Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

"Lottoland help ’n dorp": ’n Stukkende dorpie op die platteland word weer heel en vol hoop + skryf jou dorp nou in!

Nuus
22 November 2023
Inwoners het aan Lottoland ingeskryf om 'n gemeenskap-swembad te laat herstel. Lees meer.
Lottoland help ’n dorp

In die sewende episode van kykNET se inspirerende werklikheidsreeks Lottoland help ’n dorp waar dorpe ’n waardevolle finansiële hupstoot kry om verbeterings aan te bring, word daar by Senekal in die Vrystaat ingeloer.

“Daar is nuwe hoop. Klein projekte leer mense om saam te staan, moue op te rol en ’n verskil te maak,” is die boodskap wat Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland, met die land wil deel.

En Senekal is juis die dorp waar dinge gebeur, vertel Leah.

Frans Cronjé, komiteelid: Senekal/Matwabeng-gemeenskapsforum, het twee jaar gelede hier kom wortel skiet met die doel om ’n verskil te help bewerkstellig. Frans is boonop ’n fliekmaker en hy hoop om ook daardeur weer sake in Senekal in die regte rigting te help draai.

Toe hy destyds die dorp binnegery het, het hy in trane uitgebars... eerstens omdat hy geweet het hy is waar hy moet wees en tweedens oor die verval van die platteland.

Leigh-Ann van Rensburg onthou weer hoe die mense na Senekal gestroom het na die afskuwelike moord op die jong boer, Brendin Horner. Sy glo dat nét gebede op die dag van die hofsaak – toe die strate vol boere, politieke groepe en oproeriges was – tot vrede gelei het sodat daar nie op daardie dag oorlog uitgebreek het nie.

“Die gemeenskap het dit reggekry om die omstandighede positief te draai en dis hoekom ander dorpe ons nou nader om uit te vind hoe ons dit regkry om ons gemeenskap byeen te hou,” aldus pastoor John Mathuhle. Hy het ook verduidelik het dat die gemeenskapsforum uit ’n krisis gebore is.

Dinge het reeds die afgelope twee jaar al gewoel in die pragtige plattelandse dorpie en Leah was verstom oor die verskil wat sy ervaar het. Volgens Frans het hulle 5 500 slaggate in ’n jaar reggemaak, die stopstrate is geverf en die stortingsterreine is opgeruim.

“Dis wat mense hoop gee... daardie klein stappies,” het Frans dit opgesom.

Petrus Maine Menyatso, die streeksvoorsitter van die taxivereniging en komiteelid van die gemeenskapsforum sê Senekal sal nie stakings en bakleiery in die dorp toelaat nie. “Ons is één gemeenskap.”

’n Bekende baken van die dorp is die Sasko-silo’s. Dit staan al die afgelope 20 jaar leeg nadat Sasko die dorp verlaat het. Dit het meegebring dat 1 000 mense hul werk verloor het en van die besighede in die dorp was genoop om hul deure te sluit. Dit het die dorp se ekonomie ’n geniepsige knou toegedien.

Maar ook hier het die ywerige Vrystaters weer begin inklim om die silo’s te restoureer. Daar is planne vir ’n sonneblomolie-pers, ’n filmateljee en om dit as ’n venue te ontwikkel.

Hoekom het hulle dan vir Lottoland help ’n dorp geskryf as daar reeds soveel uit eie geledere vermag is?

Dis vir ’n swembad op die dorp. Wel, om die een te restoureer wat rondom 27 jaar gelede in gebruik was. Met Leah se besoek was dit toegegroei en vuil en dit het half ’n bespotting gemaak van die woorde bo die ingang na die swembad: Standvastig en moedig...

Die swembadperseel is onveilig, onhigiënies en dis nie ongewoon dat daar dwelms gebruik word nie.

Een persoon wat die swembad baie sterk ondersteun is die plaaslike skoolhoof. Charles Pieterse, skoolhoof van Hoërskool Paul Erasmus glo vas die platteland moet beskerm word. 

“Ons wil die kinders in die skool en in ons dorp behou. As ons nie die kinders geleenthede gee nie, het hulle mos ’n rede om weg te gaan.”

Wel, danksy Lottoland help ’n dorp se groen koevertjie het daar duisende redes bygekom om die swembad in volle glorie te herstel en ’n nuwe bestemming vir die dorp te help skep. Frans was vir ’n wyle oorweldig en moes ’n paar trane wegvee toe hy besef daar is R500 000 bewillig vir Senekal se swembad-droom.

Vier weke later

Gaan daar ’n swembad wees met Leah se terugkeer? En wat van water?

Leah was baie bly toe sy besef die antwoord is ja op beide vrae. Frans het vertel dat hulle gelukkig ’n baie groot pyp gevind het om die water in die swembad te kry.

Maar, o aarde! Die eerste 10 minute het daar net modder uitgekom – maar dit sal hulle later uitsorteer.

Dit was nie al wat skeefgeloop het nie.

Working on Fire se span het ingespring om te kom help met die brand van die rommel en onkruid. Op die tweede dag het hulle ook bome afgesaag, maar toe het verwoestende veldbrande die omgewing getref en man en muis, WoF en die boere moes almal gaan help brandslaan.

CJ Brits sê die swembad het baie krake gehad. Hy het nie regtig hoop gehad dat dit herstel kon word nie. Maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.

Al die pype en mure moes oorgedoen word. En natuurlik het die mure ook gesmeek vir ’n nuwe lagie verf.

Leah het teen die tyd na haarself as die “doen-dit-self-koningin” verwys. En met reg. As daar nie geverf is nie, het sy ewe vlytig plaveisel help lê!

“Die swembad het ’n simbool van hoop geword. Iets wat onmoontlik was, is nou reg. Dis amper soos ’n wedergeboorte,” het Frans aan die einde van die projek gesê.

En Petrus sê hy het nou baie hoop vir Suid-Afrika en vir Senekal. “Dit help nie om net terug te kyk nie. Ons is die mense wat vorentoe wil gaan.”

Frans het op sy beurt ook ’n boodskap vir Senekal. “Kom ons leer meer hoe om Senekal te celebrate, ook die Oos-Vrystaat en Suid-Afrika te celebrate. As ons fokus op die goeters wat werk en wat kán werk en gebeur, dan kan ons die lewe lekker maak!”

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2!

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp. 

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi. 

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.