Logo
Die brug S1 Slim BB

Kom kuier vir Nonnie by die Plaasmol Padstal in Vredenburg! – Die brug

Nuus
08 Desember 2023
"My lewe op 'Die brug' het net dít weerspieel wat my hart se oë raak gesien het."
Plaasmol Padstal

Die brug se geliefde Nonnie wat so diep in kykers se harte gekruip het, het die hele land in trane gehad toe sy Donderdagaand besluit het om huistoe te gaan. Maar Nonnie is nou meer as opgewonde vir dit wat voorlê!

Toe die keuse moet geneem word wie van Nonnie, Iana en Tina moet agterbly en hulself opoffer in episode sewe van Die brug, was dit die 56-jarige Nonnie wat gesê het: “Gaan julle, ek sal agterbly.” Hierdie onselfsugtige daad het haar net méér gewild onder kykers en selfs die ander spelers gemaak.

Nonnie, van Hopefield in die Wes-Kaap wat saam met haar suster die Plaasmol Padstal en -kwekery bedryf, is egter nie een oomblik spyt dat sy deelgeneem het nie en hierdie opoffering gemaak het nie. 

“Ek het met die Nonnie gespeel wat ek op daai stip geken het. Die Nonnie wat gevorm is deur katastrofiese moeilike harde jare. Hierdie lang pad verlede het op Die brug die helder sonskyn hede ontmoet. Dit het ’n mooi prentjie gevorm. ’n Skets in wording. My lewe op Die brug het net dít weerspieel wat my hart se oë raak gesien het,” vertel Nonnie. 

Kykers wat Wes-Kaap toe kom vir die Desember-vakansie is meer as welkom om ’n draai by Nonnie te gaan maak! Plaasmol Padstal en -kwekery is in Hopefield en dan is Nonnie ook elke dag by hulle winkel in Vredenburg-winkelsentrum. Die winkel in Vredenburg het ietsie van alles wat by hulle padstal in Hopefield is.

“My sussie is in beheer van die koffiewinkel en padstal en die kwekery behoort aan my. Ons besighede is baie inmekaargevleg. Dis nie ’n tradisionele kwekery nie. Plante, hokke, diere en tuingoed staan orals asof jy in ’n tuin loop. Ons konsentreer baie om materiaal te herwin, so min goed word weggegooi. Tussen ons twee doen ons ietsie van alles. Jy kan amper sê ons doen ’n allegaartjie van dinge,” vertel Nonnie opgewonde.

Nonnie het van wilde katte, honde en apies tot zebras! “Ons werk die met publiek en ons moedig ’n kuieratmosfeer aan, want mense se reis en stories is belangrik vir ons,” sê Nonnie. 

Vir 2024 wens Nonnie meer van die Here, insig en wysheid. “En ook meer finansies. Sodat ons op die stewige fondasie van die Plaasmol Padstal kan bou en ons meer bekend sal raak as ’n plek van baie inspirasie, baie hoop, baie moed en baie gasvryheid. OK en meer roomys, genoeg koffie en geen loadshedding nie asseblief!” grap Nonnie.

Kry die familie bymekaar en gaan geniet ’n dag by Plaasmol Padstal! Een ding is vir seker, jy gaan beslis met ’n paar wyse woorde van die geliefde Nonnie wegstap.

Die brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Die reeks word uitgesaai op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober om 20:00. Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word en beskikbaar wees op DStv Catch Up ná elke uitsending. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op XInstagramTikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.