Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

"Lottoland help ’n dorp": ’n Helpende hand vir Philippolis, die Vrystaatse dorpie waar die noordewind deur murg en been sny + skryf jou dorp nou in!

Nuus
15 November 2023
“As dit hier kan werk, kan dit enige plek werk!” Vind uit in episode ses van die program watter veranderinge is aan Philippolis gebring.
Lottoland help 'n dorp

“Dis die lekkerste ding om ’n bietjie hoop te kan gee vir die mense en hul dorpe...”

Só sê Leah, die bekende sangeres en aanbieder van Lottoland help ’n dorp, tydens die sesde episode van dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks. En natuurlik is dit ook lekker as die dorp se pragtige geboue en mooi huisies jou hart steel...

“Hier is rêrig iets spesiaal aan dié dorpie,” meen Leah nadat sy vir die eerste keer Philippolis besoek het.

“Philippolis is in die Vals Karoo,” het prof. Doreen Aitken van die Philippolis 200-komitee verduidelik. “Dit het die ekosisteem van die Karoo, maar as dit reën is daar baie gras – dan lyk ons soos die Vrystaat.”

En, terloops, vertel sy vir Leah dat sy dankbaar moet wees dis die noordewind wat waai. Dis die suidewind wat jou nog meer gaan laat bibber...

Philippolis is die oudste nedersetting in die Vrystaat en dateer terug na 1823. En geskiedenis is daar baie.

Soos dié van Emily Hobhouse, die Britse oorlogaktivis en pasifis. Sy het in Junie 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog ’n massa-optog in Londen gehou waartydens vroue teen die optrede van die Britse weermag in Suid-Afrika betoog het. Daarna het sy in Desember dieselfde jaar na Suid-Afrika gekom en sou onder meer hulp aan verskeie konsentrasiekampe in die land gebring het. 

In 1905 het sy die eerste weefskool in die land in Philippolis tot stand gebring.

“Dit was die heel eerste sekulêre projek in die wêreld,” het Doreen verduidelik.

Die bekende skrywer sir Laurens van der Post, aktrise Brümilda van Rensburg en Springbok-rugbyspeler Adriaan Strauss het ook hier hul eerste asemteug gegee.

Eers was daar die San, en later die Griekwas bygekom waar Philippolis 40 jaar lank as die sentrale punt van die Vrystaat se Griekwastaat onder Adam Kok II gedien het. Na 1800 het dit meer ’n Afrikaanse boeredorp geword.

En Myntjies Louw, Griekwa Huis-verteenwoordiger, verduidelik dat die Griekwa Huis ’n stam is wat uit die Khoi en die San voortgespruit het.

“Die mense van Philippolis is awesome,” vertel dr. James Liddell, voorsitter van die Philippolis 200-komitee. “Ons is gemotiveerd om saam te staan en dinge mooi te maak vir almal.”

Doreen het op haar beurt vir Leah die “klein kanonnetjies” gaan wys wat dekades reeds op die koppie wagstaan. Dit is in 1840 deur koningin Victoria aan die Griekwas geskenk. Leah het nie gedink die kanonne is klein nie...

Verder was die tuine in van die strate deel van die Boereoorlog. ’n Boerekommando onder aanvoering van Gideon Scheepers het Philippolis in Oktober 1909 aangeval om dit van die Engelse te bevry.

Doreen vertel dat daar vandag nog patroondoppies in die tuine opgetel word, asook hoefysters en ou lepels.

Die dennebome is erfenisbome, maar hulle raak nou te groot en gevaarlik.

Ben Swanepoel, ook ’n lid van die Philippolis 200-komitee, verduidelik die gevaar lê daarin dat die bome se wortels baie vlak sit. Enige sterk wind hou die risiko in dat die bome omgewaai kan word. 

“Ons kan nie die bome uithaal nie, maar ons kan hulle kleiner maak en die takke korter saag.”

Dan is daar ’n heining (om te keer dat vee in die pad loop) en die opvul van slaggate op hul lysie.

Bergmanshoogte Laerskool het ook hulp nodig. Rodney Engelbrecht, die plaaslike skoolhoof, se wens was vir gordyne vir die skoolsaal, ’n klankstelsel en uitrustings vir die skool se trompoppies.

“Ons het begin met ’n boekverkoping en ons kry [skenkings van] ou boeke by die mense”, het James aan Lea verduidelik. Daarna word die boeke vir R10-R20 van die hand gesit.

Lina Kapp, ’n kunstenaar by Oom Japie se Trommel en Philippolis-inwoner die afgelope twee jaar, is summier deur Doreen nader getrek om te help met die boekprojek. Lina sê sy het nooit besef hoeveel honderde boeke daar gaan wees nie!

“Daar is geld as ’n mens net al die kleingeld bymekaar sit,” is Doreen se leuse. Maar van kleingeld was daar geen sprake toe Leah haar met die groen koevertjie verras het nie. ’n Verdwaasde Doreen kon nie glo wat sy gelees het nie: R490 000.

Sy het skoon die bewerasie gekry en was nie seker of sy al die nulle reg rangskik het nie...

“Eerste was daar verligting en blydskap. Die volgende oomblik was: Sjoe! Hier lê baie werk voor!”

“Prys die Heer,” het ’n bewoë Ben uitgekry terwyl hy met sy groot hande trane weggevee het.

Vier weke later

Leah en die Lottoland-span kon reeds met hul aankoms kon reeds sien dat die slaggate mooi opgevul is en dat die dennebome netjies lyk. En in geheel het die dorp sommer mooi gelyk met verfwerk en netjies wees. 

“Ons komitee van agt en sowat 30 mense van die dorp het skouer aan die wiel gesit,” het Doreen vertel oor wat in die vier weke gebeur het sedert Leah daardie koevertjie oorhandig het. 

Doreen vertel hulle het besef die strate het aansienlik meer werk nodig en het toe summier ’n lootjietrekkery gehou. Daardeur is meer as R12 000 ingewin wat ’n welkome hupstoot was.

Altesaam 32 dennebome is gesnoei en nou herinner dit vir Doreen aan ’n katedraal.

’n Mini-tornado het die dorp ’n tydjie gelede getref en skade aan die brug veroorsaak met bome wat op die relings geval en dit gebuig het. Ben vertel iemand het van sy plaas gekom met sy trekker, sleepwa, sweismasjien en kragopwekker – en ongelooflik! – binne ’n dag was dit uitsorteer. Die volgende dag moes net die verfwerk afgehandel word.

Ben vertel ook dat “twee professionele manne”, Rooikat Johannes en Meintjies Louw, die omheining getakel het. Vyf dae later en die draad is al te netjies gespan. Ook die geskiedkundige kruithuis het ’n welkome laag verf gekry, ongeag die sterk wind wat by tye gedreig het om die verwers van die dak af te waai.

Die R717 na Trompsburg en die Oranjerivier is ook herstel.

Anita Muller, ’n onderwyseres aan Bergmanshoogte Laerskool, het op haar beurt die trompoppies onder hande geneem en die oulikste passies geleer.

Die kunstenaar Marilyn du Preez het sonder huiwering haar pienk handskoene aangetrek en gehelp skoonmaak – van die rivier tot die strate.

En die klein parmant, Luan Olivier, het nie gehuiwer om mense aan te moedig om ook te help skoonmaak nie, want vir hom was die dorp net te vuil. “Ons het julle almal se hulp nodig om te kom skoonmaak sodat ons kan huis toe gaan,” het hy baie kordaat aangekondig.

Hy het vir Leah vertel dat hy so tussendeur ook baie opgewonde is oor sy komende verjaardag. Maar toe Leah hom vertel dat Philippolis ook verjaar (op 7 Oktober) en ’n volle 200 jaar oud is, was hy heeltemal uit die veld geslaan.

James kon nie trotser op Philippolis se inwoners wees nie. “Die dorp het hard gewerk en dit het saam gekom. Daar was so ’n kettingreaksie gewees.”

Sansi Pottas, ook ’n plaaslike onderwyseres, het gesê die mense op die dorp het besef hulle moet saam werk om saam nuwe hoogtes te kan bereik. 

Juliette Whelpton van die Karoo Artist’s Café (die eerste skool in die dorp in 1830’s) en Starry Night Karoo Cottages, was vir twee maande weg van die dorp. Sy sê sy kon haar eie oë nie glo toe sy teruggekeer het nie. En met goeie rede – Philippolis lyk so spoggerig soos ’n splinternuwe sikspens. 

Raadslid Louise Reals glo dat as die breër Philippolis-gemeenskap kan saamwerk soos die inwoners van die dorp, dit nie lank gaan neem voordat dit die mooiste dorp ooit sal wees nie.

Doreen het ook ’n boodskap aan ander dorpe: “As dit hier kan werk, kan dit enige plek werk!” En sy glo dat die lente en Lottoland help ’n dorp die energie gebring het om Philippolis die momentum te gee waarmee verandering teweeg gebring kon word. 

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2!

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp.

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi.

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.