Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

kykNET bring splinternuwe vermaak in Julie!

Nuus
26 Junie 2020
Daar is soveel waarna kykers kan uitsien in Julie, dat dit moeilik is om te besluit waar om te begin ...
Spoorloos Twitter Post 1500x500

Dalk kan ons begin met die groot nuus dat die immergewilde Spoorloos terugkom na die kykNET-skerms vir ’n tweede seisoen!

Hierdie nuwe seisoen sal bekend staan as Spoorloos: Heksejag en die rolverdeling is splinternuut met klomp nuwe, jonger akteurs.  En ons is oortuig dat kykers en die publiek sommer baie gou weer verlief sal raak op hierdie reeks wat die vermoë het om met mens se kop te smokkel ... Wie was dit? En hoekom sal dit gebeur? Spoorloos: Heksejag begin Dinsdag 14 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Maar dis nie al waaroor kykers gaande sal wees nie ...

Nataniël en sy broer, Erik, is terug op die kassie en gaan weer soos oudergewoonte vir ons wys hoe mens die lewe kan opkikker met die beste resepte en stories. Die Nantes-Kookboek met Nataniël en Erik gaan ons behoorlik laat smul aan al hulle lekker geregte vanaf dit Maandag 6 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin.

Vanaf Dinsdag 7 Julie om 17:30 verwelkom ons vir Anzél Rabie met die program, Anzél in die Boland, op kykNET, DStv-kanaal 144. Kom kuier saam met haar en ‘n paar bekende gesigte in die hartjie van die Kaapse wynlande. Dis kos, wingerd en kultuur alles in een program.

Die joernalis, Susan Booyens, begin op Donderdag 16 Julie om 20:00 ’n splinternuwe dokumentêre reeks, Pelgrims, waar sy kyk na verskillende godsdienste en maniere hoe mens glo.

Gerrie Pretorius laat ons terug hunker na wonderlike reise in Leef jou Reis, vanaf Saterdag 4 Julie om 19:30 en Rian van Heerden is terug met ’n splinternuwe seisoen van Liefde Sonder Grense waarin mens opnuut besef dat die liefde nie gekeer kan word nie. Selfs nie eers tydens ’n pandemie nie ... Wees ingeskakel vanaf Donderdag 16 Julie om 20:30 weekliks op kykNET, DStv-kanaal 144.

Die manewales en drama op Kwarantyn laat kykers behoorlik gons en skater soos hul regstreeks #SpanScheepers en #SpanLeRoux dop hou op die opwip-kanaal, Kwarantyn, DStv-kanaal 149.

Jan Braai vir Erfenis kyk terug na heerlike gesellige oomblikke van die afgelope dekade vanaf Saterdag 4 Julie om 18:30 en komediant, Schalk Bezuidenhout, is terug om ons bietjie te laat lag tydens die moeilike tye met sy Die Ware Naarheid met Schalk Bezuidenhout. Sy gaste en korrespondente gaan ook sorg vir lekker lagbuie wanneer dié satiriese nuusprogram Maandag 6 Julie om 20:30 afskop.

Geliefde nuusleser en aanbieder van Met ’n Huppel in die Stap, Riaan Cruywagen, is ook terug vanaf Woensdag 1 Julie om 17:30 soos hy onder meer kyk na afree-oorde in grendeltyd en seniors se betrokkenheid in hul gemeenskap. Johan Badenhorst en sy seuns is ook stewig in die saal op Voetspore: Indië wat vanaf Sondag 26 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, begin wys.

Groot nuus is dat Koortjies met Jonathan Rubain amptelik ’n uurlange program op kykNET & kie, DStv-kanaal 145 word! Sy gaste kom inspireer nóg soos tevore en daar is selfs meer koortjies! Koortjies met Jonathan Rubain sal dus vanaf 5 Julie 2020 vir ‘n uur op kykNET&kie, DStv-kanaal 145, uitsaai.

Daar is ook talle bekroonde en immergewilde reekse wat in Julie op kykNET&kie begin speel. Willie Esterhuizen se Ouboet en Wors sal vanaf Saterdag 4 Julie om 19:30 bietjie die lagspiere aan die werk sit en Jak de Priester reis met bekendes om hul grootwordjare te herontdek op Reis na Gister vanaf Dinsdag 7 Julie om 21:00 op kykNET&kie.

Die Siener met die heldersiende, Gerald Burger, sal kykers behoorlik verras soos hy lesings in die toekoms lewer en mense met verskillende kwessies help. Dit sal elke Dinsdag om 21:30 wys en Tydelik Terminaal, wat die storie vertel van ’n twee-en-twintig jarige honneursstudent, Kittie Claassen ná sy met kanker gediagnoseer word, begin Dinsdag 28 Julie om 20:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145.

Boonop bied kykNET NOU! op DStv-kanaal 146 weer grootskaalse konserte van gewilde plaaslike kunstenaars soos Kurt Darren en Nicholis Louw. Daarby hou kykNET Lekker, DStv-kanaal 148, kykers ook vasgenael aan goeie programme uit die kykNET vermaakskluis.

Voorwaar onoortreflike vermaak van die kykNET-kanale wat sal verseker dat kykers in Julie langer en lekkerder voor die kassie inskuif.