Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

kykNET bring top vermaak in April

Nuus
01 April 2022
Liefde, reis, drama, kos, koffie en lekker lag – woorde wat al sinoniem is met die tipe kykgenot wat kykNET aan kykers bied. April se nuwe programme bied hierdie en vele meer.  
Homepage Billboard 1600x800

Dankie Lottoland 4

Dankie, Lottoland is terug vir ’n vierde seisoen met bekendes soos die legendariese Riaan Cruywagen, Nadia Beukes en Brümilda van Rensburg wat moue oprol en hulpbehoewende individue en liefdadigheidsorganisasies help. Dié inspirerende reeks gaan die kollig op 13 instansies of mense wat in nood is, plaas en hulle ondersteun met skenkings, hulpbronne en blootstelling.

Dankie, Lottoland begin Saterdag 2 April om 18:00. 

Glam Guru 

Die gewilde skoonheid- en modeghoeroe Hannon Bothma is terug vir die 22ste seisoen van Glam Guru. Soos tevore gaan Hannon praktiese raad gee, en in die nuwe seisoen word hy bygestaan deur Julius Swart in die velsorgsegment terwyl Robyn Poole grimeer tegnieke gaan demonstreer. Die program spog met ’n nuwe vars voorkoms nadat die stel ook ’n oormaaksessie ondergaan het.

Glam Guru begin Sondag 3 April om 17:30.

Waarheid met Max

Die afgelope paar jaar is Suid-Afrika geruk deur opspraakwekkende stories deur deurwinterde joernaliste wat korrupsie, onderduimse onderhandelings, enorme rykdom, fluitjieblasers en rampokkers nie net in die media oopgeskryf het nie, maar ook in topverkoper-boeke.

In die nuwe reeks Waarheid met Max lê Max du Preez – vanaf Sondag 3 April 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) – besoek af by vyf ondersoekende joernaliste en een fluitblaser vir gesprekke rondom onder meer staatskaping en misdaad in Suid-Afrika.

Waarheid met Max begin Sondag 3 April om 20:00.

Poena

In 2007 het ons die eerste keer vir Poena Pieterse ontmoet in die ikoniese fliek Poena is koning. In 2020 was hy weer op ons skerms in die TV-fliek Poena, en in 2021 in die TV-fliek Poena en Poenie. Weens die groot sukses van hierdie TV-fliek is daar besluit om vir Poena sy eie reeks van 13 episodes te gee – Poena  word vanaf Maandag 4 April 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Poena begin Maandag 4 April 20:00.

Fiësta

Fiësta keer terug vir die 23ste seisoen. Die aanbieders is Frazer Barry, Viljé Maritz, Lundi Khoisan en Franci Swanepoel en met twee jaar se stilte, is die feeste terug! Van die eerste feeste in hierdie nuwe seisoen wat die Fiësta-span op gaan fokus sluit in Proe’toria, Stilbaai Boekefees, Wakkerstroom Musiekfees, Silwerskermfees, kykNET Buite-ekspo, KKNK en Lekkerland Karnaval.

Fiësta begin Maandag 4 April om 20:30.

Tiaan Proe

Jy ken hom as een van die Kokkedoor-wenners, TV-sjef én aanbieder – en nou is Tiaan Langenegger terug op die kassie om jou weer opgewonde te maak oor kosmaak in kykNET se nuwe kookprogram, Tiaan Proe.

Die eerste seisoen van Tiaan Proe skop in April af waar Tiaan huiskos, familie, lekker tye en al die nostalgiese kosherinneringe wat daaraan verbind is, herleef op skerm.

Tiaan Proe begin Dinsdag 5 April om 21:00.

Welvaartskeppers

In die nuwe finansiële reeks, Welvaartskeppers, gaan die broers PJ en Geo Botha deur die land reis en in diepte kyk na al die moontlike strategieë oor hoe mense welvaart vir hulleself kan skep. Hulle gaan met top-entrepreneurs in verskillende velde praat en kykers vertel van die kritiese besluite wat hulle self moes neem om bo uit te kom.

Welvaartskeppers begin Donderdag 7 April 17:30.

La’t Wiel

Die manne van La’t Wiel is terug vir ‘n splinternuwe seisoen van Suid-Afrika se gunsteling motor TV-program. Die aanbieders, Waldo de Waal en Hannes Vissers, gaan oudergewoonte vir kykers die nuutste in die motorwêreld wys, ‘n paar motors toetsbestuur en ‘n paar ongewone plekke besoek.

La’t Wiel begin Vrydag 8 April 21:00.

Net koffie

Die unieke verhouding tussen koffie en vulkane word in die derde seisoen van Net Koffie ondersoek. El Salvador, Henriëtte se bestemming in hierdie reeks, is geen gewone teelaarde vir koffie nie, maar speel tog ’n kernrol in die land se bestaan.

Net Koffie begin op Sondag 10 April om 17:00.

Op my eish!

Gaan die sjarmante Francois Jacobs liefde in die nuwe seisoen van Op my eish! vind? Net soos in die eerste seisoen van Op my eish! kan kykers na heelwat drama en intrige deur die loop van die reeks uitsien. Van gebroke harte en beserings tot onverwagse bekendstellings en skokonthullings – vir beter realiteit-televisie kon kykers nie gevra het nie!

Op my eish!  begin Donderdag 14 April 20:00.

Anzél in die Boland

Van die wynstreke wat Anzél en die span in die nuwe seisoen van Anzél in die Boland gaan besoek, sluit in Durbanville, Elgin, Hemel en Aarde en Constantia. “Ons is opgewonde om te wys dat die Boland se grense verder strek as wat mens dink,” sê sy. Van die gaste op die program is die skrywer Irma Joubert, die Springbokrugbyspeler Pieter-Steph du Toit en sy familie in die Swartland, die sangeres Amy Jones en die bekroonde fotograaf Daniël Naudé.

Anzél in die Boland begin op 21 April om 21:00.

In die Sop

Die glanssjef, Bertus Basson, dek binnekort die tafel vir die tweede seisoen van die gewilde restaurant-oormaakreeks, In die Sop, wat van Woensdag 27 April op die kykNET-spyskaart is. Bertus spring weer in om ander restaurante te help om te vernuwe en uitblinkers te word. Soos tevore gaan daar in elke episode gewys word hoe ’n eetplek in drie dae ’n transformasie ondergaan.

In die Sop begin Woensdag 27 April om 20:00.

Storiefilms terug op kykNET vanaf April

Kykers kan vanaf April na kykNET Storiefilms elke Saterdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsien. Van die Storiefilms sal wel nog op fliekNET (DStv-kanaal 149) uitgesaai word.

Die kykNET Storiefilm-projek is aan die einde van 2019 geloods met die doel om die fliekaanbod op die kanaal uit te brei en om werksgeleenthede in die plaaslike filmindustrie tydens die Covid-19 pandemie te skep. Die inhoud was gewild by kykers en het daartoe gelei dat die projek uitgebrei het om nie net nuwe werksgeleenthede te skep nie, maar om ook nuwe stemme in die film- en TV-industrie te identifiseer.

Hier is die kykNET Storiefilms wat in April wys:

Ken jy my nou

Saterdag 2 April 20:00

Regisseur: Francois Nolte

Met Leandie du Randt, Gavin van den Berg en Tiaan Kelderman

Ashley, die vervaardiger van ‘n tweede-rangse televisiereeks Hartkwale, ry op pad werk toe ‘n hawelose man, Anton, om. Om gevolge te vermy, neem sy hom onder haar vlerk en bied vir hom ‘n klein rolletjie aan. Anton het egter ‘n verrassende verlede wat ‘n impak gaan hê op Ashley en die Hartkwale-span se lewens.

Sak & Pak

Saterdag 9 April 20:00

Regisseur: Johannes Pieter Nel

Met Marco Spaumer en Je-ani Swiegelaar

‘n Groep vriende is op pad na ‘n lang verwagte vakansie. Die vensters is op knip, die cooler boks is gereed en die geselskap is vuurwarm. Ongelukkig het Betsie, ‘n broodblik van ‘n kombi ander planne. Wanneer Jan-tuisbly se karretjie wink vind hulle gou uit dat Bestie nie die enigste een is met ‘n kwaal nie.

Elsa en Magriet op skou

Saterdag 16 April 20:00

Regisseur: André Velts

Met Rina Nienaber en Woutrine Theron

Susters Elsa en Magriet kan mekaar nie verdra nie. Hulle sit die huis (waarin hulle saamwoon) op die mark – permanent – om die geselskap van nuwe mense te geniet. Maar dinge ruk handuit wanneer Barney, die eiendomsagent “verdwyn”…

Dolla

Saterdag 23 April 20:00        

Regisseur: Ingrid Paulus

Met Robyn Rossouw en Hildegardt Whites

Dolla se grootste droom is om ‘n skoonheidskoningin te wees. Wanneer sy uitvind sy is ‘n finalis in ‘n skoonheid-kompetisie gaan haar ma, Mel, uit haar pad uit om haar dogter te help wen. Mel se vriendin, Ma’Thembi, spring ook in en moet uiteindelik Mel se skoene probeer volstaan wanneer haar gesondheid begin agteruitgaan.

‘n Snuf in die neus

Saterdag 30 April 20:00

Regisseur: JC Snooke

Met Ryno Hattingh, Jurgen Hellberg, Isabella Mostert, Matie van Graan, Pascual Wakefield

'n Afgetrede speurder en sy sidekick beste vriend is by hulle ouetehuis bekend daarvoor dat hulle altyd op die uitkyk vir klaarblyklike onbenullige raaisels is. Wanneer die speurder uitvind dat hy terminaal siek is, draai die klok een laaste keer teen hulle om hulle finale saak op te los.

Bly dus ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en gesels saam op ons Facebook, Twitter én Instagram-blaaie om nie een oomblik se wêreldklas-vermaak mis te loop nie.