Logo
web uni tv guide

Jan Braai Vir Erfenis

144KookprogramPG

Jan Braai: 12 wenke vir ’n suksesvolle braai – Jan Braai vir Erfenis

Nuus
24 September 2022
Genoeg ys is ’n moet vir jou braai. Jan Braai gee nog moets en moenies vir 'n suksesvolle braai op Erfenisdag.
jan braai

24 September is Erfenisdag en daarmee saam Braaidag, die dag waarop Suid-Afrikaners in elke uithoek van die wêreld iets op die kole gaan gooi. Jan Braai gee sy wenke om ’n sukses van jou braai te maak.

 

  1. Daar is niks beter as ’n regte houtvuur nie.
  2. Braai is die enigste vet-negatiewe manier om kos gaar te maak. Selfs kos wat jy met soom gaarmaak, behou sy vet. Wanneer jy braai, drup die vet uit. Leef gesond en braai eerder. 
  3. Braai is die regstreekse gebruik van energie van die kole na jou vleis. Wanneer jy elektrisiteit vir gaarmaak gebruik, dis nou wanneer die krag aan is, gaan daar energie verlore tussen die kragstasie, die kragdrade, die boks, die huis se bedrading, die stoof en die pan. As jy die aarde liefhet, braai.
  4. Genoeg ys is ’n moet vir jou braai. Gebruik dit vir mengeldrankies, om bier koud te hou en om brandwonde mee af te koel.
  5. Diere eet hulle lewens lank gras, blare en groente en skakel dit dan om in vleis. Om vleis te eet, is soos om vitamienpille te sluk. 
  6. ’n Bees hoef net een keer dood te gaan. Moenie jou steak se smaak dood braai nie.
  7. ’n Braaibroodjie is jou kans in die lewe om jou brood aan albei kante gebotter te hê. Gebruik dit.
  8. As jy enigsins twyfel of jou vuur groot genoeg is, dan moet jy weet hy is te klein.
  9. Arm en ryk mense braai almal met hout. Dit is die groot gelykmaker.
  10. As jy dink dit is tyd om die vleis van die vuur te haal, haal dit af. Dis heel waarskynlik reeds gaar en besig om uit te droog. 
  11. Die vuur wat jy maak wanneer jy klaar gebraai het, noem ons ’n atmosvuur.
  12. Die lewe is te kort om in ’n geskil met aartappels betrokke te raak. Eet hulle net so met die skil.

Skakel Saterdae om 19:30 in vir Jan Braai vir Erfenis op kykNET (DStv-kanaal 144). Jy kan die reeks ook stroom op Catch Up.