Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

“Lottoland help ’n dorp”: Samewerking is die sleutel tot Clanwilliam se sukses + goeie nuus vir ander dorpe!

Nuus
13 Desember 2023
“As ons vra, gaan hulle help. Vir die eerste keer het ons geld om iets te kan doen!”
Clanwilliam Lottoland help 'n dorp

Clanwilliam in die Wes-Kaap is die 10de dorp waar kykNET se lewensveranderende werklikheidsreeks Lottoland help ’n dorp ’n vonk vir verbetering aangesteek het. En hoe gepas was dit nie, want dit is een van die 10 oudste dorpe in die land!

“Ek is hier gebore, het hier skool gegaan, was ’n bietjie weg gewees – en toe’t ek net gedink dit is my huis dié, dis die plek waar ek graag wil wees,” het Ilse Lochner, die voorsitter van Clanwilliam se Sakekamer asook die voorsitter van die museum en “nog ’n klomp goed”, vir Leah vertel.

“Clanwilliam se mense is net baie lekker. Ons is vriendelike, gasvrye en plattelandse mense en ons hou daarvan as mense kom kuier,” is hoe Sanet Stander, die bestuurder van Clanwilliam Toerisme die dorp tussen die berge en die Olifants- en Jan Disselsrivier beskryf.

Plaaslike toerismebeampte Gerald Zimri, het dit bevestig en hy kan ook nie uitgepraat raak oor die natuurlike prag van Clanwilliam nie.

Dan is daar natuurlik rooibos wat net hier voorkom. Boonop lewer die omgewing die meeste sitrus in die Wes-Kaap. Dr. Ruben Richards, uitvoerende burgermeester van die dorp, vertel ook hoe die aartappels van die Sandveld eens die aartappelmandjie vir die land was.

Daleen Schoombee, plantkenner en lid van die Veldblommevereniging bly ook haar hele lewe hier, alhoewel sy in Johannesburg gebore is. Sy sê sy kan steeds nie ophou kyk na die berge en die blomme wat so eie aan Clanwilliam is nie. “Dit doen iets vir my siel.” En van terugkeer na Johannesburg wil sy niks weet nie.

Ilse vertel dat mense toentertyd nie eintlik veel van Clanwilliam se bestaan geweet nie. Nog minder van die pragtige dam. Haar pa sou die man wees wat regattas begin reel het en dit het beteken almal moes inspring en help. Vandag is die dam een van die gewildste bestemmings vir watersport-geesdriftiges.

“Blomme was een van ons groot advertensiepunte vir toerisme. Toe het ’n paar dames besluit dis tyd vir ’n veldblommetuin.” Dit was die begin van die alombekende Ramskop-veldblomnatuurtuin.

Jan Oosthuizen, betrokke by gemeenskapsontwikkeling: Clanwilliam Sakekamer, onthou dat blomliefhebbers reeds van die sestigerjare uit eie sak en eie tyd spandeer het om die tuin pragtig te maak.

Daleen vertel ook dat al die plante en blomme in Ramskop inheems is en dat daar ook verskeie bedreigde spesies in die pragtige natuurtuin voorkom. Vir haar is dit belangrik dat die voortbestaan van daardie spesies verseker moet word.

Baie toeriste kom vir ’n dagbesoek na Ramskop waar hulle ’n groot verskeidenheid blomme in ’n baie kort tydjie kan sien. Selfs wanneer daar droogte is, word daar seker gemaak dat daar iets in die tuin te sien is deur besproeiing in te span.

Op Leah se vraag aan Ilse waarom hulle Ramskop ingeskryf het vir Lottoland help ’n dorp, verduidelik Ilse dat daar net nie genoeg finansies is om die tuin jaar in en jaar uit te onderhou nie. Die tuin is ook oud met die gebou wat 47 jaar gelede gebou is – en dit moet opgradeer word.

“Soos met die meeste plekke in Suid-Afrika die geval is, het die dorpe agteruitgegaan, die munisipaliteite sukkel en aan die einde van die dag suig die tuin aan die laaste speen,” het Jan dit opgesom.

Wat Ramskop oor droom is ’n kombuis, om die ou en lekkende besproeiingstelsel te vervang en om die tuin uit te brei. Vir Ilse is dit ook belangrik om die tuin te red. “Dit is ’n tuin waar baie mense oor baie jare baie hard aan gewerk het.”

Sy was heeltemal uit die veld geslaan toe Leah vir haar daardie groen koevertjie wat R450 000 bevat, oorhandig het. Die vier week-lange spertyd om die projek te voltooi, het haar ook amper onkant betrap, maar Ilse het onwrikbare geloof in die ondersteuning van die gemeenskap om die spertyd te haal.

“As ons vra, gaan hulle help. Vir die eerste keer het ons geld om iets te kan doen!”

4 weke later

Ilse kon nie haar opgewondenheid in toom hou toe Leah opdaag nie. Dit was duidelik dat sy baie gelukkig was met die vordering wat gemaak is. 

Daar was natuurlik ’n kwota kwellinge. Dit was blommeseisoen en die aantal besoekers het dit moeilik gemaak om weg te spring met die verbeteringe in Ramskop en die span het gejeuk om daarmee weg te spring.

“Dit was rof gewees. Ek was die mens wat die kantoortjie moes beman wat geskuif het met die klomp toeriste wat gekom het – en ons moes werk aan die tuin. Dit was ’n gewoel hiersô, maar dit was so lekker gewees,” vertel Joanie Boer, plantdeskundige van Ramskop.

Leah was verbaas omdat die bouery op tyd voltooi is, iets wat sy as ongewoon beskryf het.

Die kombuis, wat voorheen net ’n wasbak en koue water gehad het, het nou warm water en dis groter gemaak. Dit kan nou in alle reg ’n kombuis genoem word.

Ilse kon nie uitgepraat raak oor die nuwe besproeiingstelsel nie. En Leah? Wel, die verfkwas het plek gemaak vir haar om nutsvrou te wees en van die spreiers te help installeer. 

Voetpaadjies is herstel, trappies is gebou waar dit weggespoel het, oorgroeide gedeeltes is ontbos en nuwe plante is geplant.

Leah, wat erken sy het nie groen vingers nie en dat baie van dit wat sy voorheen geplant het, “nie noodwendig oorleef het nie”, is vas oortuig dat die plantjies wat sy hier in Ramskop geplant het, wel gaan oorleef. “Ek glo so!”

Joanie was 18 jaar oud toe sy by Ramskop Natuurtuin begin werk het. “Die tuin beteken baie vir my. En nou, met hierdie veranderinge wat hier plaasgevind het . . . ek kon dit nie glo nie. Dit maak jou so gelukkig is jy hier kom instap en jy sien wat het gebeur.”

Jan het vertel dat dit deel van die skool se leerplan is dat die kinders ’n sekere tyd van die jaar in natuurtuine moet deurbring om hulle meer bewus te maak van die bewaring van die blommeryk. “Nou kan skole letterlik vir die eerste keer hul lesse in die tuin beplan.” 

“Ramskop Natuurtuin is een van die organe van Clanwilliam. Ons kan nie daarsonder nie. Ramskop Natuurtuin is ’n bewys daarvan dat ons saamstaan en saamwerk vir die groter goed, vir die groter gemeenskap,” is hoe wyksraadslid Maxwell Heins dit opgesom het.

Danksy Lottoland help ’n dorp se hulp, kan die Lapa nou ingespan word as ’n venue wat ’n inkomste kan genereer en Ramskop Natuurtuin se volhoubaarheid verhoog. Voeg daarby die hek-inkomste en die saadverkope-inkomste en die moontlikheid van ’n teetuin en dit klink asof hierdie projek ’n groot sukses is waar toeriste vir dekades nog sal kom inloer.

Ilse vertel dat hulle weer nuwe moed geskep het en nou weer voel asof hulle kan aangaan en vorentoe gaan.

Leah het die samekoms na afloop van die vier weke met ’n regte Weskus-troue vergelyk. Daar is gebraai, daar is gekuier en daar is heerlik saamgekuier.

En toe die jong rieldansers met hul onderbaadjies en vellies vir nog ekstra vermaak gesorg het, kon Leah nie anders as om saam te dans nie. Maar sy het gou besef – hierdie dans gaan jou aan die einde daarvan laat omval van uitputting...

Ilse het erken dit was baie harde werk, maar dit was elke oomblik die moeite werd. Haar boodskap aan Clanwilliam se mense? “Waardeer jou dorp, waardeer die mense en werk saam sodat ons dit net beter en beter kan maak. Hoe meer jy gee, hoe meer kry jy terug.”

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2!

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp.

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi.

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.