Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

“Lottoland help ’n dorp”: Cradock, die plek met sy eie siel, is nou nie meer ’n ‘scruffy town’ nie + goeie nuus vir ander dorpe!

Nuus
29 November 2023
“Hier is ’n sterk sin van gemeenskap wat ek nie eintlik vantevore ervaar het nie.”
Lottoland help 'n dorp

In die agste episode van kykNET se sielsverrykende reeks, Lottoland help ’n dorp, het die aanbieder en sangeres Leah by Cradock in die Oos-Kaap gaan inloer. Sy sê dié dorp voel al vir haar soos huis nie net omdat sy al baie daar was nie, maar ook omdat die mense so warm en fantasties is.

“Cradock beteken baie vir my,” vertel Neville Prinsloo, stigter van Hello Cradock en die voorsitter van Cradock & Middelburg LTO. Maar hy is spyt dat hy die dorp eers laat in sy lewe ontdek het. 

“Hier is ’n sterk sin van gemeenskap wat ek nie eintlik vantevore ervaar het nie.” Sy paaie het 7 jaar gelede met die van Cradock gekruis toe hy ’n drie maand-lange projek naby die dorp moes doen. Hy het nooit weer weggegaan nie...

“Dis asof die plek sy eie siel het,” sê Neville. Hy vertel ook vir Leah meer oor die hardwerkende groep mense wat deel is van die Cradock-gemeenskapsforum wat op vier beginsels gebaseer is: Verf, herstel, maak skoon en plant.

Lou Venter, stigter en voorsitter van die gemeenskapsforum, vertel dat hy en sy vrou die stadslewe gegroet het om platteland toe te kom. En die gemeenskapsforum was die resultaat om te help waar dienste gelewer nie voldoende was nie.

Slaggate is reggemaak, mense is nadergetrek om die tuine in die dorp op te ruim, en daar is geverf waar verf nodig was.

Lou sê mense het te gewoond geraak aan die veral en niks daaromtrent gedoen nie. Dit het hom gemotiveer om tot die besluit te kom dat genoeg net mooi genoeg is. Leah sê wanneer hier besef word dat daar ’n probleem is, die gemeenskap dit sien as iets wat hulle kan oorkom in plaas daarvan om negatief daaroor te raak.

Die gemeenskapsforum het ’n bakkie gekoop en vier permanente werkers wat elke dag die strate skoonmaak. Lede van die forum help voorts om die slaggate te takel en op te vul. Waar iets gebreek is, is daar altyd iemand wat kom help regmaak.

Dan is daar Arts Town Cradock wat daartoe mik om dit in ’n kunsdorp te help omskep. Muurskilderye vorm deel van die inisiatief. 

Luthando Ndabeni, een van die projek se kunstenaars, bly al van kindsbeen af in Cradock. Hy verduidelik dat die muurskilderye daarop gemik is om die gemeenskap se stories te vertel aan mense wat hierdeur kom.

Dis vir hom belangrik dat mense moet besef kunstenaars bly ook in kleiner gemeenskappe. Jy hoef nie net in stedelike konteks erkenning geniet nie.

Lou verduidelik aan Leah dat daar befondsing nodig is om al die projekte, waaronder die muurskilderye, tuine en selfs die forum se bakkie, aan die gang te hou. Hy sê hul grootste droom is ’n netjiese dorp wat toeriste aantrek en wat werk kan skep om die hoë werkloosheidsyfer hok te help slaan.

Neville beduie dat daar ses muurskilderye onder Luthando se toesig, met behulp van jong kunstenaars van die dorp, beoog word.

Voorts wil hulle die tuin by die ingang van die dorp nog mooier maak, sowel as ander tuine in die dorp verder ontwikkel. Daar word ook geskikte parkering vir voertuie en oor die algemeen ’n groener gevoel vir die dorp beoog.

En met die R200 000 wat Lottoland help ’n dorp aan die gemeenskapsforum geskenk het, gaan dit gewis ’n groot hupstoot vorentoe wees vir die pragtige Karoodorp.

Lou en Neville was baie opgewonde daaroor en dit is die grootste skenking wat hulle tot nou toe ontvang het.

Vier weke later

Stof, grond en chaos het op Leah gewag met haar terugkeer na Cradock. Maar Neville en Lou stel haar gerus en sê hulle het baie hard gewerk en dit het goed gegaan. Selfs die plaaslike restaurante het kos aan die werkers voorsien.

“Die Cradock-gemeenskapsforum het ’n visie om dié hoek [die hoofroete vanaf Hofmeyr] as ’n eerste indruk vir toerisme te omskep,” vertel Karen Venter, eienaar: The Shed en kwekery.

’n Trotse Chris Mbuzwana, lid van die gemeenskapsforum, vertel van die tuin wat hy maak wat mense se aandag gaan trek. “As jy twee weke gelede hier was, sal jy nie weet waar jy nou is nie,” vertel hy oor die vordering wat gemaak is.

“Ons werkers wat elke dag werk, is eintlik die heroes want hulle is die ouens wat elke dag uitgaan en fisies daai werk doen,” sê Lou.

Wat vir Carien Bruwer, eienaar van die Oude Pastorie-gastehuis, laat skrik het was toe ’n gas vir haar gesê het Cradock is ’n “scruffy town”.

“Dit het my oë laat oopgaan dat ons dorp in algehele verval was. Ons maak die dorp mooi want ek dink dit trek die aandag van die deur-ryers, dit bring vir ons ’n inkomste vir die dorp as hulle van ons dorp gebruik wil maak. En dalk vir mense wat hier wil kom bly want ons het baie goeie skole.”

Aalwyne, vygies en plakkies... dis wat die mense nou na Tokkie van Schalkwyk, gemeenskapsforum-lid, se hek bring. “Ons het skenkings van die gemeenskap gekry, dis alles waarvoor ons dankbaar is.”

Neville vertel op sy beurt dat die Lottoland-geld baie verder gegaan het as wat hulle aanvanklik gedink het. Van die toerusting wat aangekoop is, waaronder lere, word deur die gemeenskapsforum en die kunssentrum gebruik.

“’n Tuin in ’n dorp beteken soveel meer as net ’n mooi prentjie. Dit beteken dat mense omgee oor daai area, oor die dorp. Hulle wil graag hê die dorp moet ’n prentjie vir ander wees, nie net vir hulself nie,” sê Leah.

“Ons probeer om die storie van Mountain Zebra-nasionale park te vertel. Ons het baie verskillende plante, soos die aalwyne. En dan is die windpompe van die Karoo baie bekend,” vertel Luthando terwyl Leah handjie bysit met een van sy muurskilderye.

Neville is baie positief oor die pad vorentoe en glo dat daar nog meer mense gaan bykom en deelneem aan die verskillende projekte in Cradock. 

Lou sê op sy beurt die vordering van die afgelope vier weke en die gemeenskapsbetrokkenheid is vir hom soos ’n riem onder die hart.

“Dit beteken mense het ingekoop op die idee, en dit beteken ook weer dat ánder mense dit gaan raaksien en daarmee sal voortgaan. Hulle gaan hul eie tuintjies mooi maak voor hul huise en op sypaadjies ensovoorts,” sê hy.

Moeg, tevrede en trots is hoe Neville sy gevoelens na afloop van die dag opsom. Hy besef daar is nog baie werk, maar die afgelope vier weke was ’n groot tree vorentoe.

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2!

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak. 

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp.

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi. 

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.