Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

“Lottoland help ’n dorp”: Die kroon van Kroonstad skyn weer + goeie nuus vir ander dorpe!

Nuus
07 Desember 2023
“Hoe meer ons dit gaan doen, hoe meer mense gaan betrokke raak.”
Lottoland help 'n dorp

In die negende episode van kykNET se inspirerende reeks, Lottoland help ’n dorp, vertel die aanbieder en sangeres Leah van die wonderlike en positiewe ervarings wat sy tot dusver gehad het op haar reis deur die platteland.

Sy vertel daar is mense wat hulle geensins aan negatiwiteit steur nie. “Hulle kyk nét na die positiewe,” sê sy.

Die keer het sy in Kroonstad in die noordelike Vrystaat gaan draai.  

André van Pletzen bly sy hele lewe lank hier. “As jy hier geplaas is in die lewe, wil jy nie ’n Jona-ervaring in jou lewe hê nie. Jy moet wees waar Hy jou geplaas het,” sê hy.  André is ’n plaaslike sakeman en stigterslid van Ignite & Revive.

“Die mense van Kroonstad is oulik en lekker,” vertel hy vir Leah. Ignite & Revive ’n groepie van onder 10 sakemense wat bymekaar gekom het nadat ’n provinsiale pad deur die dorp die gemeenskap onderstebo gelaat en tot miljoene se verliese bygedra het.

Vir hulle was genoeg net mooitjies genoeg.

Voor 2016 het Kroonstad volgens hom baie erge probleme ervaar. Daar was agteruitgang, riool in die strate en korrupsie het hoogty gevier.

“Ons het hande gevat en ons het seker gemaak dat besigheid, regering en die gemeenskap saam begin werk het.” 

Pieter van Rensburg is nog ’n “oud-Kroonstader” en versekeringsassessor wat vir ’n lank tyd elke tweede maand of so huiswaarts gekeer het. Nou is hy voltyds terug op die dorp en betrokke by Ignite & Revive.

Vir hom het die verval van die dorp hom genoop om mou op te rol en betrokke te raak. 

Charl Marais, besturende direkteur van Roff Industries en lid van Ignite & Revive, voel dat die hoogtepunt van Kroonstad die afgelope drie jaar beslis die keer was toe dit as kykNET Kwêla se Dorp van die Jaar (2022) aangewys is.

Vir hom was die geleentheid om ’n dorp wat werklik stukkend was, en nog steeds baie werk nodig het, op die pad vorentoe te help ’n besondere verrykende affêre. 

Nou is die span besig om meer as 70 ander dorpe landwyd te motiveer om dieselfde te doen.

"Ons het Kwêla Dorp van die Jaar gekyk en André (Ignite & Revive) se onderhoud het ons inspireer om Lottoland help ’n dorp te begin,” vertel Maryke Haywood, die bemarkingshoof van Lottoland SA.

Sy onthou ’n deurrit deur die dorp ’n paar jaar gelede – en onthou net hoe vervalle dit was.

“Maar om vandag deur Kroonstad te ry, is dit ’n baie lekker ervaring om te sien wat hulle alles in hierdie pragtige dorp vermag het.”

Vir sakevrou en gastehuis-eienaar Sylvia de Gouveia was dit opwindend om alles te gee en hard te werk om te sien dat Kroonstad werklikwaar die Dorp van die Jaar was.

Haar raad aan kritici? “Moenie na die slaggate kyk nie, kyk na die eenheid, kyk na die verskil waar daar eienaarskap gevat is.”

André bevestig dit. “Jy moet self in Suid-Afrika eienaarskap neem van jou dorp en jy moet self daai gat voor jou huis volmaak.”

Die kragbokse in die straat is oorgeverf en met positiewe slagspreuke versier, die verkeersligte is oorgeverf en herstel. Selfs die ou posbusse is weer mooi geverf en die sirkels met nuwe plante omgetower.

Dit was vir haar moeilik om gemotiveerd genoeg te wees om dorp toe te ry, vertel die vryskutskrywer Jeannie Burke, ondervoorsitter van Ignite & Revive.

“Ek moes soek vir iets moois. En toe begin Ignite & Revive . . .”

 “Ons moet bome plant vir die nageslag, want al sit jy nie in daai skaduwee of eet van daai vrugte nie, moet jy bome plant vir die geslagte wat na jou kom,” sê André.

Maar hoekom inskryf vir Lottoland help ’n dorp as Kroonstad reeds ’n groot prys gewen het? Daar word verduidelik dat dit nie soos ’n feëverhaal verloop na die Dorp van die Jaar-toekenning nie. Dit gaan oor volhoubaarheid en fondse word daarvoor benodig. En die span is gewillig!

Wat nou nodig is, is grassnyers, randsnyers en toerusting om te help dat die groot parke en eilande in stand gehou kan word. Dan is daar die Suidweg- en die Jordania N1-ingang waar hulle graag plaaslike kunstenaars wil kry om die “Welkom in Kroonstad”-murasie op te knap.

Die groot een is natuurlik die uitermate groot sirkel in die dorp waar hulle dit graag in die Lottoland/Kroonstad-sirkel wil omskep. 

Kort voor lank het Leah die kans gehad om vir André met die groen koevert te verras – en met ’n allemintige R460 000 kan daar net groot dinge gebeur! André het behoorlik trane in sy oë gehad – dit komende van ’n man wat “nie ’n tranerige mens is nie”...

Vier weke later

Met Leah se terugkeer was die dorp ’n miernes van bedrywigheid. André vertel die mense se kreatiwiteit het toegeneem hoe verder hulle met die projek gevorder het. En Leah word met haar aankoms reeds gewaarsku sy gaan ook ingespan word.

Elkanstaal, wat die kunswerk vir die Lottoland-sirkel gedoen het, moes ’n nuwe masjien aanskaf toe die bestaande een uitgebrand het terwyl hulle besig was om die enorme konstruksie te voltooi.

Johan Brummer het die geestelike simboliek van die sirkel aan Leah verduidelik en gesê dit was ’n konsep waarmee hy en Tjaart na vore gekom het.

Vir hom was dit baie lekker om te sien dat mense so saamkom en saamwerk, vertel Stephan van der Westhuizen. Hy is die plaaslike Pick ’n Pay-eienaar en ook ’n gastehuis-eienaar.

“Hoe meer ons dit gaan doen, hoe meer mense gaan betrokke raak.”

Leah het vir ’n rukkie die verfkwas verruil om vir ’n rit op die grassnyer te gaan – dit was duidelik ’n groot treffer wat haar baie breed laat glimlag het. 

“Elke dorp sit met die probleem dat nie almal betrokke wil raak nie. Ons hoop dat met hierdie groot geskenk wat Lottoland vir ons gegee het, mense die resultate sal raaksien en meer betrokke gaan raak,” is Megan Botha, sakevrou, berader en lid van Ignite & Review, se hoop.

“Ek glo dat almal ’n begin moet maak om te begin glo in die toekoms van Kroonstad. Alles loop mooi saam. Die wat so negatief teenoor die dorp is, moet self kom kyk,” sê Madiba Khojane, toerismebestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit. ‘Kom huis toe, ons is besig om dinge reg te kry.”

“Die hoop, die verblyding, die vreugde in my hart – hoop ek is in die hart van elke inwoner van Kroonstad – want van lelik is ons besig om na mooi te draai. Ons dorp het spatsels mooi oral,” is die boodskap wat Jeannie met almal wil deel. “Julle moet net jul oë oopmaak, mis die slaggate en sien die mooi!”

André het ook groot lof vir die Moqhaka-munisipaliteit wat soveel bygedra het tot die sukses van die projek. Om nie van die ander sakemanne wat uitgereik het, te vergeet nie.

Hy het net een woord wat hy glo nie in die woordeboek is vir wat in Kroonstad gebeur het, en dit is “fantabalooslik”. En, soos hy tereg opmerk: “Die kroon van Kroonstad skyn weer.”

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2!

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp.

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi.

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.