer sy die paartjie ontmoet nie, en kort voor lank is daar vir beide van die Ferreira’s harde huiswerk en selfondersoek wat moet plaasvind om te kan bepaal of hul verhouding ’n dramatiese einde of sprokies-begin gaan hê.

1572859363 34 2

Wanneer daar ’n nuwe verpleegster in die gange van Binneland Kliniek aangestel word, is dit nie die rokjagter Quinton Meyer wat oor sy voete val om by haar uit te kom nie – Connie kan nie vinnig genoeg uit die sjarmante dokter se pad bly nie! Is hierdie net die klassieke verhaal van ’n teruggetrokke meisie wat nie weet hoe om op te tree wanneer ’n sjarmante dokter in die nabyheid is nie? Of gaan sy maar altyd net flou val in die man se arms? Tyd is ’n goeie leermeester, maar vir party is dit ook die beste vorm van geheueverlies…

Vir die varsste nuus oor jou gunstelling sepie, volg die hutsmerke, #Binnelanders, #kykNETGMR en #Suidooster op FacebookTwitter en Instagram.