Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

"Lottoland help ’n dorp": Dis weer mooi in "beautiful" Beaufort-Wes waar die mense hande vat – en goeie nuus vir nóg dorpe met drome!

Nuus
08 November 2023
Die projek waarmee Beaufort-Wes die Lottoland-span se hulp ingeroep het, is Voëltjiepark. Lees meer.
Lottoland help 'n dorp

In die vyfde episode van kykNET se werklikheidsreeks waar gemeenskappe gehelp word om nuwe lewe in hul dorp te blaas, was dit die nie-amptelike hoofdorp van die Karoo wat deur die Lottoland help ’n dorp-span besoek is. 

“Ons het begin met klein dorpies se drome want elke klein dorpie se drome word groter dorpe se drome, en dit word weer stede se drome,” het Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland SA oor hierdie inspirerende program gesê.

Sias Reynolds, ’n boorling van die bekoorlike Karoodorp, vertel dat Beaufort-Wes ryk is aan geskiedenis.

Nie net het dit die oudste munisipaliteit in die land nie, maar ook die 200-jarige NG Moedergemeente wat een van die oudste kerke is. En een van die dorp se bekendste seuns is natuurlik die hartpionier, Chris Barnard. Daar is ook ’n museum op die dorp aan hom toegewy.

“Dis ook die dorp waar jy die verste sonder ’n [bank]kaart of kredietkaart kan kom, want almal ken almal.”

“Hier is nie geld nie. Hier is nié geld nie. Die ander probleem wat ek het met die dorpsmense is dat ons te veel nog kyk na ’n burgermeester, ’n raadslid, ’n munisipaliteit. Hulle houding moet verander, want in my lewe het ek al gesien if you want it to be, you have to start with yourself,” is hoe Wendy Anthonie, skrywer en dramaturg, die pad vorentoe sien.

Die projek waarmee Beaufort-Wes die Lottoland-span se hulp ingeroep het, is Voëltjiepark, ’n park in die middel van die dorp. Sias onthou as kind hoe daar ’n groot voëlhok met ’n verskeidenheid voëls in dié parkie was. Vandaar natuurlik die naam. Weldra het daar ’n treintjie ook sy verskyning in die park gemaak.

“Dit is so uniek aan Beaufort-Wes se ekonomiese omgewing waar ons in die verlede ’n treinspoor gehad het en ’n spoorwegdorp was,” het Sias oor die dorp uitgewei. 

Die huidige burgermeester het Voëltjiepark ’n burgermeestersprojek gemaak om dit weer netjies te maak. Selfs die treintjie het weer aandag begin kry.

Leah se oë het behoorlik begin flonker oor die treintjie en dat daar markte vir die parkie beoog word.

Een van Sias se wense was vir ’n ordentlike, maar deursigtige, omheining sodat daar weer goed kan gebeur in die parkie om fondse in te samel vir die dorp en die gemeenskap. Daarom moet die parkie mooi en uitnodigend wees om ook besoekers te lok.

Die huidige verval van die parkie is hoofsaaklik te wyte aan gebrekkige onderhoud en ’n tekort aan fondse. Vandalisme speel ook ’n rol, daarom is die omheining van die parkie ’n prioriteit.

“My hoop is dat my kinders eendag terugkom na die dorp en hier kom bly... ek dink dit moet die hoop wees van enige mens wat in ’n klein dorpie woon,” is Sias se wens. “Hier kan jy nog met jou fiets skool toe ry, waar anders kan jy dit nog doen?”

Leah het weer met daardie bekende groen koevert goeie nuus gedeel: Lottoland help ’n dorp het R360 000 geskenk vir die opknapping en verbetering van Voëltjiepark! 

“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek het gedink ons is in die eerste ronde van die kompetisie en ek het gedink ons gaan dit dálk maak as ons gelukkig is. En skielik het ons hierdie geld... Nou moet ons aan die werk spring en die geld maak tel,” het ’n dankbare Sias laat hoor.

Leah self kon nie haar opgewondenheid oor die projek, en veral die treintjie, beteuel nie. Dis iets wat haar na haar kinderjare terugvoer, het sy gesê.

Vier weke later

Met die intrapslag op Beaufort-Wes het Leah nie die “kleur en die kermis- en die basaargevoel gekry” waarvoor sy gehoop het nie. Boonop was daar nog soveel werk wat afgehandel moes word: verfwerk, installering van toilette en die omheining was nog ver van klaar.

Soos altyd, was Leah oorgehaal om in te spring en te help. Maar hierdie keer was daar ’n groot versoek in ruil vir haar handewerk – ’n rit op die treintjie...

Tot haar groot verbasing het daar opeens tientalle mense opgedaag om te kom help – oud, jonk, mense van binne en buite die dorp. Een vrou het selfs van Somerset-Oos deurgery om te kom help met verf en afskuur. Van die besighede op die dorp het hulle personeel gestuur. Om die kroon te span, het selfs van Leah se familie met sakke vol plante opgedaag.

Daar was ook ’n man wat die treintjie verniet reggemaak het.

“Dis ongelooflik,” was al wat Sias tussen al die gewoel en werskaf kon inpas.

“Ons parkie word weer, as ’n mens dit so kan sê, hergebore,” het Abé Appies, ’n Happy Hearts-sokkerlegende en plaaslike inwoner gesê.

“Dis die hart van die Karoo en as daar ’n hoofstad van die Karoo was, sou dit Beaufort-Wes gewees het,” was skrywer Rod Baumeister opinie. 

Melony de Jager, eienaar van Teri-Lemveli Lodge, het beaam dat Beaufort-Wes oorwegend ’n “deurry-dorp” is, maar dat die dorp soveel bied. “En vandag is ’n blye dag want ons parkie word weer mooi gemaak.”

“Ek kan onthou as ons hier verby gery het Kaap toe, het ons altyd hier gestop en die verskillende voëltjies en skilpaaie gekyk,” het Rosaline Catherine Thusi, nou ’n inwoner van die dorp, gesê.

“Waar jy ookal bly, dit maak nie saak wie jy is nie – ons is almal soos ’n groot familie hier in Beaufort-Wes,” het Carvin Johnson, nog ’n Happy Hearts-sokkerlegende en inwoner laat hoor. “Die een vat die ander een se hand.”

Jan Oliphant was vanaf 1990-1999 die drywer van die treintjie. Hy wil weer baie graag deel wees van die park en om te help dat dit in volle glorie te herstel. “Dit is my verlange.”

Tussen al die woelinge deur, het Leah se glimlag al hoe breër geraak. Sy het die gevoel begin kry waarvoor sy met haar aankoms vroeër gehoop het.

Ebeneazer Francois Botha, die uitvoerende burgermeester van Beaufort-Wes, het Voëlpark amptelik geopen. Hy het die opknapping as ’n baie mooi gebaar beskryf omdat hy gesien het hoe die mense as ’n gemeenskap saamgestaan het om die parkie weer vir die gemeenskap, en veral die kinders, op te knap.

En Leah? Omring deur opgewonde kinderogies en ballonne met ’n feestelike gevoel in die lug, het haar wens ook waar geword toe sy op die treintjie deur die parkie kon ry. “Ek voel sommer weer soos ’n kind!”

Met groet-tyd het Sias ’n boodskap aan Beaufort-Wes gehad.

“Ons kán. Ons kan enigiets bereik wat ons wil. Jy moet net bereid wees om oor te gaan tot aksie. Begin klein. Moenie net by jou huis sit nie. En as jy by jou huis wíl sit, skoffel net ten minste voor jou eie deur. Ons moet ons dorpe en publieke areas terugvat!” 

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2!

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp.

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi.

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.