Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Oktober hoogtepunte op kykNET

Nuus
30 September 2022
Vind meer uit oor wat hierdie maand voorlê!
RHOP

Die Real Housewives van Pretoria

In ’n eerste vir kykNET én die wêreld, sal die eerste Afrikaanse weergawe van hierdie gewilde realiteitsreeks in Oktober kykers vermaak. Ses vroue van Pretoria het hulle duurste stilleto’s afgestof vir Die Real Housewives van Pretoria en kykers sal deel word van hulle lewens van luukse voertuie, herehuise, buitensporige partytjies en ontwerpersklere.

Die ses vroue wat ’n kykie na hulle gekoesterde lewe gaan gee, is:

Renske Lammerding

Renske is welbekend in Silver Lakes vir haar boetiek in die estate en natuurlik haar man, Heinrich, se welvaart.

Marié Bosman

Marié is ’n onkonvensionele pastoor wat baie uitgesproke is. Sy het ’n vlieglisensie en twee doktorsgrade. Ná haar twee egskeidings het Marié besluit dat sy nooit weer haarself vir enigiemand sal probeer verander nie.

Talana Kuhn

Talana is ’n 27-jarige sakevrou wat die eienaar is van Earth DK en Millennial Marketing. Sy is ook die mamma van ’n driejarige en is tans swanger met haar en haar ouditeurman, Walter, se tweede kind.

Kiki La Coco

Kiki is ’n inhoudskepper op TikTok waarvoor sy allerhande dans- en “lip-sync”-video’s maak. Haar man, die multimiljoenêr Malcolm Wentzel, en hulle huishulp, Thembi Ubisi, het byna 860 000 volgelinge wat hulle manewales dophou.

Mel Viljoen

Mel het haar pad opgewerk vanaf haar dae as plaaskind tot die president van Tammy Taylor Nails Suid-Afrika, een van die mees suksesvolle konsessies in die Suid-Afrikaanse skoonheidsbedryf.

Rhona Erasmus

Rhona is die eienaar van twee ondernemings, Trouvaille Boutique Day Spa en Midstream College Baby House in Midstream Estate, waar sy en haar gesin ook woonagtig is.

Skakel vanaf 13 Oktober 2022 om 20:00 elke Donderdagaand in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir The Real Housewives van Pretoria.

Diepe waters

Diepe waters

Diepe waters, kykNET se splinternuwe telenovella, wentel om die wel en weë van die Swarts-familie en die wêreld in en om ’n kompeterende swemklub, Die Swartmarlyne. In die rolverdeling is bekendes soos Justin Strydom, Sandi Schultz, Nadia Valvekens, Neels van Jaarsveld, Lea Vivier, Werner Coetser en Altus Theart. Verskeie talentvolle jong akteurs maak ook hulle buiging.

Diepe waters begin op 3 Oktober om 18:30 en sal weekliks van Maandae tot Donderdae op lug wees. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

Fraksie

Dinge raak warm in Fraksie in Oktober ...

4 Oktober

Dit is Tim se eerste dag by QPI en hy word van alle kante deur Jack en Henk aangeval. Schalk moet bontstaan om vure dood te slaan, maar Nina help om. Jana maak ’n onverwagse ontdekking.

11 Oktober

Schalk en Nina se vas oor Zac se vakkeuses. Tim is bekommerd dat alles te vinnig beweeg. Jack met besigheid en plesier. Henk sukkel om ’n band met sy seun te vorm.

18 Oktober

Schalk jag ’n walvis en Jack maak droog. Henk is ontsteld wanneer hy uitvind waaroor JP se videos gaan. Tim se skoonma kuier die hele tyd by hulle huis. Jana en Emmy deel ’n spesiale oomblik.

25 Oktober

Tim moet ’n haas uit ’n hoed trek voor QPI se bekendstelling. Schalk maak beloftes van rykdom aan sy kinders. Henk is ontsteld wanneer JP sê hy wil nie verder studeer nie. Jana se wêreld verkrummel.

Nuwe tyd vir Suidooster

Suidooster, wat sedert 2015 op kykNET en kykNET&kie te sien is en onlangs die SAFTA-toekenning as beste sepie gewen het, se tydgleuf op kykNET verander. kykNET se spitskyktydskedule sal van 3 Oktober afskop met Suidooster om 18:00 gevolg deur die nuwe telenovelle Diepe waters om 18:30.

Suidooster is die afgelope jare op beide kanaal 144 en kanaal 145 in dieselfde tydsgleuf, om 18:30, uitgesaai. Met hierdie skuif kry Premium-intekenare ’n groter keuse van Afrikaanse programme om te geniet in elke tydsgleuf op kykNET en kykNET&kie.

Nataniël. Erik. Wolf.

’n Nuwe avontuur met Nataniël en sy broer, Erik le Roux, skop op Sondag 16 Oktober om 20:00 af. In die program is kos, kuns, geskiedenis en skoonheid steeds elemente, maar hierdie keer word ’n wêreld van fantasie ook ontdek. Dit is alles na aanleiding van ’n vergete houer vol illustrasies deur die Franse kunstenaar Gustave Doré wat Nataniël sprokies laat herontdek het.

Nataniël. Erik. Wolf. begin op Sondag 16 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Die groenste vingers

Die tweede seisoen van kykNET se opwindende kompetisieprogram vir bloemiste begin op 26 Oktober om 20:00. Kykers kan uitsien om in 13 episodes deel te wees van 21 uitdagings en 77 nuwe ruikers, rangskikkings en skepping te beleef.

Edrien Erasmus is weer die aanbieder en Leon Kluge en Franz Gräbe keer terug as die beoordelaars. Die reeks is by ’n kwekery in Johannesburg verfilm en die ruikers is na afloop van die verfilming aan liefdadigheidsorganisasies geskenk.

Die groenste vingers begin Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Groen: Kongo-reënwoud

Wat presies is ’n reënwoud? Dit is die vraag wat die legendariese natuurkundige Dave Pepler in Groen: Kongo-reënwoud gaan ondersoek. In die 13 episodes verken Dave Kongo en kyk na wat presies ’n reënwoud is, die rol wat hierdie bedreigde gebiede in die welstan van ons planeet speel en na etlike ander interessante kenmerke.

Groen: Kongo-reënwoud begin Woensdag 5 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

4x4 met André

Kom leef, doen en leer alles oor 4x4 saam met André de Villiers en sy gaste waar hulle van die mooiste en mees unieke plekke in die Bosveld verken. In die eerste episode neem André se avontuur ons tot by die Blouberg in Limpopo en saam met sy gids, Johan Klopper, verken hulel paaie oor stof en klip tot waar groot kremetartbome die aarde laat kreun.

4x4 met André begin op 9 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Troukoors 2

Die tweede seisoen van die gewilde Troukoors gaan kykers Sondagaande om 21:00 vanaf 2 Oktober voor die kassie hou. Troukoors volg die liefde en lewe van drie vriendinne: die troubeplanner Jessica (Ilse-Lee van Niekerk), haar suster Luca (Blyde Smit) wat ’n sagteware-ontwikkelaar is en haar beste vriendin Abi (Bianca Flanders), ’n professionele bakker.

Seisoen twee skop af met Jessica wat en Liam (Christiaan Schoombie) wat steeds ’n paartjie is, Luca wat ’n langafstand-verhouding met Stefan (Evan Hengst) probeer aan die gang hou en Abi wat (vir eers) seks vermy.

Ook in die rolverdeling in die tweede seisoen is Tinarie van Wyk Loots as Jessica se baas, Armand Aucamp as Dawid, haar eks-kêrel, Monique Rockman as Yolandie, ’n kelnerin, en Edwin van der Walt as Theo, een van Liam se vriende. Marlo Minnaar speel die rol van Hugo wat Abi se oog vang en Ilse Klink is haar ma, Patricia. Die talentvolle jong spelers David Viviers, Carla Smith en Kylie Fisher is ook te sien.

Troukoors is op Sondagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Poena, La’t wiel, Hier gaan ons alweer en Oppiestoep maak nog ’n draai

Die gewilde komediereeks Poena, met Robbie Wessels in die naamrol, is terug op die lug vanaf 3 Oktober 20:00, en die span van La’t wiel gaan weer die wiele laat rol in nog ’n seisoen vanaf 6 Oktober 17:30.

In die nuwe seisoen van Hier gaan ons alweer vanaf 1 Oktober 18:00 gaan Petri de Wet wys waar die vis byt en die kletsprogram OppieStoep is terug vanaf Vrydag 7 Oktober 18:30 vir nog ’n kuier en soos gewoonlik sal daar genoeg humor, stories en musiek wees om kykers te vermaak.

Koppieteefontein

Onder die bekendes wat saam met Jak in die tweede seisoen gaan tee drink, is die sangeres Riana Nel, die pianis Charl du Plessis, legendariese akteur en filmmaker Leon Schuster, die Kassie Kuiers-aanbieder Renaldo Schwarp, die ekonoom Dawie Roodt, die komediant Schalk Bezuidenhout, veteraan-omroeper Amoré Bekker en die nuusleser Daniëlla van Heerden.

Koppieteefontein begin op Vrydag 7 Oktober 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

Wanderlus

Volgens die woordeboek is wanderlus ’n sterk, onoorwinlike begeerte om rond te swerf, te reis. Dít is dan ook die perfekte woord om die Bosmans, Hennie en Nicole, te beskryf. Die twee avonturiers vat weer die pad met hulle Toyota Fortuner en van ons land se mooiste en interessantste bestemmings word ontdek.

Seisoen twee skop af met ’n reis na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap. Daar word ook hierdie seisoen besoek afgelê by McGregor, Simonstad, Velddrif, Port St. Johns, Struisbaai, Langebaan, die Tankwa en selfs Namakwaland om net ’n paar te noem. Hulle twee hondekinders, Diesel en Chloe, reis soms saam op van die avonture.

Wanderlus begin op ** Oktober om ** op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

Gaia

Gaia, allerweë beskou as ’n baanbreker-rolprent, het vanjaar vyf toekennings by die Silwerskermfees gewen onder meer as beste rolprent. Jaco Bouwer het die toekenning as beste regisseur gewen. Gaia vertel die verhaal van ’n natuurbewaarder wat op ’n roetine-patrollie in ’n wildernisgebied ’n kluisenaar-pa en sy seun ontmoet. In die rolverdeling is Monique Rockman, Carel Nel, Alex van Dyk en Anthony Oseyemi.

Gaia word op 29 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Devilsdorp

Die land het gegons oor Devilsdorp, die dokumentêre reeks oor die sogenaamde afspraakmoorde in Krugersdorp, wat op Showmax uitgesaai is. Nou kry kykNET-kykers in Oktober die beurt om hierdie opspraakwekkende reeks te kyk. Devilsdorp het onlangs die SAFTA-toekennings as beste dokumentêr gewen en die reeks bestaan uit vier episodes.

Die eerste episode van Devilsdorp word op 3 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

STORIEFILMS

Weerwraak

1 Oktober om 20:00

’n Stuk grond wat nooit ontwikkel moet word nie. ’n Bospad waarop hulle nie durf stap nie. ’n Huis waarvan die deure vir altyd toe moet bly. Sondes van die verlede wat nou wraak soek. Met Viljé Maritz en Desiré Gardener. Regisseur: Jan-Hendrik Burger.

Die dors

8 Oktober om 20:00

Dalyn is ’n gewone man wat in ’n ongewone tyd van groot droogte leef. Soos sy wêreld om hom inmekaar tuimel, besef hy dat sy dors oor soveel meer as net ’n paar druppels water gaan. Met Wynand Ferreira en Bart Fouché. Regisseur: Adin Walls.

Op soek na reënboë

15 Oktober om 20:00

’n Liefdesverhaal wat wys dat liefde enige seerkry kan oorkom en dat dit soos ’n reënboog slegs ná die reën kan verskyn. Met Gerald Steyn, Izel Bezuidenhout en John-Henry Opperman. Regisseur: Stefan Enslin.

Vlamme

22 Oktober om 20:00

Die plaaslike kinderhuis maak opslae wanneer kinders ’n stoorkamer op die perseel aan die brand steek. Wanneer Gerrit, die kinderversorger, probeer uitvind wie daarvoor verantwoordelik was, vind hy meer uit as wat hy verwag het. Met Reginald Hufkie en Sylvester Kalanie. Regisseur: Reginald Hufkie.

kykNET & Kie

Sê jou sê

Die gewilde radio-aanbieder Aden Thomas gaan in Oktober voor die kameras ingeskuif vir die nuwe interaktiewe kletsprogram Sê jou sê en in hierdie program gaan niemand ’n wag voor hulle mond hê nie! Chrislynn Sias gaan Aden as veldaanbieder bystaan.

In die program gaan die soeklig val op dispute, onderonsies, misverstande of beweerde bedrieglikheid tussen paartjies, familielede, geliefdes, vriende en vennote.

Sê jou sê begin op Saterdag 1 Oktober om 19:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145.

Roer

Ná amper ’n dekade word die leefstyl- en kosprogram, Roer, weer opgedis. Die nuwe aanbieder wat Roer gaan opklits, is Alfred Adriaan wat die afgelope paar jaar lag-lag een van Suid-Afrika se topkomediante geraak het. Buiten Alfred wat die aanbiedersrol by Tammy-Anne Fortuin oorneem, bly die Roer-wenresep basies dieselfde as voorheen: ’n bekende persoonlikheid kuier saam met Alfred agter die kospotte, waar hulle kuier, lag en dalk soms ‘n traantjie pik. Alfred verras hulle ook met ’n familielid, geliefde of vriend.

Roer begin Saterdag 1 Oktober om 18:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145.