Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

"Lottoland help ’n dorp": Die ‘ou dame’ herleef weer met nuwe hoop vir die teater en die toekoms

Nuus
01 November 2023
"Ek wil hê die Apollo moet daar wees vir my kind!" Meer oor waarom inwoners van Victoria-Wes sterk gevoel het oor opknappingswerk vir hierdie teater.
Leah outside the Apollo theatre in small town

In die vierde episode van kykNET se inspirerende werklikheidsreeks waar gemeenskappe gehelp word om nuwe lewe in hul dorp te blaas, het ’n klein gemeenskap in die Noord-Kaap wondere verrig om ’n ikoniese “ou dame” wat lyk of haar grimering afgewas het, te laat herleef.

Die dorpie? Victoria-Wes – daar waar Ouma Kroeks en die res van die inwoners met hul unieke byname die hart van die dorp vorm.

“Dis Karoo, dis koud,” vertel Marietjie Lochner, direksie-voorsitter van die Apollo-ontwikkelingsvereniging. “En dis baie warm in die somer en ons het nie regtig lente of herfs nie. Maar dis my hart se plek hierdie.”

Sy sê haar dorp se mense maak dit spesiaal. “Ons is min, maar ons is besig. En ons is erg oor mekaar en gee om vir mekaar. Maar ons kan ook lekker fight onder mekaar, maar dis nie juis van belang nie,” verklap sy.

Die dorpie hou nie terug wanneer dit by groot geleenthede kom nie en daar is jaarliks verskeie groot gebeure wat talle mense van oraloor na Victoria-Wes lok. Februarie is skoutyd en aan die einde van Mei die Golf Classic terwyl Junie sinoniem is met die wildsfees.

Maar die Apollo Teater is natuurlik die gonswoord in die omgewing.

“As iets hier gebeur, gebeur dit in die Apollo,” vertel Marietjie.

Dit was eers ’n koffiewinkel wat in 1929 deur Andrew Bassil begin is. Hy is van Upington na Victoria-Wes genooi om die Good Hope Coffee Shop oor te neem. En dit is waar die teater sy ontstaan gehad het, vertel Roché Spea, bestuurder van die Apollo Teater.

“Dit was sy passie om films vir mense te wys. Toe die nuwe teater in 1929 ontstaan het, het dit ’n nuwe wêreld vir die mense in die gemeenskap oopgemaak.”

Maar dan is daar die storie van die spook wat daar rondloop. Volgens Roché is dit ’n tannie wat daarbinne rondloop. Sy sê sy hoor soms iets kraak of skuif en dan weet sy die tannie is daar “op besoek”.

Vir die aanbieder, Leah, lê die teater ook natuurlik na aan die hart en is dit iets waarmee sy grootgeword het. Sy vertel hoe hulle opgedress het daarvoor. “Jy het dit gerespekteer. Dis amper sacred. Dis wow!”

Louis Kruger, sosio-ekonoom en strategiese konsultant van die Apollo-ontwikkelingsvereniging, sê dis belangrik vir kinders om by kulturele sake en die kuns betrokke te raak.

“Om te sien hoe dit lyk, is al klaar vooruitgang in hul denke. As ons daarop kan voortbou, dra ons iets by vir die gedagtes wat volg.”

ATKV-voorsitter en onderwyser Brandon Erasmus vertel hoe opgewonde hy as kind was oor die filmfees wat tydens die September-skoolvakansie plaasgevind het.

“Die Apollo Teater is enig in sy soort in Afrika. En met sy art deco-styl is dit ’n stukkie erfenis in ons gemeenskap en ’n stukkie erfenis wat ons behoue wil laat bly.” 

“Ek wil hê die Apollo moet daar wees vir my kind,” is Malcolm Bailey, onderwyser en direksielid van die Apollo-ontwikkelingsvereniging se versugting. Hy het sélf as kind met die Apollo Teater grootgeword.

“My oupa was die eerste projeksionis daar. Hulle het nog met die ou hand-projektors gewerk. Op skool het my pa oorgeneem in sy vrye tyd. Ek het basies in die teater grootgeword,” vertel apteker-eienaar en plaaslike inwoner André Bester.

Amelia Booyse het voorheen by die Apollo Teater gewerk. “As Tarzan speel, dan was ons stampvol. En dan kyk ons die cowboys. Ek was lief om te gaan [kyk],” vertel sy met so ’n lekker onthou-laggie. 

“Teater gee ’n bietjie hoop... ’n ander persepsie. Dit vat jou so ’n bietjie weg,” sê Leah.

Contessa Kruger, direksielid van die Apollo-ontwikkelingsvereniging het net een pylreguit antwoord wanneer sy gevra word hoe ’n mens op so ’n klein dorpie soos Victoria-Wes aanpas. “Jy moet onthou jy vat jou persoonlikheid saam,” sê sy.

Sy en ’n paar mense het saamgespan om die teater wat in ’n vervalle toestand was, weer tot bruikbaar te herstel.

“Die teater is soos ’n ou vrou wie se make-up ’n bietjie afgewas het. Sy het nou ernstige aandag nodig.”

Contessa was maar bewerig toe Leah daardie groen koevertjie aan haar oorhandig. Die boodskap? R360 000 vir opknappingswerk aan die Apollo Teater! Sy het eers gedink dis ’n poets...

“Ek moes eers ’n bietjie my trane beteuel en toe is ek nog bang dis nie regtig so nie. Dis baie emosioneel vir ons.”

“Oneindig dankbaar, oneindig dankbaar,” is hoe Marietjie op die groot nuus van Lottoland help ’n dorp se bydrae reageer het.

Vier weke later

Logistiek in klein dorpie bly maar ’n tameletjie. So word boumateriaal byvoorbeeld nét op Dinsdae afgelewer. Daar is staatgemaak op inwoners en vriende wat iewers op ’n groter dorp was vir hul eie besigheid, om saam te bring wat hulle kon.

Nuwe teëls, chaos en ’n gevoel van pure opwinding het op Leah gewag toe sy ’n dag voor die afsnytyd op Victoria-Wes aangekom het met haar Lottoland-span. “Jy voel of jy ’n nuwe filmstel binnestap.”

Contessa vertel dat hulle die art deco-styl deur die gebou behou en verder uitgebrei het. Sy moes self nog ’n paar ontwerpe op die mure aanbring en dan was daar nog die teëls wat gewas en blink gepoleer moes word...

Leah, wat tergenderwys na haarself as ’n professionele verwer verwys, moes inspring en help met detail verf op die rame van kunswerke.

“Dit was absolute chaos, maar dit was lekker chaos,” het Marietjie die afgelope vier weke opgesom. 

Daar is ook ’n nuwe tuin agter die teater geskep. ’n Plaaslike inwoner het letterlik rommel bymekaar gegooi en banke daarmee gemaak. Ook beelde van onder andere ’n skaap en ’n skilpad met die langste nek wat Leah nog ooit gesien het.

Die aand se groot plesierigheid in die “nuwe” Apollo Teater met onder andere Elzabé Zietsman op die verhoog, kon nie beter afgeloop het nie.

Marietjie sê mense wat voorheen onseker was oor waar Victoria-Wes geleë is, gaan nou weet – dis die plek waar die Apollo Teater is.

Contessa se boodskap aan ander dorpies is om nooit op te hou droom nie. “Soms, as jy dit die minste verwag, kom daar die grootste blessing.”

Marietjie ondersteun haar heelhartig. “As jy ’n droom het, spring in. Dis haalbaar binne vier weke, glo my!”

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.