Logo
web uni tv guide

Jan Braai Vir Erfenis

144KookprogramPG

Nuwe reeks deel jare se kennis – Jan Braai vir Erfenis 11

Nuus
01 Julie 2021
Die eerste van die 26 episodes van die nuwe seisoen van Jan Braai vir Erfenis begin op Saterdag 3 Julie 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Showpage Billboard 1600x800 Launch

Jan Braai vir Erfenis is soos braaibroodjies: Mense kry net nooit genoeg daarvan nie,” sê Jan Braai oor sy immergewilde program, wat al sedert 2011 deel van die kykNET-familie is.

Vir die nuwe reeks, wat op Saterdag 3 Julie 18:30 begin, het Jan en sy span op Matjiesvlei in die Klein-Karoo gaan woon en alles van bees, lam en hoender tot vrugte en groente en selfs slaai gebraai.

“Ons braai volledig deur al die karkasse en snitte,” sê hy. “Ek gaan jou leer van alle braaigereedskap en -tegnieke en ons gaan kyk na hoe daar rondom die wêreld op vuur kos gemaak word. Vir tien jaar lank het ek en my span dwarsoor Suider-Afrika gereis, gebraai en geleer. In hierdie elfde seisoen gaan ek kykers alles vertel wat ek weet en tot dusver geleer het.”

’n Persoonlike hoogtepunt was die opnames op sy familie se vakansieplaas in die Klein-Karoo.

“My hoogste hoogtepunt is om ons familie se vakansieplaas in die pragtige Matjiesvlei, ‘n skilderagtige kloof in die Swartberge naby Calitzdorp, met kykers te deel. Dan ook die bevrediging om te kan fokus op die gehalte van die produksie, want met die pandemie reis mens minder. Ons kon dus regtig aandag gee aan elke klein detail van die produksie omdat ons nie so lank soos gewoonlik op die pad was nie. Nog ‘n hoogtepunt is natuurlik om al die lekker kos te eet wat ons braai.”

Wat is volgens hom die vyf dinge wat jy altyd by ’n braaivleisvuur nodig het?
“Genoeg hout. As jy wonder of daar genoeg hout is, is daar te min. ’n Paar lekker mense, vriende en familie. Gemaklike plek om te sit, wind-op van die vuur, anders waai die rook in jou gesig. Yskoue drankies en ys om dit koud te hou. Een of meer Jan Braai-boeke sodat die kos wat jy braai, baie lekker is.”

Volgens hom is Suid-Afrikaners sonder twyfel die beste braaiers in die wêreld.
“Veral Jan Braai vir Erfenis-kykers. Ek is redelik seker die gemiddelde Jan Braai-kyker is ’n beter braaier as sy eweknie op enige ander plek. Dit gaan oor ondervinding en ook die nimmereindigende leerproses. Die res van die wêreld begin terugkeer na kosmaak op regte houtvure. In Suid-Afrika het ons nooit opgehou nie.”

Die eerste van die 26 episodes van die nuwe seisoen van Jan Braai vir Erfenis begin op Saterdag 3 Julie 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).